Dink weer oor Engels in Wes-Kaapse howe, maan taalaktiviste

hof-hamer

Argieffoto.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het ʼn beroep op regter John Hlophe gedoen om sy besluit terug te trek om Engels as enigste amptelike taal van die hofrekord in die Wes-Kaapse howe in te stel.

ʼn Omsendbrief is verlede week onder alle regsverteenwoordigers in die Wes-Kaap versprei wat bevestig het dat Engels vanaf 28 Februarie 2018 nou die enigste amptelike taal sal wees waarin hofverrigtinge en hofdokumente in die provinsie gehanteer sal word. Die opdrag is deur regter Hlophe, die regterpresident van die Wes-Kaapse hooggeregshof, onderteken.

Tiaan van Dyk, ʼn woordvoerder vir VRA, het gesê die besluit is ʼn voorbeeld van ʼn growwe skending van die Grondwet.

“Hlophe het ook in April 2017 ʼn soortgelyke opdrag gegee. Die opdrag gee voor om ter nakoming te wees van ʼn besluit wat in 2015 deur hooggeregshofhoofde onder Hlophe se voorsitterskap geneem is en wat op 31 Maart 2017 bekragtig is om Engels as die enigste amptelike taal van hofrekords in Suid-Afrika se hoër howe in te stel.

“Die VRA doen ʼn beroep op regter Hlophe om die besluit onmiddellik terug te trek. Hy moet ook verduidelik op watter regsgesag, hetsy konstitusioneel of wetgewend – die besluit in die eerste plek geneem is.”

Die VRA is van mening dat daar geen grond vir so ʼn besluit is nie en het die manier waarop die besluit geneem is as “onderduims” beskryf en gesê die regter se optrede is “betreurenswaardig”.

“Dit is geneem sonder die geringste sweem van voorafgaande raadpleging. Nie eens die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) is geraadpleeg nie,” het Van Dyk bygevoeg.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie betwis steeds die reg van die Forum van die Hoofde van die Howe om die taalbesluit te neem. “Die hele proses is na ons mening nie regsgeldig nie, want die regte kanale is nie gevolg nie. Dis ook nie in ooreenstemming met die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale nie.

“Verder word voorgegee veeltaligheid is die beskikbaarstelling van tolke vir getuies en dat dit voldoende is. Die kwelvrae oor die bekwaamheid van Suid-Afrikaanse tolke waaroor baie berig is die afgelope tyd word nie aangespreek nie.”

Bailey meen ook die reg van Afrikaanssprekende regslui of regslui met enige ander moedertaal buiten Engels om in hulle eie taal te werk word op hierdie wyse heeltemal miskien.

“Bowendien is die invloed veel meer omvattend – die kliënt moet byvoorbeeld die verrigtinge kan deurwerk op eie stoom om te besluit oor appèl. Nou het die kliënt net toegang tot Engelse hofstukke of moet die stukke op eie koste en met eie risiko laat vertaal. En dis maar een voorbeeld. Sommige uitsprake is gedetailleerd. Weer eens word die aansoeker alleen met die uitspraak gelaat en moet probeer verstaan wat van hom of die teenparty vereis word.

“Voorbeeldsake vir regstudente is dan ook net in Engels, so watter aanmoediging is daar om in Afrikaans of Xhosa of Zoeloe te studeer? Die besluit kan beklee word op alle moontlike maniere, maar dit bly ʼn botsing teen alle internasionaal aanvaarde standaarde van taalregte en regte van aangeklaagdes en slagoffers,” het Bailey gesê.

Sy het bygevoeg die spoed van sake en koste word dikwels as verskoning gebruik waarom veeltaligheid in howe nie ʼn werkbare oplossing is nie. “Dat geregtigheid geskied, moet die vernaamste oorweging wees. ʼn Verkeerde uitspraak kos die staat baie duurder as werklike veeltalige dienslewering.”

Cerneels Lourens, ʼn prokureur en taalaktivis, het gesê sy standpunt was nog altyd dat taal in die howe bestuur moes word. “Die benodig egter kundige taalbestuurders. Dit is duidelik dat hierdie besluit taalonverdraagsaamheid versterk en dus eintlik maar ʼn besluit teen Afrikaans is – des  te meer in die Wes-Kaap waar Afrikaans baie sterk verteenwoordig is. Gemeet aan internasionale standaarde, is dit duidelik onregverdige taaldiskriminasie.”

Volgens die VRA is die besluit kennelik ongrondwetlik, onredelik en prosedureel onbillik. “Dit is dus ooglopend nie bindend op enige beampte van die hof nie en geen beampte van die hof behoort daaraan uitvoering te gee nie.

“Die besluit is trouens niks anders as ʼn gebrekkig politieke misstap nie, wat blatant teen die eintlike bepalings van die Grondwet indruis. Dit is betreurenswaardig dat die regter, wat die toonbeeld van grondwetlike nakoming behoort te wees, inderdaad die leiding neem om inbreuk te maak op die konstitusionele mandaat om die gebruik en status van die land se inheemse tale te bevorder.”

Die VRA is van mening dat die portefeuljekomitee vir justisie die hoofregter dringend moet ontbied om sy besluit te verduidelik.

“Wat die regter eintlik vanuit die staanspoor moes doen, was om ʼn doeltreffende stelsel te skep wat die gebruik van die onderskeie amptelike tale op so ʼn wyse moontlik kon maak dat die beste belang van die publiek daardeur gedien word – ʼn verantwoordelikheid wat hy ingevolge artikel 8 van die Wet op Hoër Howe (nr. 10 van 2013) moes nakom. Dit is duidelik dat die regter nagelaat het om daardie verpligting na te kom,” het Van Dyk bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johan ·

Dat ‘n regter wat die Grondwet moet ken en kan verstaan en reg interpreteer so ‘n besluit neem, is eintlik ‘n klad op sy naam as regter.

Maar dit is net weer ‘n bewys dat die mense in beheer dit teen Afrikaans het – orals. Selfs “objektiewe regters”.

Ek begin al hoe minder respek kry vir sekere sogenaamde regters. Hul rassistiese onderrok hang maar sleg uit.

Piet Snot ·

Ek’s bly ek’s nie die enigste een wat getwyfel het oor die regsbasis vir dié besluit nie.

Ja neh ·

Ek werk vir n landbou groothandel. Kooperasie soos die ou mense gese het. In die afgelope 3 jaar word Engels orals ingedwing. Ons afrikaanssprekendes word oorgesien. Alle poste en alle eposse word deur Menslike Hulpbronne net in Engels deurgestuur. Die jong personeel, weier om afrikaans te praat. Almal natuurlik regstellende poste soos deur die regering voorgeskryf. Maar ons boere en mense wat in Afrikaans grootgeword het moet net eenvoudig verlief neem. Dat n boere instelling wat afhanklik is van afrikaanse boere………dit aan sy eie mense doen is vir my die laagste laag. Soms wens ek die boere wil net elders hul besigheid vat.

PJC ·

Hierdie hoofregter hoort nie in sy pos na die debakel met die twee regters van die grondwetlike hof wat hy probeer beïnvloed het nie. Die saak sloer nou ook al jare en daar gebeur net mooi niks en alles as gevolg van die ernstige tranformasie van die RDK.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.