Dié matriekvraestelle mag herskryf word

(Foto: Maroela Media)

Die departement van basiese onderwys het toestemming gegee dat sommige matriekeindeksamenvraestelle herskryf mag word in gevalle waar leerders weens omstandighede buite hul beheer nie die eksamen kon aflê nie.

Dit sluit onder meer onluste in wat in sekere dele van die land plaasgevind het en leerders verhoed het om eksamenlokale te bereik.

“Gedurende die skryf van die eksamens het die departement verskeie versoeke ontvang dat sommige kandidate toestemming moet verkry om vraestelle in sekere vakke te herskryf. Verskeie redes is verskaf om dié versoeke te staaf,” het die departement Sondag gesê.

Die departement het die versoeke van provinsiale onderwysdepartemente oorweeg, en daar waar geldige redes verskaf is – wat nie weens die leerders se eie toedoen was nie – het die departement en Umalusi toestemming gegee dat sommige vakke herskryf mag word.

Herskryfgeleentheid is vir die volgende vakke goedgekeur:

Wiskunde Vraestel 2Departement van onderwys in Mpumalanga
Wiskunde Geletterdheid Vraestel 1Departement van onderwys in die Oos-Kaap
Wiskunde Geletterdheid Vraestel 2Departement van onderwys in Mpumalanga, Oos-Kaap en Noordwes
Ekonomie Vraestel 1Departement van onderwys in Gauteng
Engels (Eerste addisionele taal) Vraestel 1Departement van onderwys in Limpopo en die Wes-Kaap
Rekenaartegnologie Vraestel 1(Provinsie nie aangedui nie)
Inligtingstegnologie Vraestel 1(Provinsie nie aangedui nie)

 

Die geldige redes wat aan die departement verskaf is, sluit in kandidate wat tegniese probleme met die skryf van eksamens weens beurtkrag ondervind het; 53 leerders aan die Phand’umfundo Secondary School in Gauteng wat Ekonomie Vraestel 1 weens die optrede van die hoof misgeloop het; 127 leerders van sewe skole in Witbank, Mpumalanga, wat hul eksamens weens protesoptogte gemis het; twee swanger leerders van die Wes-Kaap en Limpopo wat nie toegelaat is om Wiskunde Vraestel 2 te skryf nie; drie leerders van Noordwes wat hul eksamen weens oorstromings gemis het; en vier Oos-Kaapse leerders wat Wiskunde Vraestel 1 ook weens die optrede van die hoof misgeloop het.

Die departement sê die probleem rakende Wiskunde Vraestel 2 is ook uitgeklaar.

“Daar is bevind dat vraag 5.1 (7 punte) foutief was. Dié vraag sal van die merkproses uitgesluit word.”

Maandag sal 215 van die 222 matriekeksamenvraestelle klaar geskryf wees. Met die jongste vergunning deur die departement sal die eksamen Donderdag 8 Desember voltooi wees. Merksessies skop op 10 Desember af en sal teen 22 Desember afgehandel wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Die vak se korrekte naam is WiskunDIGE Geletterdheid, nie Wiskunde Geletterdheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.