DA versoek OVK om SA’ners oorsee op niewerksdae te laat stem

OVK-beamptes by Crown Reef Primary School in Johannesburg (3 Februarie 2024) (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die DA in die buiteland het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) versoek om seker te maak dat stemdae in die buiteland op niewerksdae plaasvind – soos wat die geval was in die verkiesings in 2014 en 2019.

“Dit volg ná teenstrydige inligting ontvang is van verskeie diplomatieke sendings wat betref stemdae oorsee en beskikbare tye vir die betrokke ambassades en hoëkommissies,” sê Ludre Stevens, voorsitter van die DA in die buiteland.

Die DA in die buiteland het verskeie amptelike plasings gesien op webwerwe wat met Suid-Afrikaanse diplomatieke sendings buite die Midde-Ooste verbind word, dat stemdag op Vrydag 17 Mei 2024 sal plaasvind. “Dit plaas talle kiesers in ʼn onregverdige posisie om verlof in te sit by die werk en geld te verloor sodat hulle kan gaan stem.”

Die presedent wat tydens vorige verkiesings gestel is, bepaal dat stemdae op niewerksdae plaasvind. In 2014 en 2019 het die verkiesing op ʼn Saterdag plaasgevind, sodat kiesers nie verlof hoef te neem om te gaan stem nie.

“Ons neem ook kennis dat daar vir hierdie verkiesing twee dae verklaar is vir oorsese stemmery om vergunning te maak vir lande waar Saterdag ʼn werksdag is, maar nie Vrydae nie, byvoorbeeld in die Midde-Ooste.”

Die DA in die buiteland versoek die OVK om oorsese stempunte daaraan te herinner dat:

  • Alle diplomatieke sendings wat as stempunt optree, oop sal wees op die niewerksdag (met ander woorde Saterdag 18 Mei 2024 of Vrydag 17 Mei 2024, indien die stempunt geleë is in ʼn land waar 18 Mei ʼn werksdag is);
  • die sendings tussen 07:00 en 19:00 oop sal wees, soos vereis word;
  • die rye gesluit mag word, maar dat elke persoon wat teen 19:00 in die ry is, steeds toegelaat sal word om te stem; en
  • die paspoortvereiste verwyder is en dat Suid-Afrikaners oorsee slegs een tipe ID nodig het om te stem.

Stevens sê dit is noodsaaklik dat die OVK konsekwent bly wat betref die struktuur vir stemmery oorsee – insluitend dae, tye en demokratiese beginsels, net soos wat dit in Suid-Afrika toegepas word.

“Suid-Afrikaanse burgers oorsee moenie verlof hoef in te sit om te stem nie. Hulle moet ook duidelikheid hê sodat hulle die nodige reisreëlings kan tref indien nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Waarskynlik sal net minder as 20 000 in die buiteland wel stem. Nie eers een setel nie. Waarom al die eise?

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien elke geregistreede kieser (27.4 miljoen) stem is dit 68,000. Indien slegs 20 miljoen stem is 52,000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.