Deurbraak ‘op hande’ ná inbraak by SA Rugby-kantoor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

Die polisie sê inhegtenisnemings is op hande nadat daar vroeër vandeesweek by twee kantore – onder meer dié van SA Rugby – by ʼn kompleks in Plattekloof, Kaapstad, ingebreek is. Die boewe het onder meer weggekom met skootrekenaars en peperduur drank.

Maroela Media het vroeër berig twee goedgeklede mans het die kantoorpark ingekom en met ʼn wit Toyota Corolla na een van die kantore, die laaste in die kantoorpark, gery. Hulle het ʼn venster op die grondvloer oopgedwing en die gebou binnegegaan.

By Saru House, die kantoor van SA Rugby, het hulle volgens die polisie getekende Springbok-aandenkings, skootrekenaars en waardevolle drank gebuit. Talle skootrekenaars is ook van die ander maatskappy gesteel.

Die boosdoeners het daarna die gebou verlaat en weggery.

ʼn Saak is later by die Parow-polisiestasie aangemeld.

“As deel van die uitgebreide ondersoek wat verder as die grense van die Wes-Kaap strek, is twee verdagtes in Gauteng aangekeer. Hulle word ondervra met die oog op die aankeer van die oortreders,” sê brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.

SA Rugby het by navraag bevestig waardevolle trofees, waaronder die Webb Ellis-beker wat die Springbokke tydens die onlangse Wêreldbeker-rugbytoernooi verower het, is veilig.

Speurders verbonde aan die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad ondersoek die inbraak en het al verskeie leidrade opgevolg.

“Met die vordering wat tot dusver gemaak is, is ʼn deurbraak op hande. Nadat die twee [verdagtes] formeel aangekla is, sal hulle in ʼn Kaapstadse hof verskyn,” sê Potelwa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacobus ·

Net in die Weskaap waar die polisie nog iets beteken. Dan wonder party mense nog hoekom die Weskaap wil afstig.

Delia ·

Speurdets van die Geweldsmisdaad afdeling word ingespan om Springbok aandenkings, duur drank, skootrekenaars te soek tot binne in Gauteng. Geen wapen, aanranding, moord betrokke. Waar was die geweldsmisdaad. Ons prioriteite is nie reg. Nee Wes Kaap, hierdie toets dop julle.

M ·

Kry asseblief ‘n nuwe Sekuriteitsmaatskappy met interne hoogstaande waardes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.