Departement ‘maak vordering’ om skole te heropen

Angie Motshekga. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, gaan eerskomende Maandag ʼn spesiale vergadering met die raad van onderwysministers belê oor die vordering wat gemaak is met die voorbereiding vir die heropening van skole. Motshekga gaan dan ná dié vergadering die media toespreek om die publiek in te lig oor die gereedheid van skole om te heropen.

Die doel van die vergadering is om die voorbereidings wat getref is vir die heropening van skole onder die loep te neem. Dit sluit onder meer in om te kyk hoe die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) aan skole in verskeie provinsies vorder. Verskeie skole het reeds aangedui dat hulle nuwe verskaffers nodig het om dié toerusting af te lewer, aangesien die groot vraag na PPE die verskaffing daarvan vertraag het.

Motshekga het Maandag begin met ʼn reeks samesprekings met rolspelers in die sektor oor skole se gereedheid om te heropen te midde van die Covid-19-pandemie. Die departement sê talle provinsies het Maandag te kenne gegee dat hulle dalk meer tyd benodig vir voorbereiding en die aanskaffing van toerusting. Die aanvanklike ooreenkoms was dat onderwysers op 18 Mei en sekere grade op 1 Junie sou terugkeer skool toe.

“Ons het Maandag in die vergadering ooreengekom dat een week genoeg is om alles te finaliseer. Ons is tevrede met die vordering wat tydens die afgelope vergadering aangemeld is. Ons het net nog bevestiging nodig dat persoonlike beskermingstoerusting in sekere provinsies al by skole afgelewer is,” het Motshekga gesê.

Motshekga het gesê die massiewe vraag na persoonlike beskermingstoerusting (PPE) deur talle ondernemings landwyd het ʼn vertraging veroorsaak in die verskaffing van materiaal aan skole, kantore en ander onderrigfasiliteite.

“In die vergadering eerskomende Maandag sal ons ʼn volledige verslag oor die vordering ontvang wat ons dan met die publiek kan deel,” het Motshekga gesê.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand tydens ʼn toespraak gesê die grootste deel van die land sal teen einde Mei na koronavirus-vlak 3 beweeg. Ramaphosa het gesê ʼn beraadslagingsgesprek met die betrokke belanghebbendes sal dadelik begin en verdere aankondigings oor sekere veranderinge aan die vlak 4-riglyne sal ook aangekondig word om sakebedrywighede uit te brei in die kleinhandel, e-handel en om beperkings op oefening te verminder.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het gesê die inwerkingstelling van die gewysigde risikostrategie in die basiese onderwyssektor sal deur die president se toespraak ondersteun word.

“Niemand het ervaring in die hantering van ʼn krisis van hierdie omvang nie, en ons volg kundige raad oor die feit dat ons uiters versigtig moet wees hoe ons elke stap in werking stel,” het Mweli gesê.

Mweli sê Motshekga sal die media weer toespreek nadat volledige verslae van alle provinsies oor die skole se gereedheid om te heropen, ontvang is.

“Ons vra vir geduld, terwyl ons in die omstandighede die beste pad vorentoe wil vind,” het Mweli gesê.

Die presiese tyd wanneer Motshekga die media eerskomende Maandag gaan toespreek, moet nog bevestig word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lizanda ·

Ag my moeder. moet ons ons stertjies swaai, rondomtalie draai, ‘n mexican wave dalk, ek sou dink teen hierdie tyd moet dinge baie naby aan gefinaliseer wees, nie vordering maak nie, of hoe?
On sit met Matriek leerlinge wat oor 6 maaande die wye wereld moet in vaar om ‘n lewe vir hul self te gaan maak en julle maak net vordering.

Anel ·

Hulle het amper 2 msande tyd gehad, wst het hulle toe gedoen? Ek laat my kind eerder die risiko loop om DALK die virus op te doen as dat hy langs een sit wat TB of VIGS het en van wie hy nie weet nie, want sulkes se status is mos staatsgeheim en hul menseregte sal so aan getas word.
Wat gaan gedeur met die nuwe lot Gr1 en kinders wat hoërskool toe moet gaan volgende jaar? Waar gaan daar vir hulle plek wees? Kan maar net my kop skud!

Johan ·

Hierdie ministers van ons besef nou eers wat werk is en die gesloer van hul is net weereens bewysse hoe onbekwaam hulle is. Hulle is almal heel gemaklik en verseker van hul salaris. Ek hoop regtag dat die meerderheid van ons nasie kan sien hoekom jy nie ANC moet stem nie. Maar nou ja…..

Emily ·

Dis een samespreking na die ander, Maar niemand kom tot n punt toe nie. Julle is verby treurig hoor, Julle president is ook alewig besig met besprekings en wat ookal en selfs hy kan nie besluite neem nie.
Nee wat, ek gee op met julle.
Wat presies het al JULLE GELEERDES nou eintlik bereik in die amper 2 maande.
Hou op vir ons lieg en kom tot die punt.

Suqi ·

Alweer n persverklaring dat hulle n vergadering gaan hê. Seriously

Francois ·

Pateties is al wat ek kan se. Die enigste regte rede hoekom vakbonde nog vasskop is omdat hulle lede gratis salaris kry terwyl hulle op verlof is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.