Dié handelsmerk kos Sseta R302 000

Die onderwys- en opleidingsgesag vir die dienstesektor (Sseta). (Foto: Facebook)

ʼn Handelsmerk op ʼn tenderboks wat veronderstel was om nagenoeg R10 000 te kos, het eindelik die onderwys- en opleidingsgesag vir die dienstesektor (Sseta) R302 000 uit die sak gejaag.

Dít omdat die maatskappy wat verantwoordelik was vir die ontwikkeling en druk van die handelsmerk op die tenderboks glo die prys met ʼn yslike 8 000% opgeblaas het.

Die drukgroep Outa het nou strafregtelike klagte aanhangig gemaak teen diegene wat glo by die transaksie betrokke was.

Rudie Heyneke, Outa se portefeuljebestuurder, sê ʼn polisieondersoek is gevra na Andile Nongogo, voormalige uitvoerende hoof van Sseta en huidige uitvoerende hoof van die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS), asook een van sy oudkollegas, Duduzile Mwelase.

Anania Baloyi en Ngwenya Baloyi, albei van Five Stars Communications and Projects (Five Star), se betrokkenheid gaan glo ook ondersoek word. Five Star is ʼn diensverskaffer van Sseta en was verantwoordelik vir die ontwikkeling en drukwerk op die betrokke tenderboks.

Ten tyde van die beweerde bedrog was Anania die enigste werknemer van Five Star. Haar seun, Ngwenya, was die maatskappy se besturende direkteur.

Outa vra dat al vier ondersoek word vir beweerde bedrog en korrupsie, terwyl Nongogo en Mwelase ook ondersoek word vir die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Volgens Heyneke het Outa die beweerde onreëlmatighede met die tenderboks opgespoor terwyl ander verdagte Sseta-tenders ondersoek is.

“Ons ondersoek het onreëlmatighede aan die lig gebring met die betrokke Five Star-tender. Die tender is toegeken vir ʼn tydperk van 19 maande – van 22 Augustus 2016 tot 31 Maart 2018 – vir die ontwerp, ontwikkeling en verskaffing van handelsmerkpromosie-items soos en wanneer deur Sseta vereis word,” sê hy.

Five Star het in hierdie tyd verskeie items gelewer waarop Sseta se handelsmerk pryk en is eindelik byna R37 miljoen vir hul dienste betaal.

Op 27 Januarie 2018 het Five Star ʼn kwotasie by Sseta ingehandig vir die ontwerp en druk van ʼn handelsmerk op ʼn bestaande tenderboks. Die kwotasie was slegs vir die handelsmerk, aangesien die tenderboks – ʼn houtkas – reeds verskaf is. Nongogo se handtekening het op die kwotasie verskyn.

Dit het R302 010 beloop en het bepaalde elemente ingesluit:

  • Skyfievoorbereiding – R1 650
  • Skyfie-aanbieding – R660
  • Ontwerp en uitleg – R72 600
  • Skyfieduplisering – R23 100
  • Drukwerk – R102 000
  • Laminering – R102 000

Dié tenderboks het die duur handelsmerke op. (Foto: Outa)

Op 12 Februarie 2018 het Sseta se senior handelsmerkbestuurder, dus Mwelase, die tenderboks met die handelsmerk daarop ontvang. Nongogo het die betaling van die faktuur gemagtig en op 1 Maart is Five Star R302 010 betaal – soos op die faktuur aangedui.

“Ons het tydens ons ondersoek duidelikheid by Sseta gevra oor verskeie kwessies rakende die tender,” sê Heyneke.

“Ons het ook bewyse gevra dat die tenderboks in die Sseta-bateregister aangeteken is, en teen watter waarde dit gedoen is. Sseta het bevestig dat die tenderboks teen ʼn waarde van byna R10 000 in die bateregister aangeteken is.”

Verlede maand het Outa selfs na Sseta se kantore gegaan om die tenderboks te ondersoek. Dit is bedek met wit viniel waarop die Sseta-logo’s gedruk is.

Outa het ʼn kwotasie by ʼn gerespekteerde druk- en handelsmerkmaatskappy in Gauteng gevra vir hoeveel dit sou kos om só ʼn handelsmerk op ʼn tenderboks te druk. Die kwotasie was sowat R3 700.

Heyneke sê dit is duidelik dat Five Star vir Sseta gans te veel kwoteer het.

“Sseta se destydse uitvoerende hoof en werknemers wat hierdie kwotasies en betalings goedgekeur het, was aandadig aan die plundering van openbare geld.”

Oor die 19 maande wat Five Star werk vir Sseta gedoen het, is altesame 29 kwotasies ingedien en betaal.

“Nog strafregtelike klagte oor ander transaksies sal binnekort volg en Outa beplan om sy bevindings aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te oorhandig vir verdere ondersoek. Ons is steeds besig met ons ondersoek na hierdie en ander tenders by Sseta wat toegeken is aan entiteite wat nou verbonde is aan Ngwenya,” sê Heyneke.

“Die hoë pryse wat deur diensverskaffers gehef word, is onaanvaarbaar. Maatskappye wat hierdie buitensporige pryse gehef het en amptenare wat die betaling van opgeblase tenders goedgekeur het, moet almal verantwoordelik gehou word vir die misbruik van belastingbetalers se geld.

“Outa wil verder hê dat alle verskaffers wat só optree op die databasis van die nasionale tesourie se beperkte verskaffers gelys word sodat hulle hoegenaamd nie met staatsentiteite sake sal kan doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Is daar geen “checks en balances” nie? Het niemand gese whoa wat gaan hier aan?

Misky ·

Waar is die dae wat paar kwotasies verkry moet word en pryse vergelyk moet word? Nee wat, as die ou met die regte “van” onderaan geteken het, dan kry hy die tender. Dankie BBBEEEEE

Sandra ·

Ek is duidelik in die verkeerde professie. Dis nou weer ‘n boetie boetie ding. Hoekom is daar nie iemand wat die goed nagaan voor hulle betaal nie? Dit is nie asof hulle die hele ding moes herontwerp nie, die logo is klaar daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.