Dié ligte weer aan ná Pta-substasie brand

Herstelwerk word in die reën aan die Mooikloof-substasie gedoen. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die Stad Tshwane kon kragtoevoer na 1 500 huishoudings en sakeondernemings in Moreletapark in die ooste van Pretoria herstel nadat ’n brand dae gelede by die Mooikloof-substasie uitgebreek en groot dele van die stad sonder elektrisiteit gelaat het.

Inwoners van Pretoriuspark, Mooikloof, Olympus, Bosveld en ’n deel van Garsfontein sit egter nog sonder krag terwyl die reën wat die afgelope twee dae uitgesak het, nou boonop die herstelwerk vertraag, sê Hilgard Matthews, woordvoerder van die Stad Tshwane.

Matthews sê al die geraakte huishoudings kan ongelukkig nié in die stadium tydelik heraangesluit word nie as gevolg van die konfigurasie van die elektrisiteitsnetwerk.

Herstelwerk word in die reën aan die Mooikloof-substasie gedoen. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Dit blyk egter dat die skoonmaak van die gebrande substasie se terrein ondanks die reën goed vorder terwyl 26 beskadigde panele reeds verwyder kon word. Die nuwe panele staan gereed om na die perseel vervoer te word sodra die dak herstel is.

Daar is Saterdag met die montering van die substasie se dak begin.

“Die werk aan die dak moes egter weens beroepsgesondheid- en veiligheidsmaatreëls opgeskort word aangesien sweiswerk in die nat toestande die lewe van die sweisers in gevaar stel en die substasie ook omring is deur hoëspanning transmissielyne wat geneig is om weerlig te trek.”

Matthews sê die werk aan die substasie se dak sal na verwagting Maandag voltooi word indien die weer dit toelaat.

Daar sal ook môre met die toetsing van alle mediumspanningkabels vir die substasie-toevoergebiede begin word en herstelwerk van foutiewe kabels sal uitgevoer word sodra dit geïdentifiseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Magda ·

Hoop hulle doen goeie ondersoek, want iemand is besig om Eskom te saboteer.

pompies ·

Ek neem aan die mense wat solar krag kan bekostig gaan nou solar laat installeer. Ek was verplig om weens mediese redes solar te installeer en my eltrisiteit rekeing het met R2000:00 gedaal. Finansier die solar en dit betaal vir dit self met die besparing en oor 5 jaat het jy vry en gratis krag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.