Derduisende teken petisie om ‘7de Laan’ op kassie te hou

‘n Aanlyn petisie om ‘7de Laan’ op die kassie te hou, is deur derduisende mense geteken. (Foto: Verskaf)

ʼn Aanlyn petisie, wat op 18 Julie vanjaar op die webtuiste Change.org van stapel gestuur is om die gewilde SABC2-sepie 7de Laan op die kassie te hou, is teen Vrydag deur sowat 26 000 individue onderteken.

Die doelwit van die petisie is om dié sepie, wat 23 jaar lank op SABC2 uitgesaai is, se leeftyd te verleng nadat daar onlangs aangekondig is die sepie sal in Desember sy laaste asem uitblaas.

SABC2 en Danie Odendaal Produksies het op 17 Julie aangekondig dat die geliefde sepie nie vir nog ʼn seisoen hernu is nie en ná 23 jaar en 24 seisoene tot ʼn einde sal kom.

7de Laan, ʼn breinkind van Danie Odendaal, het op 4 April 2000 sy debuut op SABC2 gemaak en lewe aan geliefde karakters soos Oubaas, Hilda, Charmaine, Aggie, Emma en die Meintjies-gesin gegee.

Die aanlyn petisie is ná die skokaankondiging deur ene Jermaine Christians van stapel gestuur.

“Ons wil graag die SABC versoek om die besluit oor 7de Laan se hernuwing te heroorweeg,” lui die petisie.

“Die sukses van die program spruit vanuit werklike storielyne, multikulturalisme en voldoen aan die behoeftes van elke Suid-Afrikaner wat daarby kan aanklank vind.

“Ons wil ook ander produksiehuise, soos e.tv of selfs kykNET, versoek om in te koop in die idee van 7de Laan en om nie net die werke van die spelers en die span te red nie, maar ook die no. 1-sepie in die land.”

Die inskrywing kritiseer ook die werksverlies van meer as 120 lede van die 7de Laan-span. “Net die idee dat meer as 120 mense werkloos gelaat word in ʼn land waar die ekonomie reeds vervalle is, is dit siek om die minste te sê.

“Hoe sluit jy die deure van ʼn bekroonde sepie met miljoene kykers? Dit maak nie sin nie. Ons as die kykers glo daar is meer agter die storie met dié dat die SABC weereens probeer om ʼn einde te bring aan een van die mees geliefde sepies.”

Duisende mense het ook onder aan die petisie kommentaar gelewer oor die beëindiging van die sepie.

7de Laan het vir nuwe opkomende toekomstige akteurs platform gegee waar hulle by ouer akteurs kan leer. Fantastiese geleenthede oopgemaak. Ook is hulle storielyn baie keer leersaam vir kykers en gebruik dit as manier van opvoeding [sic]. Dankie,” skryf Sulizna van den Berg.

“Ek het grootgeword met 7de Laan en het soveel by hierdie sepie geleer,” skryf Henrico Plaatjies.

“Ek kyk al 7de Laan vandat ek in die laerskool was, want dit het my gehelp met Afrikaans,” skryf Olerato Masisi.

“Ek het lief geraak vir die sepie en ek is al jare klaar met skool, maar ek geniet dit steeds om daarna te kyk. 7de Laan help baie kinders daar buite met die Afrikaanse taal.”

Volgens berigte het 7de Laan teen Junie vanjaar sowat 1,19 miljoen kykers gehad, wat dit die Afrikaanse sepie met die hoogste kykergetal op die kassie maak, en die tweede gewildste program op SABC2 naas Muvhango, wat 1,4 miljoen kykers het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Aai ·

Ag nee mense hoekom nou dit doen dit is afgesaag baie beter ander programme op.

louis ·

Hoekom….. Raak ontslae van die stuk twak wat nie die ware beeld uitdra nie

Euodia ·

Wie kyk 7de laan?? As hulle minder nuwe gesigte inbring sal daar geld wees om die bestaande akteurs te betaal.

Josua ·

Eenvoudig mense, as julle die artikel gelees het behoort jy reeds die antwoord te kry!!!! OMDAT DIT N AFRIKAANSE SEPIE IS!!! En die veit dat kykers aanklank gevind het onder alle kultuurgroepe en bevestig het dat hulle daaruit geleer het asook hul AFRIKAANS opgeskerp het en dit laat rooi ligte afgaan vir die regering want Afrikaans moet “sterf” en moet uitgeroei word want dit is n apartheid taal, maar vergeet hulle dat dit n taal is wat saamgebring is deur amper al die wereld tale saam in een taal en is hier in SUID AFRIKA gebore wat dit absoluut uniek maak. Net soos toe Fanagalo in ons myne gestig was, niks te doen met enige apartheid of slawe taal nie net n briljante idee en denkwyse gewees om verskillende kulture en taal gebruikers bymekaar te bring sodat almal om een tafel kan sit en instruksies deel en sodoende mekaar verstaan en saam tot n oplossing kon werk en sodoende veiligheid verseker maar politiek het ingemeng mense opgesweep om hul eie agenda te dryf.

MJLS ·

Van die ander Afrikaanse sepies is ook al gekanselleer. Hoekom het jy hulle nie so verdedig nie? Die Turkse telenovelles is in elk geval beter as 7de Laan en hulle word oorgeklank na Afrikaans.

Gaitsigubib ·

My vrou het in die 1900’s iewers die show gekyk. Mr Notnagel was toe nog die prokereur…

JuanRe ·

Jis lag ek nou lekker hoor!!! Toe Evelina nog hoender lewertjies gemaak het vir ontbyt. :-)

Jannie van Niekerk ·

Ek het 7de Laan nog nooit gekyk nie maar indien die produk nie winsgewend is nie sou ek ook nie aangaan hiermee nie,

Johann ·

Gaan vir die SABC oor die kyker profiel…nie die getalle nie. Het seker ‘n alternatiewe “produk” for the people?

Vonkprop ·

Ag nee man, wie wil nou nog baklei vir die sepie wat al 10 jaar terug halt moes geroep het. Ek sal eerder ‘n petisie teken om dit vroeër te stop. Ek voel vir die akteurs wat ‘n inkomste kwyt is, maar as jy talent het behoort jy gou weer reg te kom. Ek persoonlik voel 7de Laan het akteurs se talent verkleineer met die simpel storielyne en volgens my verdien die akteurs baie beter rolle en respek as wat hulle in 7de Laan vertolk het.

Juanita ·

Ag nee wat, die skrywers is al tien jaar terug uit idees uit. Dis ‘n mors van tyd wat nie herwin kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.