DA Vrydag hof toe oor ontbinding van Tshwane-metro

Die Tshwane-metroraad se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Christel Cornelissen)

Terwyl ANC-grootkoppe in die Gautengse provinsiale regering vandeesweek in Tshwane gaan vlerksleep het, het die DA Vrydag gesê hy gaan hom tot die hof wend om die ontbinding van die metroraad te laat hersien.

Gautengse premier David Makhura het verlede week aangekondig hy het besluit om die raad te ontbind en beoog om ʼn administrateur oor die stad se sake aan te stel. Tussenverkiesings moet dan binne 60 dae gehou word om ʼn nuwe raad te verkies.

Die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het Donderdag die besluit bekragtig, maar daar word nog gewag op die Nasionale Raad van Provinsies se besluit daaroor.

“Ons is vol vertroue dat ons nie net aan die betrokke wetgewing voldoen het nie, maar dat ons ook in die beste belang van die stad se inwoners optree,” het Makhura gesê.

Die DA stem egter nie saam nie. Mike Moriarty, die DA se provinsiale voorsitter in Gauteng, die DA-koukusleier in Gauteng, Solly Msimanga, asook raadslede Abel Tau en Randall Williams bring vanoggend ʼn dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof om die besluit te laat hersien.

Die premier en verskeie ander ANC-hooggeplaastes in die provinsiale regering, onder wie ook die LUR vir samewerkende regering, Lebogang Maile, het vandeesweek in die hoofstad gaan bladskud. Die provinsiale regering het die hoëlui se besoek verduidelik as “die stap van die ekstra myl” om aan inwoners te verduidelik waarom die raad ontbind is.

Volgens die premier het hulle oorweldigende steun vir die besluit gekry.

ʼn Bittere stryd om politieke beheer woed nou al ʼn geruime tyd in die hoofstad waar die DA vantevore in ʼn delikate koalisie aan die stuur van sake was.

Die metroraad het in dié stadium egter geen burgemeester, stadsbestuurder of burgemeesterskomitee nie en dienslewering is besig om al hoe vinniger in die slag te bly.

Die DA sê hy sal na afloop van die hofverrigtinge sy toekomsplanne vir die stad uitstippel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RekmyBek ·

Baie goeie onderhoud gesien van Valdimar en Helen Zille waar hul onder andere oor hierdie situasie gesels. Gaan kyk gerus op YouTube.
Hoop DA wen hierdie rondte in die hof.

koos10 ·

Die DA het totaal en al gefaal in Pretoria, moontlik nie altyd net hulle skuld nie, maar die leiers moet die verantwoorlikheid dra. Ek dink nie die DA moet hof toe gaan en geld spandeer nie, want ek dink dis maar net uitstel van die onvermydelike. Gebruik eerder daai geld, wat in elk geval aan die burgers behoort, en spandeer dit op Preroria. Ek het al vir 5 maande ‘n water lek voor my huis, en geen persoon, van die stadsbestuur to die leier van die DA doen iets daaraan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.