Dlamini-Zuma swyg steeds oor ramptoestandbesluite

(Argieffoto: Facebook)

Dr. Nkosazana-Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering, bly in minagting van ʼn hofbevel wat gelas dat sy verskeie rekords oor haar 2020-ramptoestandbesluite aan Sakeliga moet voorsien. Sakeliga het daarom nou begin met ʼn proses om die minister aan minagting van die hof skuldig te laat verklaar.

Dlamini-Zuma moes kragtens ʼn bevel wat Sakeliga op 9 November 2022 bekom het, ʼn verskeidenheid rekords waarop sy gesteun het toe sy die nasionale ramptoestand in Maart 2020 afgekondig het en telkens daarna verleng het, teen 22 Desember 2022 aan Sakeliga oorhandig. Sy het dit nie gedoen nie.

In plaas daarvan het die staatsprokureur, in opdrag van Dlamini-Zuma, rekords oor geïsoleerde besluite wat reeds in die openbare domein beskikbaar is, gelewer. Daarop het Sakeliga ʼn verlengde sperdatum van 6 Januarie 2023 aan die minister gestel.

“In reaksie op die verlengde sperdatum het die staatsprokureur bokse lêers by ons prokureurs se kantore afgelewer – sowat 3 800 bladsye – wat uitsluitlik bestaan uit dokumente vir publieke deelname en navorsingsdokumente wat verband hou met die April 2020-verbod op die verkoop en verspreiding van tabak,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Die geheel van die 3 800 bladsye is regstreeks gekopieer uit hoflêers in ʼn destydse geding oor die verbod op tabak waarin die minister ʼn respondent was.”

Geen vergaderingnotules, interdepartementele korrespondensie en konsepregulasies is voorsien nie.

Sakeliga het nou die staatsprokureur versoek om teen 11 Januarie Dlamini-Zuma se versuim om rekord te lewer na bevrediging te verduidelik. Hierdie stap is deel van ʼn deeglike proses wat gevolg moet word om iemand aan minagting van die hof skuldig te laat verklaar.

“Die volgende waarskynlike stap is ʼn hofaansoek. Alhoewel dit reeds duidelik is dat Dlamini-Zuma Sakeliga en die hof probeer dwarsboom, is dit ‘n prosedurele vereiste dat haar minagting in ‘n verdere hofaansoek bewys moet word. Sodoende kan die minister gedwing word om óf die rekords te openbaar óf deur tronkstraf in die gesig gestaar te word.”

Le Roux sê Sakeliga bly daartoe verbind om staatsamptenare se mag in toom te hou. “Al het Dlamini-Zuma haar besluite grootliks of volledig met die ondersteuning van president Cyril Ramaphosa geneem en al was Ramaphosa meestal die een wat die laatnag-aankondigings gedoen het, is Dlamini-Zuma die fokus van hierdie aansoek omdat sy as minister van samewerkende regering en tradisionele sake regtens vir die besluite verantwoordelik was. Sy is dus die aangewese bestemming vir ‘n inligtingsversoek en daaropvolgende hofbevel.”

Die inligting wat die hof Sakeliga toegestaan het, sal lig werp op die besluite van Dlamini-Zuma en ʼn regering wat vir meer as twee jaar lank met ongekende arbitrêre diktate en inperkings groot skade aangerig het.

“Sakeliga spreek die hoop uit dat ons reeds verkreë hofbevel en enige voortspruitende minagtingsaansoeke lede van die publiek in staat sal stel om die staat verantwoordbaar te hou vir skadelike besluite van die verlede en om soortgelyke besluite in die toekoms af te weer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Koos 100 ·

En nou lyk dit my hulle wil weer hierdie dooie perd opsaal. Geen burger in hierdie land mag ooit weer toelaat dat ons deur sulke mags misbruik gaan nie. Ons ekonomie is verwoes terwyl regerings ampsdraers hulself verryk het met PPE tenders. So terloops, is daai fonds wat CR geskep het, al ooit geoudit?

Robert ·

Ongelooflik hoe hulle niks bevraagteken nie, seker daai vet tjek om still te bly?

Johann ·

Eenvoudig onaantasbaar, onverandwoordbaar. Dien NET wat SY wil…en net wat sy WIL…wat nie juis iets is nie. ANC LEGACY!!!!!!!

Johan ·

Ek hou daarvan. In “The crocodile that ate the sun” word daar n “mooi” (dalk eerder tipies Afrika) verhaal vertel van hoe die Afrika held, Mugabe destyds eenvoudig die Polisie met sambokke in die hofgebou ingestuur het om bietjie pak uit te deel omdat hulle hom aangevat het, ek dink ons is naby daaraan hier in SA.

Anel ·

Die ou vrou kan niks meer onthou nie. Sy en haar gespuis hoort in ‘n ouetehuis!!!!!

Mallie ·

Kan CR nie ontslae raak van die magsbehepte vrou nie. Sy het genoeg skade aan gerig.

Ilze ·

Dit is nou sy kans om haar te jaag. Sy het hom lekker in die rug gesteek met Desember verkiesing

annie ·

Vra sommer ook afskrifte van die telefoongesprekke van haar edele met die hoof van die WGO en so meer aan en van haar bankstate oor die termyn vir groot rampmisbruik en -maskerades.

Papsak ·

Ag asb laat sy net gaan sy is te oud al hoekom steek sy goed weg want daar was nog nooit so virus nie

Prikkie ·

Maar sy is te oud, sy weet nie waarvan Sakeliga praat nie, want daar was nog nooit sodanige dokumente nie.

Besluite is bloot lukraak geneem.

Nico ·

Die eerste Covid19 is nog nie eers behoorlik klaar en verby nie nou is die 2de Covid19 weer aan die gang. Wil auntie Zuma en die president nou werklik die land verwoes wat in gelyk toestand soos Zimbabwe sal wees.Die regering kan dit mos doen, volgens die regering het hulle die reg om dit te doen. Dit is presies wat die ongeskooldes doen.

Alex ·

Praat ons nou van die reels dat geen gaargemaakte hoender verkoop mag word nie. Alkohol seker tye verkoo mag word, geen oop skoen of klere drag nie ens… Dit was die stupid reel wat ek aan kan dink.

Riana ·

En intussen begin hulle alweer die land toespreek oor die kamtige bedreiging

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.