‘Dankie!’ – lesers maak harte oop vir perdeliefhebber

(Foto: Verskaf)

“Ek is regtig dankbaar vir elke persoon wat ʼn bydrae gemaak het om die finansiële las vir my ligter te maak; ek kan nou asemhaal, myself in die spieël kyk en ná amper drie jaar van pyn kan ek uiteindelik weer lag.”

Só sê Marissa Barnard, ʼn perdeliefhebber van Donkerhoek buite Pretoria, wat lewensgevaarlike beserings tydens ʼn oefensessie met ʼn perd opgedoen het. En hoewel haar woorde min is, is haar hart vol.

“Waar begin ek? Waar kry ek die regte woorde om vir julle dankie te sê?” sê Barnard.

“Ek wil probeer om my dankbaarheid te kenne te gee, maar woorde kan nie my waardering regverdig nie … nogtans, dankie.”

Maroela Media het vroeër berig dat die 30-jarige perdestalbestuurder by haar werkplek, The Burgh Equestrian Estate, besig was om haar passie en liefde vir kinders en perde uit te leef, toe een van haar geliefkoosde perde haar tydens ʼn oefensessie in die gesig geskop het.

(Foto: Verskaf)

Die ongeluk het Barnard met ernstige beserings aan haar bokaak, neus en sinusse gelaat, wat konstante pyn, asemhalinsgprobleme en sinusinfeksies veroorsaak het.

Die stukkende bene in haar gesig het nie behoorlik geheg nie en gespesialiseerde behandeling en verskeie operasies was Barnard se enigste oplossing. Sy het egter nie ʼn mediese fonds nie en moes uit pure desperaatheid ʼn persoonlike lening van R50 000 aangaan om die nodige prosedure te kon bekostig.

Haar ma, Ansie Barnard, het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur en by mense gepleit om haar dogter te ondersteun.

“My dogter het geen mediese versekering nie en die noodsaaklike operasie van R50 000 moet nou uit haar eie sak betaal word. Hiermee doen ons die volgende stap om hulp te vra van lede van die publiek sodat sy haar passie en liefde vir kinders en perde weer kan uitleef.”

Mense het hul harte – en beursies – oopgemaak en danksy hul ruim bydraes kon hulle dié teiken binne enkele dae behaal. Boonop is ʼn bykomende R20 000 vir Barnard ingesamel. Die ganse bedrag wat tot dusver ingesamel is, staan tans op R71 510.

“Ek kan vir die eerste keer in twee en ʼn half jaar gemaklik asemhaal, dit is nie meer so seer nie,” sê Barnard.

Barnard se ma, Ansie, sê die ongelooflike reaksie het haar stomgeslaan.

“Daar is soveel geld ingesamel dat Marissa later moontlik die eksterne kosmetiese operasie kan ondergaan,” sê Ansie.

“Ek kan net dankbaar wees. Ek wens ek kan elkeen wat emosioneel en finansieel bygedra het persoonlik bedank, die ondersteuning was oorweldigend en dit wys mens net weer hoeveel mense nog vir mekaar omgee.”

(Foto: Verskaf)

Marissa sê sy besef nou eers werklik hoe ingrypend haar lewe ná die ongeluk verander het.

“Die mense om en na aan my sê ek lyk anders, nie net oor die vorm van my gesig nie, maar oor die geluk in my oë. Ek leef nie meer met konstante pyn nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.