Departement waarsku oor ‘inspekteur’ in die Vrystaat

Die departement van arbeid het Maandag ʼn waarskuwing uitgestuur oor ʼn individu wat homself as ʼn arbeidsinspekteur voordoen, plase in die Oos-Vrystaat besoek en omkoopgeld van werkgewers eis.

“Sontaha Abram Twala, wat ook die naam Abraham Mofokeng gebruik, onderneem om teen ʼn fooitjie van sake by die KVBA [die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie] of die departement van arbeid ontslae te raak as die werkgewers dalk betrokke is by kwessies,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “Die persoon reik glo ook inspeksiebriewe uit om aan te dui dat inspeksies gedoen is by werkgewers wat sy dienste aanvaar het.”

Volgens die departement voer Twala aan dat geen arbeidsinspekteur ʼn inspeksie sal kom uitvoer as hulle een van dié briewe in hul besit het nie. Hy vra glo ongeveer R2 000 vir sy dienste.

Nomfundo Douw-Jack, hoof van die departement van arbeid in die Vrystaat, doen ʼn beroep op werkgewers om op die uitkyk te wees vir dié man. “Ons kan bevestig dat ons nie só persoon in ons diens het nie. Ons het ons stelsels nagegaan en kan bevestig hy is ʼn skelm wat niksvermoedende werkgewers se geld in sy eie sak wil steek.”

Douw-Jack het gesê die departement doen ʼn beroep op alle werkgewers in alle bedrywe om aan die wet te voldoen en nie kortpaaie te volg wat betref nakoming aan arbeidswetgewing nie.

Hy het gesê ʼn beampte van die departement van arbeid sal altyd ʼn amptelike e-posadres in sy/haar korrespondensie gebruik en sal altyd ʼn identiteitskaart en/of aanstellingsbrief op die departement van arbeid se briefhoof beskikbaar hê. “Omdat persone egter sulke dokumente kan vervals, word werkgewers aangemoedig om die kantoor van menslike hulpbronne te kontak as hulle vuilspel vermoed. Kontak die departement in die Vrystaat by 051 505 6230 of skakel 086 002 2194 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Armand Muller ·

Hy doen homself ook voor as ‘n priester, en vra dan vir donasies vir sy kerk. Hy gee ook dan dokumente om te staaf dat die geld vir die kerk gaan.
In ‘n polisie verklaring sê hy dat hy ‘n EFF woordvoerder is.
Net jammer ek het nie ‘n foto van hom nie.

fg ·

Praat ons dalk van so `n groot geboude lang man? Baie glad met die mond.

Frikkie ·

Sal dalk help as die ware egte inspekteurs hulle voete meer op plase kry as in die kantoor sit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.