Brandstofpryse kan volgende week beduidend daal nadat oliepryse die afgelope week op lae vlakke stabiel gebly het, en die rand tot ʼn geringe mate teen die dollar versterk het.
Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sal die prys van petrol na raming met sowat 45c per liter daal, terwyl die groothandelprys van diesel met ongeveer 60c behoort te daal. “Die finale aankondiging sal Vrydag deur die departement van energie gemaak word. Die verwagte petrolpryse vir November sal slegs marginaal hoër as ʼn jaar gelede wees, terwyl die groothandelpryse vir diesel selfs laer as November 2013 se pryse behoort te wees.”
Joubert het gesê hoewel die rand steeds gemiddeld swakker is teenoor die dollar in Oktober as wat dit in September was, het die afgelope week se versterking gehelp om die gaping kleiner te maak. “Intussen is internasionale petroleumprodukpryse, soos oliepryse, steeds baie laer as wat dit gemiddeld in September was.”
Volgens Joubert is dit nog heeltemal te vroeg om ʼn betroubare voorspelling vir 3 Desember te doen, maar weens die afgelope paar dae se gunstige veranderinge, lyk die vooruitsig vir Desember ook positief. “Buiten as daar deur die loop van November ʼn drastiese ommeswaai in die huidige wisselkoers- en olieprystendense is, sal plaaslike brandstofpryse weer met beduidende hoeveelhede, selfs aan die orde van 40c tot 50c, op 3 Desember daal.”
Die plaaslike pryse van brandstof word bepaal deur een maand se gemiddelde internasionale petroleumprodukpryse in rand te vergelyk met die gemiddeldes van die vorige maand. Indien die pryse hoër is in die tweede maand as wat dit in die voorafgaande maand was, word die daaropvolgende maand se pryse opwaarts aangepas. Indien internasionale petroleumprodukpryse in rand (hetsy weens laer oliepryse of ʼn sterker rand) laer is as in die vorige maand, word plaaslike pryse in die daaropvolgende maand verlaag. Suid-Afrikaners betaal dus eintlik voortdurend een maand gelede se pryse. In Oktober word die prys van September betaal en in November word Oktober se prys betaal.
Vyftig sent op ‘n huidige prys van oor die R13 is alles behalwe “beduidend”.