Departement soek meer tyd oor plasingsherrie

(Argieffoto: pixabay)

Die departement van onderwys in Gauteng het sewe dae uitstel gevra nadat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) hom tot Maandagmiddag kans gegee het om ʼn onderneming te gee dat hy voortaan met beheerliggame – nie skoolhoofde nie – sal onderhandel oor die toelating van leerders.

Die SAOU se brief aan die departement kom nadat die distrikskantoor vir Johannesburg-Wes die afgelope ruk ʼn groot groep skoolhoofde direk genader het om naastenby 50 leerders per graad vir plasing volgende jaar in te neem. Die meeste van die skole is reeds tot barstens toe vol.

Een van die geraakte skoolhoofde het sy frustrasie hieroor met Maroela Media gedeel en gesê wanneer meer leerders ingeneem word as wat ʼn skool kan hanteer, plaas dit druk op alle fasiliteite en nie net klaskamers nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die departement het in antwoord op die organisasie se skrywe vir bykomende tyd gevra om ʼn antwoord te verskaf.

Klopper sê die SAOU is egter gereed om met regstappe oor die kwessie voort te gaan, sou die departement nie gunstig reageer nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sou Maandag met die betrokke distrikskantoor van die Gautengse departement van onderwys oor die situasie vergader. Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, sê ʼn vergadering het wel plaasgevind, maar pleks van toelatings bespreek, wou amptenare oor uitstaande aanstellings vergader.

“Ná al die lawaai oor toelatings, wil hulle praat oor die aanstellingsproses,” sê Deacon.

“Dit lyk of die een hand nie weet wat die ander hand doen nie.”

Deacon sê hulle het wel die kwessie van aanstellings met die departement bespreek, maar benadruk dat daar steeds oor die toelatings vergader moet word.

“Die saak is nie opgelos nie,” sê hy.

Toelatingsbeleid is ʼn funksie wat wetlik by die beheerliggaam berus en hoewel skoolhoofde ʼn belangrike rol speel om dit in werking te stel, het hulle nie beheer daaroor nie.

Die departement plaas nietemin druk op skoolhoofde om nou inderhaas plek vir die leerders in hul skole te vind in optrede wat as die boeliery en intimidasie van hoofde bestempel is. By plasingsvergaderings het die departement geen verduideliking van skoolhoofde aanvaar oor toelatingsbeleid, beskikbare kapasiteit of veiligheidsvoorskrifte by skole nie en beheerliggaamvoorsitters is na verneem word nie toegelaat om die vergaderings by te woon nie.

Indien wysigings aan die Skolewet deurgevoer word, sal toelatingsbeleid voortaan by die departement van onderwys – en nie die beheerliggaam nie – berus. Die wysigingswetsontwerp kry egter skerp teenkanting en mondelingse insette daaroor word tans in die parlement aangehoor.

Klopper sê dit lyk of die departement reeds optree asof toelatingsbeleid ʼn funksie is wat by die departement berus.

Probleem groter as oorvol klasse

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn Skoolhoof wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, het sy bittere frustrasie met die situasie te kenne gegee. Hy sê die probleem strek boonop veel verder as net oorvol klasse.

Die meeste klasse is gebou om naastenby 28 leerders te akkommodeer en die skool het vroeër ʼn omvattende kapasiteitsbepaling gedoen om te bepaal hoeveel leerders veilig geakkommodeer kan word.

“Ons het fisiek nie plek vir 40 kinders in ʼn klas nie,” sê hy. Die getal kan in ʼn krisis dalk nog tot 32 verhoog word, maar daarna is dit bloot nie meer prakties haalbaar nie.

Ekstra leerders beteken egter ook bykomende toiletgeriewe, daar moet voldoende plek in gange en in klaskamers wees vir leerders om hul tasse neer te sit, daar is ruimte nodig vir onderwysers om in die klas te kan beweeg en sportvelde moet al die leerders kan huisves.

Ekstra leerders beteken ook groter druk buite die skoolhekke waar leerder op- en afgelaai moet word.

Die skoolhoof sê hulle probeer altyd om leerders so ver moontlik te plaas, maar dat die skool deur die kapasiteitsbepaling gelei moet word. Die situasie herhaal hom boonop omtrent jaarliks.

“Dit raak nou onaangenaam en ek hoop dit word uitgestryk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DapperWoef ·

Ek moet vra:

Hoeveel nuwe skole het ons lieflike ANC regering gebou sedert hulle die uhm… leisels oorgeneem het by ou FW en sy tjommies?

Heel duidelik nie genoeg nie.

Maar ten minste is die kaders veilig met hulle BBP beskerming.

Koos 100 ·

By ‘m laerskool in Pretoria, wat tweetalig is het leerders gegroei van 300 tot 700 in 5 jaar. Die besluit was deur die beheerliggaam geneem, met die beloftes dat die skool R 2.7 mil sou kry om klasse en badkamers te bou. Die skool het nou 6 tydelike klasse en twee tydelike toilette. 700 kinders en geen sent gekry nie.

Kokerboom ·

Visie, beplanning en daad by woord voeg is vloekwoorde en werk vir ANC kaders

Johann ·

Plain moedswillig. Mags behepte ras gedrewe kaders wat eenvoudig voort janter WETEND dat logistieke en geriewe nie hulle Afrika Skool Som kan hanteer nie! Net bloot absurd onbevoegd. Plaas van skole bou en onderhou druk hulle hul agenda in die sisteem se keel af. NIKS met beter onderrig te doen nie. Pokitiese klug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.