Discovery gaan inenting verplig; regering oorweeg inentingspaspoort

(Foto: Unsplash)

Terwyl Discovery vandag een van die eerste maatskappye in Suid-Afrika geword het om aan te kondig dat hy sy werknemers gaan verplig om ingeënt te word, het die regering gesê inentingspaspoorte sal een van die oorwegings wees om die land se ekonomie weer aan die gang te kry.

Volgens Discovery gaan hy van volgende jaar af werknemers verplig om teen Covid-19 ingeënt te word. Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, het gesê die plan is om die beleid van 1 Januarie 2022 af te implementeer.

Gore het bygevoeg dat die verpligte inentingsbeleid werknemers se reg om die inenting te weier erken en dat daar ʼn proses in die beleid ingebou is om dit te bestuur, insluitend, waar nodig en moontlik, vrystellings en tegemoetkoming van werknemers, met inagneming van die operasionele en besigheidsvereistes van Discovery. “Hierdie proses sal die werknemer se gesondheid-, godsdienstige en ander wettige regte in ag neem en poog om dit te balanseer met die regte van alle werknemers in die hele groep.

“Ons sal ons bes doen om elke werknemer tegemoet te kom, aangesien ons besef dat elke saak anders is. Ons sal nie ʼn algemene oorkoepelende benadering volg nie, maar sal eerder ʼn regverdige en billike proses gebruik wat die regte van werknemers, die veiligheid van ons werkplekke en bedryfsvereistes in balans bring.”

Inentingspaspoort

Mondli Gungubele, minister in die presidensie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Mondli Gungubele, minister in die presidensie, het intussen Donderdag gesê pres. Cyril Ramaphosa het opdrag gegee dat daar gekyk moet word na alle moontlikhede om aktiwiteite in die land te hervat en die ekonomie aan die gang te kry te midde van die Covid-19-pandemie.

Dit sluit in die moontlikheid van ʼn inentingspaspoort waarvolgens mense belet kan word om sekere persele te betree indien hulle nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

Op ʼn vraag aan Gungubele oor wanneer daar moontlik na ʼn laer vlak van die inperking beweeg sal kan word, het hy gesê dit sal afhang van die infeksiekoers, gesondheidsorgfasiliteite se vermoë en of daar aan gesondheidsmaatreëls soos die dra van maskers voldoen word.

Oor wanneer Ramaphosa weer die land sal toespreek, het Gungubele gesê dit sal afhang van wat op die volgende vergadering van die nasionale koronavirusbevelsraad besluit word.

Die kabinet het intussen die verleninging van die nasionale ramptoestand tot 15 Oktober goedgekeur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.