Die vet weet, ons moet hokaai!

(Foto: iStock)

Die ikoniese Farmer Brown-hoenderadvertensie uit die tagtigerjare: “Hulle smaak so lekker, want hulle eet so lekker” het oor die jare in die volksmond na “hulle lyk so lekker, want hulle eet so lekker” verander om (op ’n neerhalende wyse) na oorgewig mense te verwys. Intussen is net so lekker op die maat van DJ Ossewa se treffer “Ek lyk so lekker (want ek eet so lekker?)” geskoffel. Tog is gewig allermins (en ál minder) ’n grap, veral op ons eie voorstoep.

Altesaam 50% van alle volwassenes in Suid-Afrika is verlede jaar luidens die Global Obesity Observatory as oorgewig of vetsugtig (obees) geklassifiseer. Sowat 24% is oorgewig (waarvan 27% vroue en 23% mans is), terwyl 26% vetsugtig is (41% hiervan is vroue en 11% is mans).

Boonop beur hierdie koers net verder opwaarts. As niks daaraan gedoen word nie, gaan ons teen die volgende dekade baie swaar trek, met vetsug by 11 miljoen vroue en 5 miljoen mans, of 37% van Suid-Afrikaanse volwassenes. Dit maak ons een van die twintig mees vetsugtige lande, en waarskynlik teen 2030 ook een van die tien lande met die hoogste vlakke van vetsug by kinders, met ongeveer 28% van 15- tot 19-jariges wat as vetsugtig geklassifiseer kan word.

’n Moderne wêreldepidemie

(Foto: iStock)

Suid-Afrika is nie alleen in sy droewige versuim om dié al groter wordende probleem te stuit nie. Meer mense is vandag oorgewig of vetsugtig as ooit tevore in die geskiedenis. Trouens, vetsug word in die meeste dele van die wêreld as ’n moderne epidemie beskou wat die lewe van meer as vier miljoen mense per jaar eis. Wêreldwye vetsug het sedert 1975 byna verdriedubbel, met ongeveer 13% van volwassenes wat vetsugtig is en nagenoeg 40% wat oorgewig is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het in Mei verlede jaar ’n druippunt aan die meeste lande toegeken en voorspel nou nie nét dat die grootste deel van die wêreld die 2025-doelwit gaan mis om vetsug tot 2010-vlakke te verlaag nie, maar dat die voorkoms van vetsug wêreldwyd, veral onder kinders, teen 2030 inderdaad wéér gaan verdubbel.

Daar word geraam dat meer as 1,9 miljard mense teen 2035 vetsugtig gaan wees, oftewel ’n skokkende kwart van die wêreldbevolking. Benewens die lewensgevaarlike gesondheidskwessies wat hiermee verband hou, word die ekonomiese impak op $4,32 biljoen (“trillion”) geraam.

Die Wêreldvetsugdag word elke jaar op 4 Maart gevier en fokus vanjaar (benewens op broodnodige bewusmaking) veral op die aanknoping van gesprekke oor onder meer die rol van genetika en voedselbemarking as bydraende oorsake, asook op die belangrikheid van gesondheidsorg om oorgewig en obesiteit of vetsug daadwerklik aan te pak.

Wat is vetsug en hoe word dit gemeet?

(Foto: iStock)

Daar is ’n regstreekse verband tussen gewig en algemene gesondheid. Vetsug word dikwels as die oorsaak van veelvuldige komorbiede (gelyklopende) en chroniese mediese toestande beskou, insluitend tipe 2-diabetes, beroerte, hartsiektes en sommige vorms van kanker.

Die algemeenste metode om vetsug te meet, is die liggaamsmassa-indeks (BMI) wat ’n persoon se gewig (in kilogram) deur sy/haar se lengte (in meter) kwadraat verdeel. Medies gesproke, kan BMI-tellings soos volg afgebreek word:

  • >18,5 = ondergewig
  • 18,5 tot <25 = gesond
  • 25 tot <30 = oorgewig
  • 30 tot <35 = vetsugtig (klas 1)
  • 35 tot <40 = vetsugtig (klas 2)
  • 40 of hoër = vetsugtig (klas 3 – morbied of dodelik).

(Foto: iStock)

BMI is nie ’n perfekte maatstaf nie en dikwels die onderwerp van gewigtige gesprekke in die gesondheidsektor. Dit gee soms ’n baie hoër telling aan atletiese individue wie se hoë BMI-telling nie aan oortollige liggaamsvet te wyte is nie, maar aan spiere wat baie digter as vet is. (Bereken gerus jou eie BMI hier.)

’n Gewigtige saak

(Foto: iStock)

Wêreldwye kommer oor vetsug as ’n risikofaktor vir nieoordraagbare siektes en openbare gesondheid is met rede aan die toeneem. Dit verhoog die risiko vir ernstige siektes en verdriedubbel die risiko om gehospitaliseer te word.

Lande soos China, Brasilië en Suid-Afrika word veral geraak, met toenemende koerse van vetsug op alle ekonomiese vlakke en in elke ouderdomsgroep. Openbare gesondheidsprogramme in Afrika suid van die Sahara het oor die laaste dekade meestal op die uitwissing van ondervoeding en aansteeklike siektes gefokus.

Terwyl ondervoeding by kinders in landelike gebiede steeds ’n probleem is, word vetsug en verwante nieoordraagbare siektes soos tipe 2-diabetes, hipertensie en iskemiese hartsiektes (IHD), wat voorheen hoofsaaklik in ontwikkelde lande voorgekom het, toenemend onder alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika waargeneem.

Hoewel die genetiese geneigdheid tot vetsug waarskynlik nog altyd bestaan het, het daar die afgelope paar generasies geweldig baie veranderinge in ons omgewing plaasgevind wat gewigstoename aanvuur. Ons spandeer al hoe meer tyd op ons sitvlak in die motor of voor die rekenaar, en ons eet al meer hoogs verwerkte voedsel en kitskos. Oorgewig kinders het ’n baie hoër risiko as volwassenes vir allerhande kwale soos hartsiektes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, tipe 2-diabetes, gewrigsprobleme, asma, slaapapnee, galstene en galblaas-probleme.

Die oorsake van vetsug is kompleks, en kenners meen dat mense met vetsug nie al die skuld dra nie. Alle mense ervaar soms korttermyn- en chroniese spanning wat tot hormoonskommelings en veranderings in genetiese materiaal kan lei en gewigstoename asook chroniese siektes in die hand kan werk. Hierdie spanning sluit chroniese slaaptekort, armoede en baie ander soorte trauma in.

(Foto: iStock)

Vyf vinnige wenke

  • Neem genoeg vloeistof in: Dehidrasie veroorsaak dat jou liggaam water opgaar en om jou middellyf stoor.
  • Trek ’n pakkie neute nader: Neute is ryk aan mono-onversadigde vette wat jou langer versadig sal laat voel.
  • Moenie ontbyt mis nie: Die minerale in suiwelprodukte, soos kalsium, kalium en magnesium, help om natriumgeïnduseerde opgeblasenheid teë te werk.
  • Gaan stap: Indien moontlik, 30 minute per dag. Vergeet van daardie winskopie op katoeters wat maagspiere in ’n japtrap belowe.
  • Ontspan: As jy gespanne is, verhoog jou liggaam die produksie van steroïede en streshormone, asook kortisol (die veg of vlug-hormoon, wat oortollige vet onmiddellik om jou middel laat saampak in ‘n poging om jou lewensorgane te beskerm).

* Bykomende bronne: World Obesity Day, WHO, Daily Maverick, SA Sugar, Wits Universiteit, National Library of Medicine, BMC Public Health, Forbes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.