DA verklaar meeste skenkings by OVK

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Net die ANC, die DA en Action SA het skenkings van meer as R100 000 by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verklaar.

Politieke partye moet ingevolge die Wet op Politieke Partyfinansiering alle skenkings bo dié drempel verklaar. Geen enkele skenking van meer as R15 miljoen per jaar aan ʼn party word toegelaat nie.

Die DA het volgens sy eie verklaring die meeste skenkings – altesame R15,9 miljoen – ontvang. Die party word gevolg deur die ANC, wat skenkings van R10,7 miljoen ontvang het, en Action SA wat R3,3 miljoen ontvang het.

Die algehele skenkings beloop net meer as R30 miljoen.

Die DA en Action SA het ook goedere en dienste verklaar. Dié soort skenkings aan die DA beloop net minder as ʼn halfmiljoen rand, terwyl Action SA skenkings van sowat R356 000 in die vorm van goedere en dienste ontvang het.

Twee buitelandse entiteite het ook regstreekse skenkings aan die DA gedoen. Die OVK sê die skenkings het voldoen aan die wetgewing wat bepaal dat dit slegs vir “opleiding of vaardigheidsontwikkeling van ʼn lid van ʼn politieke party, of beleidsontwikkeling by ʼn politieke party” aangewend kan word.

Politieke partye moes hul skenkings voor 31 Julie verklaar. Volgens die OVK het nie alle politieke partye nie – maar wel heelwat van hulle – skriftelik reageer en verklaar dat hulle nie kwalifiserende skenkings (meer as R100 000) in die tydperk ontvang het nie.

Ingevolge die wetgewing moet die politieke party en die skenkers die skenkings verklaar.

“In hierdie verband het twee skenkers versuim om te voldoen aan die tweeledige bepaling oor openbaarmaking. Die twee skenkings hou verband met die ANC. Hoewel die politieke party die verklaring gedoen het en dus aan sy kant voldoen het, het die skenkers nie voldoen aan die vereiste om die skenking afsonderlik te verklaar nie,” lui ʼn verklaring van die OVK.

Die OVK het ʼn direktief aan die ANC gestuur om sy skenkers te vra om aan die bepaling te voldoen en sê daar is sedertdien gehoor gegee.

Net een mens het ʼn skenking aan die nuwe Veelparty Demokrasie Fonds gedoen. “Mnr. Paul Graham was gaaf en trots genoeg op sy steun vir veelparty-demokrasie om sy reg op anonimiteit prys te gee,” sê die OVK.

Graham het R2 000 aan die fonds geskenk.

Die fonds sal geld skenk aan politieke partye wat in die parlement en die nege provinsiale wetgewers verteenwoordig word – maar eers wanneer die fonds die R1 miljoen-kerf bereik. Die OVK sê geen toewysing is dus tot dusver gedoen nie.

“Die kommissie wil ʼn beroep op lede van die Suid-Afrikaanse publiek en korporatiewe [skenkers] doen om hul beursies oop te maak en ʼn veelparty-demokrasie te ondersteun. Die volhoubaarheid van die Veelparty Demokrasie Fonds is ʼn belangrike stap tot ʼn gesonde demokrasie soos in die Grondwet uiteengesit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.