Dendron-aanval: Nog ʼn verdagte vas

Foto: AfriForum

ʼn Vierde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die plaasaanval verlede week in die Dendron-distrik in Limpopo.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die verdagte is een van die 1 419 verdagtes, tussen 18 en 50 jaar oud, wat tydens gesamentlike operasies deur die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe in die provinsie in hegtenis geneem is.

ʼn Boer en sy vrou is Woensdag omstreeks 00:30 in hul plaashuis oorval. Die boer is erg aangerand en in ʼn ernstige toestand in ʼn hospitaal opgeneem. Sy vrou is verkrag en ook geskiet.

Die verdagtes het met die boer se Nissan Navara-bakkie en vuurwapens van die toneel gevlug. Drie van die verdagtes is kort ná 06:00 in Polokwane (Pietersburg) vasgetrek en een van die verdagtes is gewond tydens ʼn oor-en-weer-skietery met die polisie. Die beseerde verdagte het later aan sy beserings in die hospitaal beswyk.

Die ander twee verdagtes het Vrydag in die Morebeng-landdroshof verskyn in verband met die plaasaanval. Hulle het op verskeie aanklagte, insluitend gewapende huisroof en verkragting, in die hof verskyn en die saak is tot 14 Augustus uitgestel wanneer die verdagtes om borgtog sal aansoek doen.

Bykans 500 voertuie het Vrydagoggend by die afdraai langs die N1-snelweg na Morebeng (Soekmekaar) byeengekom om saam na die Morebeng-landdroshof te ry waar die verdagtes verskyn het.

Honderde mense van Louis Trichardt, Dendron, Hoedspruit, Tzaneen en Polokwane het van 09:00 af by die bymekaarkompunt saamgedrom.

“Ons is kwaad. Ons is keelvol. Stop plaasmoorde.” Dít was die woorde op van die plakkate wat by die hof omhoog gehou is.

“Dit is belangrik dat die boodskap na buite uitgebasuin word. Ons gaan nie meer net terugsit en niks doen nie,” het Cornea van der Walt, ʼn lid van die gemeenskap, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

As hulle so bymekaar kan kom teen blankes vir minder ernstige gevalle of waar dit uit verband getrek word, soos doodskis storie is dit goed dat ons mense nou begin om dieselfde te doen. Sodat die misdadigers kan sien dat ons nie net meer gaan lê en stilbly nie. Ons doen dit ook net in ‘n baie beter manier. Geen geplunder of brandstigting nie. En hulle word bang as ons mense so saamstaan. Want genoeg is genoeg.

Misky ·

Ek sal baie graag wil weet hoeveel van daai 1 419 wat vasgetrek is, is van die 19 000 wat ons president vrygelaat het….. Hoeveel mannekrag en geld is gemors om dieselfde kriminele te vang wat duidelik agter tralies hoort??

Kanjynoumeer ·

SELFVERDEDIGING: Hou jou vuurwapen 24/7 op of naby jou.
Gebruik jou vuurwapen binne die raamwerk van die wet.
Slaan terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.