DA-steun by Afrikaanse Wes-Kapenaars daal steeds skerp

Mmusi Maimane, leier van die DA.

As die gevaarligte oor die DA se afname in steun by Wes-Kaapse Afrikaanse kiesers nog nie tevore geflikker het nie, kan selfs die mees selfingenome onder die party se provinsiale en nasionale leierskap nou nie meer die skelrooi boodskap van kritiek uit hierdie lojale reservoir DA-stemme miskyk nie.

In twee tussenverkiesings verlede week het die DA se agteruitgang, wat sedert November in ’n al meer verteenwoordigende groep Wes-Kaapse Afrikaanse gebiede voorkom, dramaties voortgeduur, al het die party albei wyke net-net behou.

Die ANC het in die Wes-Kaap beter gevaar te midde van ’n wegblystem deur kiesers wat in 2014 en 2016 DA gestem het, en die EFF se patetiese vertoning in verkiesings in die land se kusprovinsies is nie juis besig om te verbeter nie. Dit steek sleg af teen hul vertonings in binnelandse provinsies.

In Saldanha wyk 3 (White City en ’n deel van die seefront) was die swaai teen die DA 17 persentasiepunte sedert 2016. Me. Charleen van Nooi (DA) het 693 stemme gekry teenoor die ANC se 512, Icosa se 75 stemme en die EFF se 32.

Oudtshoorn wyk 13 omvat ’n deel van die oorwegend bruin woonbuurt Bridgton, en hier was die swaai teen die DA 10 persentasiepunte sedert 2016. Mnr. Marcellis Theyse (DA) het gewen met 986 stemme teen 864 vir die ANC, 77 vir die ACDP en 32 vir die EFF.

DA-bronne meen daar is verskeie redes vir die party se voortgesette Wes-Kaapse agteruitgang. Eerstens gaan stem geharde DA-ondersteuners steeds, wat die DA darem net-net laat wen. Kiesers wat minder sterk voel oor die politiek, en veral sedert 2014 nietemin in groot getalle DA gestem het, bly tuis en voer aan dat hulle afgesit word deur die nydigheid en binnegevegte in die DA, waaronder die veldtog teen mev. Patricia de Lille, voormalige Wes-Kaapse DA-leier en mees prominente Afrikaanse lid van die party. De Lille is ook die mees prominente bruin leier in die party, maar tans voer die DA ’n onverkwiklike stryd teen haar. Kiesers vind dit onaantreklik.

In die ANC se guns in die Wes-Kaap tel die verdwyning van oudpres. Jacob Zuma, wat uiters ongewild by alle definieerbare kiesersmarkte in die Wes-Kaap was.

Daar was ook twee tussenverkiesings in KwaZulu-Natal, waar die IVP sy groei in plattelandse gebiede voortgesit het, en die DA ’n goeie vertoning in sy hartland gelewer het om die Wes-Kaapse teleurstelling bietjie teen te werk.

Die IVP het Nkandla wyk 7 (’n deel van die Nkandla-woud en landelike gebiede daaromheen) met ’n ietwat vergrote meerderheid behou. Mnr. Nkosinathi Khumalo (IVP) het 1 441 stemme gekry teen die ANC se 1 223, die NFP se 34 en die EFF se skamele 4 stemme. Dis ’n swaai van 2 persentasiepunte na die IVP sedert 2016.

Die Ethekwini-metro in Durban se wyk 10 is die rykmansbuurte Kloof, Winston Park en Gillits tussen Pinetown en Pietermaritzburg. Dit is miskien die mees bloubloed DA-gebied in die land – in die munisipale verkiesing van 1995 en 1996, wat absoluut rampspoedig was vir die destydse DP, was die indertydse buite-Westelike substruktuur van Durban (gesetel in Kloof) die enigste munisipale substruktuur in die hele land waar die DP die NP geklop het.

Verlede week het die bekende en charismatiese mnr. Tex Collins van die DA weer so gemaak deur 5 991 stemme te trek teen 324 vir die ANC, 24 vir die EFF en 19 vir die IVP.

Dit verteenwoordig ’n swaai van 3 persentasiepunte na die DA sedert 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
kobus

Die DA gaan baaaie wit mense verloor.ek hoop julle gaan na n party toe wat vir hulle iets doen en dis net die VF+.ek was ook DA maar hulle is uselless

Karel Kraai

Ek bly my lewe lank in die Wes-Kaap. Ek het nog nooit vir die DA gestem nie want ek glo nie dat dié party werklik my belange as Afrikaner op die hart dra nie. Trouens, ek het nie in die laaste algemene verkiesing die moeite gedoen om te stem nie. Ek beoog egter wel om in die komende verkiesing te stem, en om my stem vir die Vryheidsfront te gee. Ek beleef ‘n groeiende gevoel van Afrikaner-eenheid onder my volksgenote, ook hier in die Wes-Kaap. Ek glo dat die VF die enigste party is wat hierdie eenheid- en selfs onafhanklikheidstrewe… Lees meer »

Oujongvrou

Nee maar is reg. Laat die klomp bietjie voel hoe dit gaan wees sonder die DA. Geen dienslewering. Korrupsie in die stadsrade. Daai mooi syfers vir die munisipaliteite wat skoon audits gekry het vlieg dan sommer chop chop by die deur uit. Die ANC weer die Weskaap het nog n ryk oes aan bates. Mens raak moeg om te hoor die DA is nou so vrot. Nou asb stem vir die ANC. Dan kan ons ophou jaloers wees op julle.

Johan

Ek weet nie hoe kan Afrikaners vir die DA stem nie.

John

Aanvanklik het die meer ervare politici uit die vorige bedeling die Kaapprovinsie se infrastruktuur en dienste help in stand hou, maar dinge begjn geleidelik soos die res van die land lyk veral ook mbt die watersnood die afgelope tyd, ~ iets wat baie swak gehanteer is. Maimane en De Lille se ego’s raak groter as die party self en om te wil glo dat die DA vir ewig korupsie sal vryspring, is veel gevra. Die Partyleier het ‘n paar geniepsige dinge kwytgeraak wat die wit kiesers dwars in die krop steek. Hy gaan harde bene kou in die 2019-verkiesing.