Danie de Jager kry nuwe tuiste by Voortrekkermonument

Barend du Plessis Prinses Bhelekazi Mabandla en Cassie Aucamp by Shawu, die olifantbeeld (Foto: Verskaf)

Die werke van een van Suid-Afrika se mees bekende en gerespekteerde beeldhouers, Danie de Jager, pronk nou in die skaduwee van die Voortrekkermonument.

Die beelde is Donderdag amptelik by die monument aan lede van die publiek bekendgestel.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Voortrekkermonument het die Danie en Elsa de Jager Trust vroeër vanjaar gevra of die monument sou belangstel om op te tree as beskermheer van ’n gedeelte van De Jager se gesogte versameling.

Die beelde is aan die monument geskenk, waaronder een van die mees bekende olifantbeelde ter wêreld, genaamd Shawu. Hierdie beeld staan waar uMgungundlovu (Plek van die Groot Olifant) in die Historiese Trekroetetuin uitgebeeld word.

Danie de Jager is in 2003 in die ouderdom van 67 oorlede. Hy was bekend vir sy naoorlogse en kontemporêre beeldhouwerke.

Tydens die amptelike inhuldiging van die beeldhouwerke het ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Voortrekkermonument-direksie, gesê dit is vir die Voortrekkermonument ’n ongelooflike eer om hierdie beelde op hul terrein te kan huisves.

“Dit beteken vir ons by die Voortrekkermonument ontsettend baie om die beelde hier te kan hê,” het hy gesê.

Barend du Plessis en Cassie Aucamp tydens die inhuldiging van die beelde (Foto: Verskaf)

“Bewaring is nie net om iets veilig in ’n doekie te hou en dit later net so terug te gee nie, maar ook om daarmee te werk – en so het hierdie beelde ook in ons volksbestaan ’n plek gekry en deel geword van die storie wat ons vertel.”

Hy het verder vertel dat dit ook ’n groot eer is om die Shawu-beeld by die monument te kan huisves as ’n verteenwoordiging van die Zoeloe-adel en die gedeelde geskiedenis en vryheidsideaal met die Afrikanervolk.

“Ek hoop almal wat die beelde sien, kan iets daaruit put en weet ons het almal ’n lewende geskiedenis wat ons met ander volke en kulture kan deel en vier.”

Barend du Plessis, die voormalige minister van finansies, wat self ’n trustee van De Jager-Trust is, het gesê De Jager se werk kan vir almal ’n les leer van uithouvermoë en ’n strewe na uitnemendheid.

“Danie het ’n voorskrif vir homself gehad met hierdie letterlik reuseprojek: ‘As jy ’n klein foutjie maak met jou skaalmodel, word dit ’n reusefout met die lewensgrootte beeld.’ Laat die filosofiese les van hierdie stelling van Danie de Jager vandag nie by ons verbygaan nie,” het Du Plessis vertel.

Mangosuthu (Gatsha) Buthelezi, bekende politikus en lid van die Zoeloe- koninklike familie, kon weens gesondheidsredes nie self die verrigtinge bywoon nie en het sy spyt uitgespreek dat hy nie persoonlik dié geskiedkundige oomblik kon ervaar nie.

“Vandag voel ek, meer as ooit in die verlede, die belang van die Voortrekkermonument as deel van ons gedeelde kulturele erfenis en ek glo ek is nie alleen nie,” het hy in ʼn opname tydens die bekendstelling gesê.

“Daar is baie meer aan ons geskiedenis as bloedvergieting en seer en dít is wat hierdie geleentheid vandag verteenwoordig. Ons waardeer die respek en erkenning wat die Zoeloe-nasie ontvang by die monument en die weldeurdagte wyse waarop daar by die monument met ons geskiedenis omgegaan word, veral vandag waar Shawu, die groot olifant, sy plek langs Umgungundlovu inneem.”

Bhelekazi Mabandla, die prinses en diplomatieke verteenwoordiger van die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap naby Maclear in die Oos-Kaap, het ook besoek afgelê by die monument om dié verrigtinge by te woon.

Sy het verduidelik dat dit vir haar aangrypend was om opnuut te besef hoe Suid-Afrikaanse kulturele erfenis oor grense heen breek en mense weer leer hoe om saam te staan om ’n beter toekoms te bou.

“Dit is ’n absolute eer om vandag hier te wees. Ek wil graag enigiemand aanmoedig om hier by die Voortrekkermonument besoek af te lê om die beelde te beskou, om meer van ons geskiedenis te leer en te sien hoe ons kan saamwerk,” sê die prinses.

Meer oor Danie de Jager

Beeldhouwerk van rooibokke deur Danie de Jager (Foto: Verskaf)

De Jager het van kindsbeen af ’n buitengewone talent gehad om die gees van sy modelle in sy beeldhouwerk vas te vang. Hy het op 11-jarige ouderdom reeds erkenning vir sy beeldhouvermoë verwerf toe hy die eerste prys in die destydse Open Sculpture Competition for Schools gewen het.

“Ná skool (in 1952) het De Jager sy liefde vir kuns nagejaag deur aan die Johannesburgse Kunsskool te studeer. Daar het hy kennis gemaak met die bekende beeldhouer Frikkie Kruger, wat De Jager persoonlik onderrig het in die kuns van beeldhouwerk,” lui die verklaring.

“Danie de Jager se beelde is altyd in die fynste detail gevorm en sy werk word dikwels vergelyk met dié van Rodin en Michelangelo.”

In 1989 het De Jager begin werk aan die manjifieke beeld van Shawu, die olifant. Dié projek het hy aangepak weens die verskriklike stroping van olifante vir ivoorhandel en in 1991 voltooi.

“Die ‘Shawu-projek’ dra dus ’n baie belangrike boodskap van bewaring en indien die stroping van olifante nie onder beheer gehou kon word nie, sou die nageslag steeds ’n idee kon hê van die olifant se indrukwekkende grootheid.”

Shawu die olifant

Shawu oftewel “Groot Haaktand,” soos hy in baie kringe bekend gestaan het, was die grootste olifantbul in die Krugerwildtuin.

Hy is vernoem na die Shawu-vallei (Nasionale Krugerwildtuin) tussen die Letaba- en Shingwedzirivier, waar hy rondgeswerf het.

Volgens wildbewaarders was Shawu bekend vir sy toeganklikheid en was hy selde gepla deur toeriste en motors wat by hom verbygery het.

Dié majestueuse Afrika-olifant het op ’n asemrowende skouerhoogte van 340 cm gestaan, die hoogste ter wêreld.

Sy linkertand het 317 cm gemeet en die regtertand was 305 cm lank. Hy was in dié stadium die olifant met die langste tande in die Krugerwildtuin en sesde langste ter wêreld.

Shawu is in 1982, op 60-jarige ouderdom, aan natuurlike oorsake dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.