Dalk eerste geval van Covid-19 by Kaapse hawe

Die MV Corona in die Kaapse hawe (Foto: Twitter)

Die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA) het Dinsdag bevestig twee skepe mag nie die Kaapstadse hawe binnevaar nie nadat ʼn bemanningslid aan boord een van die skepe simptome van die nuwe koronavirus (Covid-19) begin toon het.

Dit het later aan die lig gekom dat hy en een van sy bemanningslede met ses passasiers saam op ʼn vliegtuig was voor hulle op die skip geklim het.

Dit is die eerste vermoedelike geval van Covid-19 in ʼn Suid-Afrikaanse hawe.

Die twee bemanningslede het op 9 Maart vanuit Istanboel, Turkye die land binnegekom. Slegs een van die twee lede toon tekens van die virus. Albei is egter in kwarantyn aan boord die vragskip, die MV Corona.

Die MV Corona het die Kaapstadse hawe verlede week Woensdag (11 Maart) verlaat. Twee dae later, op 13 Maart, het een van die bemanningslede simptome van die virus begin toon. ʼn Versoek is aan die Seereddingskoördineringsentrum (MRCC) en die nasionale departement van gesondheid se eenheid vir hawegesondheid gerig dat die skip na die hawe kan terugkeer vir ontruiming. Beide owerhede het toestemming verleen.

Met die skip se aankoms Maandag by die Kaapstadse hawe, is die skip beveel om buite die hawe te wag. MRCC en die eenheid vir hawegesondheid het pogings koördineer om albei bemanningslede met helikopters te ontruim en na ʼn hospitaal te neem.

Intussen het die Italiaanse passasierskip, die MV AIDAmira, tussen Kaapstad en Walvisbaai gevaar. Die skip het op 13 Maart uit Walvisbaai vertrek met 1 240 passasiers en 486 bemanningslede aan bood. Die skip was op pad terug na Kaapstad toe TNPA in kennis gestel is dat ses passasiers aan boord op dieselfde vlug was as die twee bemanningslede van die MV Corona.

Die ses passasiers is dadelik in kwarantyn geplaas om die moontlike verspreiding van die virus te voorkom. Die skip is Maandag toegelaat om die hawe binne te vaar. Die ses passasiers is ontruim en na ʼn hospitaal geneem om getoets te word. Hulle sal in kwarantyn bly in ʼn gebied wat deur hawegesondheidsbeamptes gereël is.

Die res van die passasiers bly ook in kwarantyn totdat die uitslag bekom is van die toestand van die ses passasiers.

Geen passasiers of bemanningslede aan boord die MV AIDAmira toon enige simptome nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Haan ·

Kyk neh. Die woord “ironies” kan sweerlik nie meer gepas wees nie…

Anoniem ·

The Knack se volgende liedjie sal seker wees “My Corona”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.