DBV rou na moord op jong veearts

Dr. Natheem Jacobs (27). (Foto: Facebook / Kaap die Goeie Hoop-DBV)

Die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging is verpletter deur die moord op ’n jong veearts “wie se hart vir diere alle verstand te bowe gegaan het”.

Dr. Natheem Jacobs (27) is Donderdag kort ná middernag buite sy huis in Lady Maystraat in Athlone doodgesteek deur booswigte wat glo probeer het om tydens beurtkrag die bande van sy vrou se voertuig af te steel.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

“Luidens verslae is die oorledene met ʼn mes gesteek en na ʼn nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem. Hy het met sy aankoms by die hospitaal aan sy beserings beswyk,” het Van Wyk gesê.

Jacobs, wat onlangs as ʼn veearts gekwalifiseer het, het hom vroeër die week voltyds by die DBV aangesluit. Hy het sy kontrak maar ʼn dag voor sy dood onderteken. Hy het vroeër sy gemeenskapsdiens by die Wingfield-dieregesondheidsentrum en die Kaap die Goeie Hoop-DBV gedoen.

Dr. Ayoub Banderker, ʼn DBV-raadslid en Jacobs se toesighouer, sê hy het dit geniet om saam met Jacobs te werk en dat hy baie “trots op hom” was.

Moyo Ndukwana, uitvoerende hoof van die Kaap die Goeie Hoop-DBV, sê Jacobs sal werklik gemis word.

“ʼn Diereheld het geval en ons almal se harte is stukkend. Ons sal dr. Jacobs egter eer op die beste manier wat ons kan – deur voort te gaan om die diere te help wat hy só liefgehad het.

“Hy was ʼn lewende voorbeeld van wat dit beteken om werklik vir diere om te gee. Sy dood is nie net ʼn verlies vir ons nie, maar vir dierewelsyn in die geheel.”

Jacobs word oorleef deur sy vrou, Imaan, en sy ouers, Zulyka en Ridwaan.

Die DBV sê hy hoop Jacobs se geliefdes sal berusting vind in die wete dat dié organisasie vir altyd deur Jacobs se passie vir sy werk en diere geïnspireer sal wees.

“Hy sal onthou word deur elke dier wat deur ons deure kom en sy toewyding aan hul welstand sal ons elke dag herinner waarom ons nooit die geveg teen dieremishandeling kan laat vaar nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa en sy regime is die oorsaak van die verval.

Althes ·

Elke onskuldige bloed wat vloei in hierdie wettelose land is op hul hande. Ek dink die hel het ñ spesiale plek geresveer vir hulle

Watsenaam ·

Die probleem kom al van voor die ANC se tyd af. Sulke mense is nie kinders van die Vader nie. Daar wag ‘n aaklige ewige lot op diesulkes.

Kokerboom ·

Probleem is jy gaan nie genoeg ruimte he vir die wat kwalifiseer

Annelize ·

Ja, en so word die wat van waarde is vir die samelewing, wat hoekstene en pilare vir die samelewing is, een vir een uitgewis deur die wat van absolute nul en gener waarde is vir die samelewing.

JD ·

solank as wat die doodstraf nie meer daar is nie sal sinnelose moorde aanhoudend bly in hierdie wettelose land

Watsenaam ·

Sinneloos, absoluut sinneloos. Het mense nou alle respek vir hul medemens verloor. Absoluut tragies. Die moordenaar mag dalk nou trots wees op wat hy gedoen het, maar…….. (ek mag nie verder praat nie, want nie almal glo in God die almagtige nie.) Natheem rus in vrede, ek weet jy wag vir hom aan die anderkant. Sterkte aan die familie

Leon ·

Wanneer gaan ramaphosa en cele hulle wakker word en iets aan die midaad doen?!

Ronel ·

Ai – ek het nie woorde nie – dis hartverskeurend hartseer!!!!

Skappie ·

Hoeveel lewens moet nou nog gevat word, voordat daar iets aangedoen word. Die moordenaars kom weg met dit, word gevang, toegesluit, borgtog toegestaan, om maar weer dieselfde te gaan doen, aan iemand anders. Jammer om te hoor, en sterkte aan sy gesin deur hierdie moeilike tyd wat vir hulle voorle.

Danie ·

Misdaad verpletter goeie families en ons toekoms in hierdie hool van n land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.