DBV moet help ná nóg beeste vrek by peperduur Mantusini-projek

Die multimiljoenrandse staatsprojek, wat bedryf word op 373 ha gemeenskaplike grond, is voorgehou as ʼn bemagtigingsprojek wat sowat 500 individuele huishoudings sou ophef. (Foto: Retief Odendaal)

Nog beeste het reeds gevrek by die Mantusini-suiwelprojek in die Oos-Kaap – en nog minstens vier diere is op die punt om te vrek, terwyl die DA dringend die hulp van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ingeroep het om in te gryp.

Die DA het verlede jaar onthul dat 350 suiwelkoeie uit die oorspronklike kudde van naastenby 500 weens wanvoeding en verwaarlosing gevrek het. Daar was net 89 koeie oor, nadat 72 na ʼn ander plaas in die Kokstad-omgewing verskuif is, sê Retief Odendaal, die DA se woordvoerder oor landbou in die Oos-Kaap.

Die DA het vandeesweek tydens ʼn oorsigbesoek aan die plaas bevind sedert hul vorige besoek het nog 11 koeie gevrek. Vier ander diere is ernstig siek en benodig mediese hulp. Weens ʼn gebrek aan geld kan die koeie egter nie behandeling of medikasie kry nie.

Amptenare van die departement van landelike ontwikkeling en hervorming in die provinsie het vroeër aangedui hulle sal verseker die suiwelprojek – wat reeds sowat R43 miljoen beloop het – sal die nodig hulp van staatsveeartse kry.

Odendaal sê dit lyk of daar dadels van gekom het.

Die multimiljoenrandse staatsprojek, wat bedryf word op 373 ha gemeenskaplike grond, is voorgehou as ʼn bemagtigingsprojek wat sowat 500 individuele huishoudings sou ophef.

“Pleks hiervan het dit ʼn wanfunksionele, nie-operasionele wit olifant geword, waar diere vrek van die honger omdat die regering versuim het om enige tegniese of geldelike steun te verskaf,” sê Odendaal.

Ondanks beloftes van die LUR, Nongkqubela Pieters, dat haar departement sal help, is die plaas nou op die rand van ineenstorting.

Verteenwoordigers van die plaas sê die trust skuld Eskom meer as R650 000 in agterstallige geld, terwyl die kragvoorsiener lankal reeds die elektrisiteit afgesny het. Hulle skuld diensverskaffers wat voer aan die plaas gelewer het, ʼn bykomende R280 000.

“Daar is geen plaas- of projekbestuurder nie en geen skoon drinkwater vir die vee nie. Die plaas het tot so ʼn mate agteruitgegaan dat ʼn verdere belegging van R20 miljoen nodig sou wees om die plaas weer operasioneel te kry,” sê Odendaal.

Die DA het opnuut ʼn beroep op die LUR gedoen om dringend in te gryp en Retief sê die party gaan die situasie fyn dophou.

“Ons gaan ook voort om nou saam met die DBV te werk om te verseker die koeie ly nie weens die onbevoegdheid van die regering nie en dat die diere die nodige veaartssorg sal kry.”

Odendaal sê die regering moet die projek dadelik herevalueer en ʼn volhoubare oplossing vir die probleme by Mantusini vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Lagwekkend! Die ANC dink mos alles val uit die lug uit! Opvoeding, opleiding, selfbeheersing en deissipline moet eers gekweek word voor hul sal verstaan .

Danny ·

Daar is jou sleutelwoord – STAATSPROJEK. Gee alles en nog meer, maar kennis is daar niks. So tragies dat diere altyd daaronder moet lei. Nadat die staat klaar is met die area is die grond totaal onbenutbaar vir jare, om nie eens van die siekte uitbrake te praat onder die diere en karkasse nie. Skandelik.

Carolina ·

Hou niemand toesig en gee terugvoering aan iemand wat kennis het en in beheer is !!! Hoe lank moet dit agteruit gaan en diere doodgaan van elende voor die DBV hulle konviskeer! My bloeddruk styg gevaarlik as ek sulke goed lees waar diere by betrokke is!

david ·

Everyone has forgotten about the SA Army Equestrian Center near Potch where the Army horses died for lack of food and where subsequently taken away by the SPCA! Twice!
Not even the court case has occurred and we are 3 years down the line!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.