De Villiers plaas ánder familielid ook by Maties

Prof. Wim de Villiers. (Argieffoto)

Die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Wim de Villiers, het die uitvoerende komitee van die US se raad “se aandag daarop gevestig dat hy ook ingevolge dieselfde beleid en die riglyne vir diskresionêre plasings sy diskresie gebruik het om ʼn ander familielid in ʼn program by die US te plaas”.

Dít luidens ʼn verklaring van die US nadat ʼn storm sedert verlede week woed oor De Villiers se plasing van ʼn familielid om medies te studeer. Die plasing is maande gelede al teruggetrek nadat ʼn ander student wat beter punte behaal het, maar nie toelating gekry het nie, vrae daaroor gevra het.

Die US sê hy volg ʼn duidelik gedefinieerde toelatingsbeleid en die US het sedert 2018 riglyne in werking gestel om die rektor se diskresionêre plasings te lei. Die benadering tot diskresionêre plasings word tans hersien om enige moontlike tekortkominge te hanteer, sê die universiteit.

“Die rektor het aangedui dat hoewel hy te goeder trou en in ooreenstemming met die huidige riglyne opgetree het, hy spyt is oor die beroering wat die aangemelde voorval veroorsaak het.”

Dr. Leon Schreiber, ʼn DA-LP en lid van die US-raad, sê dit lyk of De Villiers aan die hoof staan van ʼn “volskaalse nepotisme-netwerk” wat die US gekaap het om sy persoonlike familiebelange te bevorder.

“Ons weet tot dusver dat hy die US se nepotisme-beleid oortree het om minstens twee van sy nabye familielede toelating te gee tot die gesogte mediese kursus aan die US, hoewel hulle blykbaar nie op meriete daarvoor gekwalifiseer het nie.

“Dit is ʼn klap in die gesig van die duisende meer verdienstelike en minder bevoorregte studente wat aansoek gedoen het, maar afgekeur is. Dít blykbaar omdat hulle nie voldoen aan die één vereiste wat ʼn plek aan die US waarborg nie: om familie te wees van die rektor,” sê Schreiber.

Hy sê die vraag moet gevra word oor hoeveel ander diskresionêre plasings De Villiers oor die afgelope agt jaar gedoen het.

Die universiteit het in reaksie op Schreiber se kritiek gesê dit is “buite verband, oordrewe en onbehulpsaam in die debat en soeke na oplossings”.

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

“Die US volg wêreldklasbestuurspraktyke vir universiteite. Die US se raad hanteer die kwessie. Die skrywe vanaf die waarnemende raadsvoorsitter is vertroulik gedeel met slegs raadslede en twee raadskomitees in hierdie verband. Die raad is die toepaslike forum vir hierdie bespreking.

“Die US beskou dit voorts as kritiek noodsaaklik dat die regte en privaatheid van studente erken, gerespekteer en beskerm moet word, en sal nie op die identiteit van enige student kommentaar lewer nie.”

Intussen sal die kwessie oor diskresionêre plasings volgende Maandag op ʼn raadsvergadering bespreek word.

“Die ontleding van die rektor se diskresionêre plasings sal onder ferm leiding van die raad van die uitvoerende komitee (UKR) plaasvind en deeglik bespreek word by die raadsvergadering sodat die raad op ʼn aangewese pad vorentoe kan ooreenkom,” sê die universiteit.

Die US sê voorts sy studente en personeel is van die beste wat daar in en vir Suid-Afrika te vinde is.

“Die akademiese integriteit van ons instelling, die gehalte van ons kwalifikasies en navorsing, en die handhawing van praktiese en behoorlike administratiewe oorsigbestuur is van die uiterste belang vir die US.

“Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning ten einde die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om gebiede aan te raak waar daar ruimte vir moontlike verbetering is.”

By die komende raadsvergadering sal ʼn mosie van wantroue in De Villiers ook voor die raad dien. Die mosie spruit uit die Menseregtekommissie (MRK) se verslag oor menseregteskendings by die US, waarin onder meer bevind is dat die universiteit die menseregte van studente geskend het deur hulle te verbied om Afrikaans te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.