Dié Schuster-flieks nou permanent van Showmax verwyder

Die aanlyn stromingsdiens Showmax het Vrydag bevestig dat hy vyf van Leon Schuster se flieks permanent gaan verwyder. Een van Schuster se flieks is weer op Showmax beskikbaar.

Maroela Media het vroeër berig Showmax het ses van Schuster se flieks tydelik van sy platform verwyder vir hersiening in die lig van die #Blacklivesmatter-betogings in die VSA. Die films You Must Be Joking! (1986), You Must Be Joking Too! (1987), Oh Schucks … It’s Schuster! (1989), Sweet ʼn Short (1991), Schucks! Pay Back The Money! (2005) en Frank & Fearless (2018) is verlede week vir hersiening verwyder om te bepaal of dit moontlik “rasse-onsensitief” is.

Showmax het gesê ná die hersiening is slegs Frank & Fearless weer beskikbaar op die platform. “Die ander vyf sal nie beskikbaar wees nie. Ons besef die flieks is ʼn produk van hul tyd en is geskep met ʼn positiewe doel,” aldus ʼn verklaring.

“Showmax is ʼn vermaakdiens en ons keur nie die siening of optrede goed wat in flieks of reekse op ons platform plaasvind nie. Dit is nie ons plek om vir mense te sê wat reg of verkeerd is of wat hulle aanstootlik moet vind nie. Maar ons sal besluite neem oor inhoud waarmee ons gemaklik is om te vertoon.”

Showmax het gesê soortgelyke platforms, waarvan hy deel is, het ʼn rol om te speel om mense saam te bring deur gedeelde ervaring. “Ons wil nie wegskram van polariserende gesprekke nie, maar ons wil ook nie verdeeldheid saai nie. Ons gaan nie altyd die balans regkry nie, maar ons sal ons bes doen om te luister en uit ons foute te leer.”

Maroela Media het vroeër berig sosialemediagebruikers is verdeel oor die besluit met sommige wat voel dat Schuster se films geen kwaad doen nie en dat dit juis rasse met mekaar vereenselwig op ʼn humoristiese wyse. Ander was egter ten gunste van Showmax se besluit aangesien hulle voel dat Suid-Afrika meer bewus moet wees van die euwels van die gebruik van “blackface” in rolprente.

“My flieks verenig mense, dit dryf nie mense uitmekaar nie,” het Schuster vroeër aan Maroela gesê. “My doelwit was nog altyd om mense sover te kry om saam te staan as een.”

Hy was uit die veld geslaan toe ʼn joernalis hom gebel het oor sy films wat van Showmax se platform verwyder is. “Ek het amper ʼn hartaanval gekry. Ek is in die gesig gevat. Dit is my beroep. Dit voel asof alles tevergeefs was. Dit is asof jy byna 40 jaar lank aan jou droomhuis bou en dan eendag kom ʼn tornado en verwoes daardie huis,” verduidelik hy.

Schuster het gesê hy is kwaad oor Showmax se besluit. “Hoe is dit ʼn demokrasie as hulle met jou kuns moeilikheid soek? Dit is onregverdig. Ek is die slagoffer van wat in Amerika aangaan,” verduidelik hy.

Schuster hou vol dat hy geen rassistiese bedoeling met sy films het nie, maar slegs een doel voor oë: om sy kykers, van alle rasse, te vermaak. “Ek doen dit vir die fun, om die mense te laat lag. Die lewe en hierdie land is so swaarmoedig. Ons het veral nou hierdie soort flieks nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Eugene ·

My kommentaar is totsiens Showmax ek dink die besluit is uiters rassisties en het niks te doen met die rassistiese blm maar is net weer iemand wat buig voor die afgod

Hendrik ·

Weereens n bewys van hoe die liberale media alle gebeure filter sodat die mensdom se denke gevorm kan word volgens hulle siening. Ironies hoe hulle vryheid v spraak verkondig, maar die teenoorgestelde doen. Showmax het baie Gods-lasterlike films wat eerder verwyder kon word.

Manie ·

Hoe jammer dat sulke waardevolle lewenskatte velore gaan en gemis sal word deur onsinnige snert besluite Sterkte ou Leon ons sal staande bly ongeag die ruggraatlose bestuite

Mallie ·

Dis so belaglik. Black lives matter. Wat van ons oumense en boere? Matter hulle lives nie?

Andre ·

Dan gaan hulle seker die rassistiese grondwet ook verban. Baie beraders word benodig.

Erika ·

Dit is so Tipies van korrekte liberals Dit is algemeen bekend dat die wat Hardste skree “rassisme” is self rassiste..en jy moet eenvoudig soos n skapie volg..en nie” onkorrekte uitsprake” lewer oor reg/verkeerd nie

christo ·

Ek het die Leon Schuster se flieks destyds aan ‘n klas vol swart kinders vertoon. Hulle was gek daaroor. Trevor Noah het gevind dat die vertonings wat hy voor Suid-Afrikaanse gaste gedoen het, as rassisties ervaar het in die VSA.
Ons kan saam lag oor hoe hy ons, die verskillende rasse , uitgebeeld het. Ek het in fliekteaters gesit met ‘n gemengde gehoor en almal het geskaterlag. Maar, die rasbehepte Amerikaners gun mekaar nie die son nie. Ag, ons kan mos sien dat húlle nie eers maskers wil dra om mekaar te beskerm nie.

Jan ·

Nog ‘n media-gedryfde histerie oor nietighede wat buite verhouding opgeblaas word.

Cindy ·

Ek het juis daaroor my Showmax subskripsie gekanselleer. Ek het nie tyd vir hierdie rassisme nie

Juffrou ·

Showmax wat van die onsinnige snert van Trevor Noah én Casper de Vries!?

Pietie ·

Dankie vader is so bly dis verwyder. dit al so afgesaag. Om dit oor en oor te kyk vir hoeveel jare.

katerinadiekat ·

Leon se flieks is in my opinie belaglike platvloetse kinderagtige snert. Definitief nie my smaak nie. Vir my is reekse soos Frasier en die Britse komedies soos One Foot in the Grave skreeusnaaks. Maar almal het maar hul eie smaak. Wat ek moet se, is dat sy flieks nie rassisties is nie. Vertraag ja, maar nie rassisties nie.

marthie ·

Dis regtig stupid hys nie ‘n rasis nie en almal het hom gelike. Maak nie saak watse ras nie. Nou kla sekere klomp sekere van Leon se movies is rassisties ag nee man. Hy het almal vermaak. Almal het dit geniet. Wat gaan volgende wees. Regtig hy is mens mens en almal lag saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.