Die Britse sakeman Shrien Dewani se verhoor op aanklag dat hy sy vrou Anni vermoor het, is Donderdag uitgestel nadat hy en sy vermeende medepligtige oor maagprobleme gekla het.
Die veroordeelde moordenaar Mziwamadoda Qwabe se kruisondervraging sou Donderdagmiddag hervat, maar hy het aan adjunkregterpresident Jeanette Traverso gesê hy voel siek. Hy het gesê hy wil nie kla nie, maar hy sukkel al sedert Woensdagaand met maagkrampe en die medisyne wat hy ontvang het, werk nie.
Traverso het gesê sy kan hom nie dwing om voort te gaan nie. Sy wou weet waar hy Woensdagaand geëet het, en Qwabe het bevestig hy het in die gevangenis aandete ontvang. Hy dien tronkstraf van 25 jaar uit vir sy rol in Anni se moord.
Hy het bevestig hy is te ongemaklik om voort te gaan om te getuig.
Francois van Zyl, vir Dewani, het in hierdie stadium bygevoeg sy kliënt het dieselfde probleem. Van Zyl het vroeër die oggend om verskoning gevra nadat ʼn breek in die verrigtinge langer as gewoonlik geduur het, weens Dewani se ontstelde maag.
Die verhoor hervat Maandag, aangesien kriminele verhore nie Vrydae in die hooggeregshof sit nie.
Daar was reeds ʼn aantal vertragings in die verhoor weens die klankstelsel in die hof.
Qwabe en Xolile Mngeni het op 13 November 2010 ʼn bussie in Gugulethu, Kaapstad, gekaap waarin Dewani en sy vrou Anni gery het. Sy is doodgeskiet en haar liggaam is die volgende dag in Khayelitsha op die agtersitplek van ʼn verlate taxi opgespoor.
Die staat voer aan Dewani het die taxibestuurder Zola Tongo genader om ʼn huurmoordenaar vir R15 000 te kry.
Mngeni is lewenslange tronkstraf opgelê omdat hy die sneller getrek het en Tongo is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord.
Dewani het onskuldig gepleit op aanklag van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, sameswering om die misdade te pleeg en dwarsboming van die gereg.
Lees alle vorige berigte oor Shrien Dewani op Maroela Media.
Hy gaan Dewani deur die drif kry nie!
Theuns – slim seun! Jy laat my vroeg-vroeg lag!
Dis maar net ‘n vorm van die SHEIKS wat hy het – hy het gou geleer. As ek die aanklaers is hou ek sommer kopseerpille byderhand – ingeval hy kopseeer het; Pectrolyte vir maagkrampe; pleisters vir ‘n seer vinger ens ens – as hy weer kla, jaag hom ‘n dop in van watookal en gaan aan met verhoor. Dis alles net nonsens om geld te mors en tyd te koop.
Is dit April ???
Gee vir hom ‘n sweet en water en hy is reg. Dit net verdomde aansittery. Hy probeer net tyd wen. Kry nou klaar met die snert en sluit hom op vir ewig. Julle mors baie mense se tyd en geld.
smaak my hy is nou letterlik en figuurlik in die k……