Dertien dood in twee ongelukke in Noordwes, KZN

Vier mense het op die toneel naby Ramsgate in KwaZulu-Natal gesterf. (Foto: Netcare 911)

Dertien mense is Saterdagmiddag dood in twee afsonderlike ongelukke in Noordwes en KwaZulu-Natal.

In Noordwes is agt mense dood toe twee voertuie reg van voor op die R378 tussen Vryburg en Ganyesa in Noordwes gebots het, het Sello Lehari, LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoer in Noordwes, gesê.

Volgens Lehari het drie vroue onherkenbaar verkool toe hul motors kort ná die ongeluk in vlamme opgegaan het. Dit het die reddingspoging van ander slagoffers in die voertuie erg bemoeilik.

ʼn 29-jarige vrou en haar drie maande oue baba is ook ernstig beseer en is na ʼn plaaslike hospitaal geneem. “Die baba het gesterf kort nadat hulle by die hospitaal aangekom het,” het Lehari gesê.

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

“Ons wil ons diepe medelye met die families van die oorledenes betuig en wens hulle sterkte toe in hierdie moeilike tyd. Dit is moeilik om die dood van ʼn geliefde te verwerk, en selfs meer só as hul afsterwe so tragies is.”

Hy het motoriste gemaan om veilig te ry, veral in die lig van die naderende feestyd.

In ʼn afsonderlike voorval is vier mense op die N2 naby Ramsgate aan die KwaZulu-Natalse Suidkus dood.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici was omstreeks 17:00 Saterdag op die toneel waar vier voertuie in ʼn ongeluk betrokke was.

“Paramedici het vier mense op die toneel dood verklaar. Nog twee mense is ernstig beseer en nog ses pasiënte het ligte beserings opgedoen.

“Die beseerde pasiënte is op die toneel behandel en nadat hulle gestabiliseer is, is hulle met verskillende ambulansdienste na hospitale vir verdere behandeling geneem,” het Herbst gesê.

Luidens berigte is ʼn vyfde persoon later in ʼn hospitaal dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hercules ·

is die baie ongelukke dalk agv die feit dat soveel lisensies onder die tafel aangekoop kan word??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.