Dominee Dawie het diep spore getrap

Dawie de Villiers (Foto: SARugby)

Dit was ʼn koue wintersagtermiddag in Julie… die dag toe daar Springbokproewe op Loftus Versfeld gehou is en daar groot skandes gemaak is.

As ek reg onthou was dit voor die toetsreeks teen Greg Davis se Wallabies in 1969.

Dit was nogal ironies dat die Springbokkeurders nie heeltemal seker was van hoe die Bokspan moes lyk wat die Wallabies in vier toetse moes pak nie, want hulle het immers die Britse Leeus in 1968 met 4 – 0 in die reeks geklop en aan die einde van die jaar albei toetse teen die Franse in Frankryk gewen.

Die Springbokskakelpaar in al ses dié toetse was Dawie de Villiers, wat ook die Springbok-kaptein was, en die losskakel Piet Visagie.

Maar om die een of ander rede wou die Pretoria-ondersteuners dié middag niks van De Villiers en Visagie weet nie. Hulle wou eerder vir Piet Uys en Jannie Barnard in die Groen-en-Goud hê.

Die keurders begaan boonop die groot fout deur Visagie, wat straks vir die Waarskynlikes (A-span) teen die Moontlikes (B-span) gespeel het, tydens die wedstryd om te ruil. Loftus het gegil en gejil en toe sommer ook De Villiers se bloed gesoek.

Male sonder tal het hulle uit een mond “Uys, Uys, Uys” gedreunsang, maar die keurders wou nie daaraan byt nie. Hulle het De Villiers (ook as kaptein) en Visagie vir die toetsreeks teen die Wallabies behou, wat die Bokke met 4 – 0 gewen het.

De Villiers het net in die eerste toets op Ellispark gespeel voordat hy beseer is en deur Dirkie de Vos in die volgende twee toetse vervang is. De Villiers het herstel en was in die vierde toets weer op sy pos.

Ondanks die afjak wat De Villiers die dag op Lotus gekry het, was hy baie gewild.

Hy was nie verniet die goue seun van rugby nie, getoë in Stellenbosch, wat met sy wippende blonde kuif baie diep spore in sy 25 toetse getrap het.

Sy grootste oomblik van glorie was straks in 1970, toe hy die Bokke tot ʼn reeksoorwinning van 3 – 1 oor die All Blacks aangevoer het.

Die All Blacks was sedert die derde toets teen die Springbokke in 1965 in 17 toetse onoorwonne en is allerweë as die wêreld se beste span beskou.

Boonop was hy dominee Dawie wat in Wellington sy daaglikse brood as predikant verdien het.

Ek onthou nog hoe hy een Sondagoggend in die Pretoria-Oos-kerk skuins oorkant Loftus Versfeld die erediens waargeneem het. Dit was nadat hy die Saterdagmiddag nog Curriebekerrugby gespeel het en toegejuig is.

Daar was nie plek vir ʼn muis in die kerk nie en ook nie in die saal langsaan nie.

Toe die preek verby was, het honderde kerkgangers buite op dominee Dawie gewag, om sy hand te skud, om vergifnis te vra, om saam met hom en sy vrou, Suzaan, ʼn koppie tee te drink.

De Villiers is vanselfsprekend uitgevra oor daardie dag op Loftus, maar hy het diplomaties gesê dat hy nie die voorval kan onthou nie.

De Villiers het in 1962 sy Springbokbuiging gemaak en in 25 toetse gespeel, waarvan hy 15 keer aan die wenkant was en net ses daarvan verloor het. Vier van die toetse was gelykop.

Hy het drie toetsdrieë gedruk en sy wenpersentasie was 68%.

Hy het altesame 53 keer vir die Bokke (25 toetse en 28 toerwedstryde) gespeel, asook 15 keer vir die Boland, nege keer vir die Westelike Provinsie, sewe keer vir Transvaal, een keer vir die Junior Springbokke, vyf keer vir die Gazelle, twee keer vir SA Barbarians en ook twee keer vir die SA Platteland.

De Villiers is Saterdagaand in sy huis in Stellenbosch ná ʼn lang stryd met kanker oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.