DBV skarrel oor derduisende rande se waterskuld

Die DBV in Johannesburg se waterrekening vir Mei beloop meer as R500 000. (Foto: JDBV)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Johannesburg sal dalk binnekort sonder water sit indien hy nie ʼn massiewe waterrekening van ʼn halfmiljoen rand vereffen nie. Dit weens ʼn gebarsde waterpyp op hul perseel waarvoor die munisipaliteit nie wil pa staan nie.

Dit beteken dié diereskuiling sal geen water hê om die sowat 260 diere se hokke skoon te maak nie.

“Ons het amper ʼn hartaanval gekry toe ons verlede maand ons waterrekening ontvang en sien dat ons R545 203 aan die munisipaliteit skuld,” skryf die DBV op die geldinsamelingsplatform Back a buddy.  “Aanvanklik het ons gedink die stadsraad het dalk ʼn fout gemaak, maar ná verskeie oproepe en ʼn besoek aan die munisipaliteit, is ons ingelig dat dit inderdaad die regte bedrag is en indien ons dit nie vereffen nie, sal ons water afgesny word.”

Die DBV het gevolglik  ʼn spesialis laat uitkom om te toets vir lekkasies en dié het ʼn gebarste pyp geïdentifiseer wat liters water onder die grond uitspu.

Liana Marx, woordvoerder van die DBV in Johannesburg, sê hulle het geen manier gehad om van die lekkasie te weet nie, aangesien die gelekte water in ʼn drein beland het. Hulle moes intussen koste aangaan om die pyp ook te herstel.

“Die munisipaliteit wil ons nie help nie, al is ons ʼn niewinsgewende organisasie, en neem glad nie verantwoordelikheid vir die gebarste pyp nie, aangesien dit op ons eiendom is. Ons versekering dek ook nie iets so groot soos hierdie kwessie nie,” sê die DBV nou in sy oproep om hulp.

“Ons het eenvoudig nie die geld om hierdie rekening te vereffen nie. Al ons skenkings word benut om na die diere in ons sorg om te sien. Die ergste is dat ons nog Junie se rekening moet kry, wat seker op dieselfde bedrag gaan neerkom.”

Volgens Marx het hulle darem ʼn boorgat wat diere van drinkwater voorsien, maar hulle sal geen water hê om die 260 diere in hul sorg se hokke mee skoon te maak nie.

Die DBV versoek nou enigiemand wat moontlik kan help, om ʼn bydrae te maak. “Al is dit net R10; ons kan nie sonder water funksioneer nie.”

Klik hier indien jy ‘n skenking wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Astrain ·

Julle versekering behoort dit uit te betaal. Julle kan ook dan ‘n vertoë rig aan die munisipaliteit met gestaafde vorige rekeninge wat deur jul ouditeure gewaarmerk is? Daar is nie ‘n manier dat hulle dit kan afdwing nie.

Lourens CFG ·

Ek het dieselfde geval so 18mnde terug gehad, ná die bewyse van die lekkasie spesialiste, het die munisipaliteit die groot bedrag verminder tot my normale verbruik se bedrag.

Truzelda ·

In die berig staan dat die versekering dit nie dek nie .. dis so hartseer die arme diere

miavos ·

Dis om van lam te raak!!! Die DBV sukkel juis om genoeg geld te kry vir die uiters belangrike werk wat hulle doen – en nou dit!!

Pieter ·

Onmenslik van die munisipaliteit. Swak getuigskrif vir die aan bewind. Gandi het juis gesê dat die volk se moraal getoets kan word hoe hulle met die diere omgaan. DBV kry juis geen openbare ondersteuning nie.

Gretha ·

Kan Maroela media asb dbv se bankbesonderhede aandui. Dink syeeds versekering moet dit betaal.

Waarnemer ·

Plaas hierdie berig op FB sodat dit landwyd gedeel kan word….

Harley Davidson ·

What a disgrace, stig die Wes Kaap af van hierdie verotte plek met sy onbevoegde mense sodat goeie mense in vrede kan leef en die regte besluitneming kan maak

Sandra ·

Nee man, iets klop nie hier nie. Hulle moet dit gaan bespreek met die Munisipaliteit. Die stad se munisipaliteit kan hulle nooit in ‘n 100 jaar verantwoordelik hou vir ‘n ondergrondse gebarste pyp nie. My baas het eiendomme. Daar was ‘n soortgelyk insident met een van die huise wie se rekening ook so hoog was. Die munisipaliteit het vir ons ‘n vorm gegee om in te vul oor ons ‘n verlaging wou he vir die gebarste pyp. Hulle moet dit gaan uitsorteer.

Johan ·

Belas die honde, wat jaarliks in duisende toeneem, met honde-lisensies!! Tans is daar ‘n oorbevolking van honde wat jaarliks miljoene rande se uitgawes tot gevolg het, en GEEN munisipaliteit doen iets daaraan nie. Hoe hou jy 12 honde in jou werf aan? As owerhede maar wil strenger optree sal die las op die DBV baie minder word……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.