Woede oor ‘boelie’ van skoolhoofde om leerders te plaas

(Argieffoto: Elaine Krige)

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sal Maandag met die departement van onderwys in Gauteng se distrikskantoor vir Johannesburg-Wes vergader, nadat groot druk die afgelope week op skoolhoofde geplaas is om leerders – via die distrikskantoor – vir plasing volgende jaar in te neem.

Die departement het sowat 30 skoolhoofde genader om naastenby 50 leerders per graad te plaas.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, sê hulle is veral bekommerd oor ʼn gebrek aan voldoende kapasiteit om alle leerders in die provinsie te akkommodeer, omdat genoeg skole bloot nie in Gauteng gebou word nie. Dit is een van die kwessies wat by Maandag se vergadering geopper gaan word.

“Ons wil bou- en ontwikkelingsplanne sien. Daar word nie bykomende kapasiteit in die vorm van nog skole geskep nie,” sê hy.

Deacon sê selfs al word daar oornag nog 400 skole in die provinsie gebou, sal dit steeds net aan die bestaande vraag na plek voldoen en nie eens voorsiening maak vir leerders wat vroeg volgende jaar aansoek gaan doen om plasing nie.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas. (Foto: Verskaf)

Benewens kommer oor die gebrek aan genoeg plek vir leerders is Fedsas ook uiters besorg oor die druk wat die departement regstreeks op skoolhoofde plaas om leerders in te neem. Deacon sê dit staan die departement vry om gesprekke met skoolhoofde te voer, maar nie oor kwessies – soos toelatingsbeleid – wat buite hul pligstaat val nie.

Die plasing van leerders by ʼn skool is ʼn funksie wat by die beheerliggaam berus en hoewel skoolhoofde ʼn uiters belangrike rol in die uitvoer hiervan speel, het hulle nie beheer daaroor nie.

“As dit gaan oor toelating, help dit nie jy boelie die skoolhoof nie. Jy moet met die beheerliggaam praat,” sê Deacon.

Hy sê Fedsas wil deel wees van die oplossing om ruimte vir leerders te vind, maar daar moet binne die raamwerk van die wet opgetree word. Hy sê die departement moet ʼn beheerliggaam ook met voldoende inligting toerus oor wat die aard en omvang van die situasie is sodat die beheerliggaam alle besonderhede het en sinvol aan prosesse kan deelneem.

Daar word gereeld druk op Afrikaanse skole geplaas om ʼn bykomende voertaal vir onderrig in te faseer en bykomende leerders in te neem.

Deacon sê by navraag hieroor die probleem strek egter veel verder as taal. “Daar is nie genoeg skole in Gauteng nie. Dit gaan oor sitplek in skole.”

Dieselfde druk is volgens Deacon op Engelse, Afrikaanse en dubbelmediumskole.

Hy sê daar is ook Afrikaanse skole wat Afrikaanse leerders moet wegwys weens ʼn gebrek aan plek. Dié skole is boonop in die minderheid in die provinsie en selfs al word dit aangepas om Engelse leerders ook te akkommodeer, gaan daar steeds nie genoeg plek wees nie. “Ongeag die taal is daar ʼn sitplekprobleem.”

Hy sê dit is die plig van die LUR van onderwys om te verseker daar is genoeg skole en indien daar nie is nie, moet ʼn ontwikkelingsplan saamgestel word om die probleem te pak. Die LUR moet dit dan aan die minister van basiese onderwys voorlê wat moet toesien dat dit in werking gestel word.

Deacon sê Gauteng sien groot residensiële en kommersiële uitbreidings, maar daar word nie skole in die provinsie gebou om daarby te hou nie.

Ander skole dalk ook in visier

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het die departement intussen tot Maandag om 16:00 in ʼn brief kans gegun om ʼn onderneming te gee dat hy voortaan met beheerliggame – en nie met skoolhoofde nie – sal onderhandel en kommunikeer oor die toelating van leerders.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê sou die departement nie reageer nie, sal ʼn aansoek daaroor Dinsdag op die departement beteken word om die intimidasie van skoolhoofde te stuit.

Klopper sê die departement het geen verduideliking van skoolhoofde aanvaar oor toelatingsbeleid, beskikbare kapasiteit of veiligheidsvoorskrifte by skole nie en beheerliggaamvoorsitters is boonop nie toegelaat om vergaderings by te woon nie.

Die departement het hoofde opdrag gegee om voorleggings te doen oor hoe hulle die leerders gaan aanvaar, maar Klopper sê deur onregmatige druk op hoofde uit te oefen is ʼn misbruik van die departement se gesag as werkgewer.

Die SAOU se regspan sal in sy brief aan die departement ook benadruk dat toelatingsbeleid en kapasiteitsbepaling ʼn bevoegdheid van die beheerliggaam is en dat dit strydig met die Skolewet is om dit met skoolhoofde op te neem.

“Indien die Gautengse departement van onderwys nie die Suid-Afrikaanse Skolewet wil nakom nie, sal die SAOU geen ander keuse hê as om die hof te nader vir ʼn gepaste remedie nie,” sê Klopper.

“Die verwagting is dat die gewraakte praktyk wat in Johannesburg-Wes plaasvind weldra na ander distrikte sal uitkring indien dit nie tydig en beslissend aandag kry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pietertjie ·

Die spul staatsamptenare het nou al oor en oor bewys dat hulle gladnie vooruit kan beplan nie. Hulle kan nie eens agteruit beplan nie.

Willem ·

Van die hoofde kry net vir hulle van die boelie taktiek soos hulle dit op onderwysers doen

Leana ·

…maar daar word nuwe universiteite gebou. Waar moet die studente vandaan kom as daar nie skole is vir basiese onderwys nie?

SWAREB1962 ·

Waar? Nog niks gehoor of gesien behalwe Solidariteit se Sol-Tech en Akademia.

Johann ·

Anargis se strategie en optredeom onstabiliteit te kweek. ANC LEGACY

Mariana ·

Daar word reeds lankal gepraat oor te min skole in Gauteng. Jaar na jaar word die probleem net erger sonder enige uitkoms en intussen word die Afrikaanse skole geannekseer deur andertaliges. Dit is mos die doel om Afrikaans totaal te verwyder, so hulle word dan ook uitgesonder. Die LUR moes lankal plan gemaak het vir nog skole, maar vir hom was dit belangriker om gesien en gehoor te word as om sy werk te doen. Die minister en haar LUR’s moet nou plan maak dat daar genoegsame skole en ordentlike onderwysers kom wat die probleem kan oplos.

My siening ·

Blameer lisufi maar nee hy is bevorder, die hele lot hou daarvan om hul stemme te hoor maar doen dis nie in hulle broeke nie! Mariana jy is 110% reg!

Bytjienw ·

Druk word uitgeoefen om vir almal plek te gee sodat daar nie vrae gevra kan word oor die geld wat begroot is vir die bou van nuwe skole maar nie gebruik is daarvoor nie…

Republikein in die Wes Kaap ·

Alles deel van die ANC se meesterplan.

Anel ·

Daar is genoeg skole as hulle net na die skole in hul eie woonbuurtse gaan. Hulle moet mos na die blanke skole gaan. Daar is hoeveel swart skole wat nie vol is nie.

SWAREB1962 ·

Wat het die Anc regering gebou sedert 1994 behalwe n nasie wat meer werkloosheid skep?
Hul kan nie n eers n stadium bou nie.
Solank as wat GEEN staatsamptenaar voor die reg verskyn en GOED gestraf word nie, sal daar in 2094 nog steeds nie genoeg skole wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.