‘Dooie rotreuk’ lei tot gruvonds

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Die ondraaglike reuk van ʼn “dooie rot” het gelei tot die ontdekking van die liggaam van ʼn vrou wat ʼn week tevore deur haar kêrel, Tjakke Wilco “Willie” Wilkens van KwaZulu-Natal, met ʼn hamer en mes vermoor is.

Wilkens het Dinsdag in die Durbanse streekhof skuld beken aan die moord op sy meisie, Sharon Sudding, op 19 September vanjaar.

Hy het in sy verklaring aan die hof erken dat hy nie geweet het wat om met haar liggaam te doen nadat hy haar vermoor het nie. Hy het dit toe in die klein eenslaapkamerhuisie waar die paartjie saam gebly het, gelos. Die blyplek is op die erf van sy werkgewer, vir wie hy as ʼn motorelektrisiën gewerk het.

Wilkens het gesê hy was vir vier en ʼn half jaar lank in ʼn verhouding met Sudding en dat sy hom gedurig mishandel het. Hy beweer dat hy gereeld “onder druk” was en “emosioneel vertrap” is.

“Sy het my verskeie kere aangeval en voorheen my neus en van my ribbes gebreek. Voor haar moord het ek nooit my hand vir haar gelig nie,” het hy in sy verklaring gesê.

Die dag van Sudding se moord het Wilkens die oggend opgestaan en vir haar ʼn koppie tee gemaak voordat hy werk toe sou gaan.

“Sy het ʼn slukkie gevat en my toe met die koppie tee gegooi. Ek is nie ʼn aggressiewe mens nie, maar op daardie oomblik het ek heeltemal beheer verloor. Baie pyn en vrees het skielik uitgekom.”

Hy het toe ʼn hamer gegryp en haar hard daarmee geslaan voordat hy haar ook verskeie kere met ʼn mes gesteek het.

“Dit het stil geraak en ek het geweet ek het iets verkeerd gedoen. Ek het haar opgetel en op die bed gesit en ʼn kombers oor haar gegooi voordat ek werk toe gegaan het.”

Wilkens het gesê hy het nie geweet wat om met die liggaam te doen nie en dit het vir ʼn week daar gelê. Hy beweer hy wou homself aan die polisie oorgee toe hy op 28 September in hegtenis geneem is.

Sy inhegtenisneming volg nadat sy werkgewer die polisie ontbied het oor die ondraaglike reuk wat uit die huisie gekom het.

Wilkens se werkgewer het vier dae voor sy inhegtenisneming die onaangename reuk opgemerk en hom daaroor uitgevra. Hy het aan sy werkgewer gesê dit is heel waarskynlik ʼn dooie rot. Wilkens het onderneem om iets daaraan te doen, maar die reuk het net erger geraak.

Sy werkgewer het later onraad vermoed en die polisie ontbied waarna Sudding se liggaam gevind is.

Wilkens is kort daarna by sy broer se huis in hegtenis geneem.

Hy is Dinsdag deur landdros Nanette Otto tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Otto het gesê hy kon enige tyd die verhouding verbreek het en dat die mishandeling nie ʼn rede was om ʼn lewe te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vic ·

Miskien moes hy haar deur die badkamerdeur geskiet het, dan’t hy 8 maande gekry, nie 8 jaar nie…….

celeste ·

Dis n vreeslike storie, maar ek dink mense besef nie hoe mans ook verniel word deur hulle eie vrouens nie. Mans wil dit maar net nie rapporteur nie, want hulle dink dit maak hulle swak. Ek dink mans moet meer opstaan teen aanranding en verkragting teen vroue, dan sal mens n heel ander prentjie sien. Ons hoor altyd vet van vrouedag en vroueregte ens. Maar ek dink mans moet dieselfde ondersteuning kry. Se maar net!

Jakoba ·

Mans rapporteer dit nie omdat niemand hulle ooit wil glo nie en mense gewoonlik die spot dryf met hulle. Ander mans dink dit is ‘n grap, todat hulle self in dieselfde situasie beland. Daar kleef ‘n stigma aan so iets.

FJD ·

ek stem saam met Celeste – mans word net so mishandel deur vroue maar te skaam om dit te openbaar

Eish! ·

Wel vlg SA se wet is 8jaar eintlik lank. Onthou Oscar het minder gekry. En ten minste erken die man hy het dit gedoen. Oscar weier om sy skuld te erken. Dit maak hom ‘n gevaarliker misdadiger volgens my.

MM ·

Dis waar wat Celeste en FJD se. Ek was vir baie lank by die SAPD betrokke en het sulke klagtes hanteer.
Teen die tyd wat die man die moed gehad het om dit aan te meld was dit al baie jare se mishandeling. Onthou dit is ‘n verskriklike vernedering vir ‘n man as sy vrou hom mishandle.

Genis ·

Ek het ‘n man geken wat homself gereeld beseer het om sy vrou sleg te laat lyk en hulle gesamentlike bates vir homself in te palm. Sy pragtige vrou het stil gebly en als verduur, selfs die gemeenskap het haar verwerp. Wat hy nie geweet het nie was dat sy hom in die geheim met haar selfoon se videokamera opgeneem het terwyl hy haar aanrand en homself daarna beseer. Met genoeg bewyse het sy hom uitgegooi en beskerming vir haar gekry. In die skeihof het hy goed op sy neus gekyk. Jy wen hulle met breinkrag en God aan jou kant en nie jou vuiste nie. Onthou dit mense.

francis ·

Hoe eronies!!!!!!!!!!!!!! Hul word toegesluit vir moord maar die wat verkrag ern plaas moorde pleeg word daar niks aangedoen ni

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.