Deurbraak ná moord in Langebaan  

Estelle Eksteen (61) (Foto: Facebook)

ʼn 51-jarige man sal na verwagting vandag in die Hopefield-landdroshof aan die Weskus verskyn in verband met die moord op Estelle Eksteen.

Van Eksteen se besittings is in die verdagte se besit gevind waarna hy in hegtenis geneem is, het ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, gesê.

Eksteen (61) se liggaam is Sondag in haar huis in Langebaan ontdek. Volgens Swartbooi het ʼn familielid van die oorledene op haar liggaam afgekom in die huis in Sunbird-rylaan in Myburghpark waarna die polisie ontbied is.

Die oorledene het talle steekwonde gehad en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Die moord op Eksteen het die gemeenskap van Langebaan in skok gelaat. Myburghpark word as ʼn besonder veilige gebied in Langebaan geag.

Heinrich Mettler, munisipale bestuurder, het vroeër aan Maroela Media gesê hierdie soort voorvalle is ongewoon vir dié Weskus-gemeenskap.

Veiligheidskameras regoor sewe Weskus-dorpe is reeds aangebring om misdaad in die omgewing te voorkom en te bekamp. Hierdie dorpe is Hopefield, Vredenburg, Paternoster, Saldanhabaai, Jacobsbaai, St. Helenabaai en Langebaan.

“Hierdie moord het in ʼn besonder veilige omgewing gebeur, waar eienaars self ekstra veiligheidsmaatreëls tref. Ons sal weer moet besin oor prioriteitsareas waar veiligheid opgeskerp moet word.

“Tans ervaar ons ʼn ongewone uitdaging in ons gemeenskap, maar dit is wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamstaan en saam mekaar se leed deel”, het Mettler gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan haar gesin, vriende en almal wat haar geken het. Mag onse Liewe Heer julle almal deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

Bolandse Nooi ·

Dit wil my voorkom – hoe meer sekuriteit (kameras) hoe meer moorde. Dit sit klaarblyklik nie would-be misdadigers af nie.

Papsak ·

Ons is nerens meer veilig nie nie in SA maar bly hulle het hom sterkte aan haar familie en gesin was so onnodig regtig

Frederik ·

Nee wat hoe meer beskerming en voorsorg getref word , des te meer wil die vuilgoed daar in kom. Skuil eerder by ons hemelse Vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.