Die ‘parasiet’ wat land se gesondheidstelsel gaan vernietig

Foto ter illustrasie. (Foto: Lizma van Zyl/Verskaf)

“Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ʼn ANC-geskepte parasiet wat eindelik ook die land se private gesondheidsektor gaan vernietig.”

Só meen Philip van Staden, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor gesondheid.

“Gesondheidsorg in Suid-Afrika sal onder volle ANC-beheer in duie stort soos alles in ANC-beheer totdat daar, soos met die huidige openbare gesondheidsektor, niks van oorbly nie.”

Van Staden sê die waarheid van die NGV is dat dit ʼn politieke foefie van die ANC is om stemme te kry vir die 2024-verkiesing. Dit beloof alles vir almal, maar eindelik gaan daar niks vir niemand oorbly nie.

“Wat gebeur het met die land se krag, water en alle ander dienste onder die ANC, moet as ‘n harde en tydige waarskuwing dien oor die pad wat gesondheidsorg gaan loop. Die VF Plus sal hierdie wetgewing op elke manier moontlik teenstaan, en doen ʼn beroep op elke regdenkende Suid-Afrikaner om die party hierin te steun.”

Hy meen dit is teleurstellend dat pres. Cyril Ramaphosa vasberade is om die NGV ten alle koste op die wetboek te kry, al roep die bewyse vanuit staatshospitale oor grootskaalse verval ten hemele.

“Dit is daarom ook duidelik dat die president hom opsetlik siende blind en horende doof hou oor die realiteit van die situasie.”

Benewens die onuitvoerbare belofte van gratis gesondheidsorg aan elke Suid-Afrikaner in ruil vir stemme, is daar natuurlik ook die vooruitsig van die gewaande pot goud aan die einde van die NGV-reënboog vir die ANC.

“Veral kommerwekkend, is dat daar in die wetsontwerp, soos met die Covid-19-ramptoestand, geen voorsiening gemaak word vir enige parlementêre oorsig of toesig oor die NGV-fonds nie. Alle magte oor die fonds is in die hande van ʼn minister en die kabinet. Die fonds (dus die ANC), ondersoek self klagtes en hanteer self die appèlprosesse oor probleme. Dit is die vergryping na absolute mag en eintlik ʼn blote nasionaliseringsprojek.

“Die gesegde van Lord Acton lui dat mag korrupteer en volmag ten volle korrupteer. Die VF Plus kan daarom vandag reeds die waarborg gee dat die fonds tot op die been gestroop sal word net soos met die Covid-19-noodfonds gebeur het.”

Die VF Plus sê dat ʼn gesondheidstelsel ontwerp en bestuur moet word deur kundiges op elke gebied wat betrokke is, in besonder mediese kundiges, en nie deur ANC-politici of amptenare nie. ʼn Stelsel met die doel om nie die een ter wille van die ander te vernietig nie, maar ʼn werkbare stelsel wat ontwerp word deur mediese beroepslui wat beide die openbare en private sektor kan insluit.

Die VF Plus meen ook dat die NGV nie ʼn grondwetlike toets sal slaag nie en dit is ʼn uitgemaakte saak dat verskeie rolspelers dit in die Grondwethof sal toets.

Uiteindelik sou die gesprek en debat oor ʼn NGV in die eerste plek nie nodig gewees het indien die ANC nie toegelaat het dat die openbare gesondheidstelsel in duie gestort het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

kaplyn ·

Die ANC kan nie met enige fonds vertrou word nie. Die padongelukke fonds is bankrot gevreet en SASRIA is ook bankrot gevreet. So sal die sal die NGV ook bankrot gevreet word.

KatjieDeKat ·

Vir ons wat opofferings maak om n mediese fonds te kan bekostig is hierdie absoluut onaanvaarbaar. Ons betaal sodat ons kinders darem in n noodgeval spoedige en kwaliteit sorg kan kry wat hul lewens kan red. Wat gaan nou met ons kinders en kleinkinders gebeur? Ek dink nie eens aan ons volwassenes nie maar ons kinders se lewe of sterwe hang in die balans!

JvR ·

Dit is n “catch 22” situasie. Aan die een kant is daar mediese fondse wat in my oë meer n ;iramiede stelsel is as wat dit in die 70’s en 80’s was. Die reels verander gereeld. Mense se “spaarplanne” word vinnig uitgeput. Noodsaaklike behandeling word gereeld geweier omdat dit bv as kosmeties gesien word. Ek sien gereeld afgekeurde eise in my werk omdat sekere nuwe toestande skielik nie gedek word nie. Ens ens ens. Aan die ander kant die patetiese publieke “gebrek aan gesondeid” stelsel. Die kaapse staats hospitale aan die ander kant, laat gauteng se privaat hospitale soos veld hospitale lyk. As dit die standaard gaan wees landwyd, sien ek geen probleem. Maar ek twyfel of dit sal.

De Bok ·

Ja, mediese fondse is ‘n absolute bedrog-spul, maar ons is almal te bang om iets daaraan te doen.

JvR ·

Soos voertuig versekering ook n bedrog spul is waarsonder mens nie kan klaarkom nie

Aries ·

Nog n “ANC”- Another national crisis- Alles waaraan die ANC raak verander in n onomkeerbare krisis

JvR ·

Dit is juis die rede waarom hul deur hoër magte in bewind geplaas is. Die wat dink hul was ingestem, leef in lala land

Geert ·

Ek voel die ANC deel geld wat nie hulle sin is om te gee nie links en regs uit, soos ons nou weer sien met die NGV onsin. Hoe is dit moontlik dat hulle dit kan deurvoer, of is ons dalk nie meer n demokrasie nie maar al reeds n totalitêre staat.

Etienne ·

Tyd om hulle een vir een te begin wegbere…David moes tog Goliat bere?! Dis al

Eclectus ·

Ja wel, gereken in die lig van die swak ongeërgde versorging wat ons die afgelope jaar in beide Life en Netcare hospitale ervaar het, sou ek reken ons is basies reeds daar, Cyril moet net teken.

Yolandie ·

Gesondheid sorg vir almal is ‘n pyp droom wat oorgewaai het van Amerika (Obama care) wat selfs ‘n land so welvarend soos Amerika nie eers aan hulle burgers kon bied nie. In Kanada waar gesondheid sorg “gratis” is betaal hulle deur hulle nekke belasting daarvoor. Hierdie plan gaan vir die reeds swaar belaste belasting betaler se rekening wees. En dit gaan die einde van ons gesondheidsorg in sy huidige vorm wees. Die begin en die einde.

Fran ·

Hierdie swak regering sal enigeiets doen om in beheer te bly van die staatskas.

Ettienne ·

Versorging in privaathospitale is deesdae net marginaal beter. Hoë en dikwels onbekostigbare private dokterstariewe en hoë onbekostgbare mediesefondskostes? Heelwat parasiete ook in die privaatsektor wat beteken groot groepe mense kan nie mediesesorg bekostig nie. Wat deesdae in die privaatgesondheidssektor gebeur speel ‘n groot rol in die instelling van die NHI …

Jsgroen ·

Kan ook nie privaat medies bekostig en moet noodgedwonge staat medies gebruik en is amper seker hulle my jongste se dood veroorsaak. Sal dit mos natuurlik nie erken. Met die huidige staat medies is mens ook nie jou lewe seker. Daar is wat goed is, maar ongelukkig nie naby ons.

Elma ·

President en sy kaders het nie n saak nie. Hulle en al hulle familielede vlieg sommer Switserland toe vir die beste mediese behandeling, en werk sommer n spa dag ook in.

Vanessa ·

Die ANC het reeds alles vernietig waarop ons voorheen so trots was. Hou op om vir die ANC te stem, kan julle nie sien hulle lieg vir julle!!!! Hulle maak leë beloftes. Ons land gaan ten gronde a.g.v. julle wat hulle ondersteun. Word wakker.

ES ·

Jip – net nog ‘n fonds waar die kaders skep en skep totdat daar niks meer oor is nie.

Andries ·

“Dit is daarom ook duidelik dat die president hom opsetlik siende blind en horende doof hou oor die realiteit van die situasie.” Jy moet ‘n koginatiewe breinfunksie hê om die realiteit te besef. Duidelik is dit nie beskikbaar nie.

JohanR ·

pres. Cyril Ramaphosa is ‘n Jekyll en Hyde! Vertrou hom net nie een bietjie nie…..twee gesig!

Papsak ·

Ek stem genoeg is genoeg stem hulle uit vinnig ook hulle klaar alles verwoes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.