Doppio Zero nou in Spur-kraal

In 2002 het die deure van die eerste Doppio Zero-restaurant in Greenside, Johannesburg, geopen. (Foto: Facebook)

Die Spur-groep is nie net mense wat die lewe smaak nie, maar nou ook ʼn groep met koffie, Italiaanse geregte en Indiese kookkuns in sy stal.

Die restaurantgroep het Donderdag aangekondig dat hy nog nismarkte betree deur ʼn 60%-aandeel in die Doppio-groep te koop. Die groep is bekend vir restaurante soos Doppio Zero, Piza e Vino en Modern Tailors. Die restaurante is onderskeidelik bekend vir hul koffie, Italiaanse en Indiese geregte.

Val Nichas, uitvoerende hoof van die Spur-groep, sê die aandeel in die Doppio-groep sal die Spur-groep ʼn hupstoot gee met restaurante wat veral bedags klante lok en sal boonop ook die groep se “toetrede tot die spesialiteitskoffiemark versnel”.

“Ons strategie is om ons aanbieding na ander kategorieë en markte uit te brei waar ons onderverteenwoordig word,” sê hy.

“Ons spesialiteitshandelsmerke bestaan ​​tans uit 40 restaurante van The Hussar Grill, Nikos en Casa Bella, maar sowat 71% van die omset word aan aandetes toegeskryf.

“Die aantrekkingskrag van die Doppio-groep is dat dit ons spesialiteitsportefeulje byna sal verdubbel en ons groep in staat stel om sy aandeel in restaurante wat veral bedags doenig is, aansienlik te vergroot.”

Paul Christie en Miki Milovanovic het in 2002 die deure van die eerste Doppio Zero-restaurant in Greenside, Johannesburg, geopen en die handelsmerk het sedertdien van krag tot krag gegaan.

Die Doppio-groep het nou 37 franchise-restaurante en restaurante in die maatskappy se besit. Aan die einde van die 2022-’23-boekjaar was die Doppio-groep se totale verkope meer as R600 miljoen.

Doppio, wat “dubbel” in Italiaans beteken, verteenwoordig die dubbel nul (00) gradering van die beste gemaalde meel wat in pizzas, pasta en soetgoed gebruik word.

Volgens Nichas komplementeer Piza e Vino, ʼn pizzeria-restaurant, die Spur-groep se huidige Italiaanse aanbieding, wat Panarottis en Casa Bella insluit.

Die mees onlangse toevoeging tot Doppio se handelsmerkportefeulje is die pasgemaakte Modern Tailors-restaurant wat deur Indiese kookkuns geïnspireer is.

Christie sê die Doppio- en Spur-groep deel dieselfde etos van gasvryheid en verstaan dus ​​“die belangrikheid daarvan om ʼn wonderlike eetervaring te skep”.

“Ons besluit om met die Spur-groep saam te werk strook strategies met ons visie om ons pasgemaakte handelsmerke na meer streke in Suid-Afrika en die vasteland uit te brei.”

Altesame 669 werknemers van die Doppio-groep sal na die Spur-groep oorgeplaas word en Christie en Milovanovic sal vir minstens vyf jaar as uitvoerende beamptes aanbly.

Die oorgang sal na verwagting vanaf 1 September van krag wees wanneer al die voorwaardes en kennisgewings van die Mededingingskommissie afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Martie ·

Gaan ook nou kinderrestaurant word waar jy gedurig moet koes vir ballonne en kinders wat onder jou sitplek rondkruip. Soek dit nie meer op my ouderdom nie.

Goldy ·

Nou gaan doppio hulle karakter verloor en net nog n stempeldruk vannaf die korporatiewe hoofkantoor word.

Waarom ·

Nog nooit weer by Spur geëet na hulle ras debakel nie. Sal ook nou Doppio nie weer besoek nie.

Ryan ·

Ek stem. Ons is dankbaar dat ons nou weet waar orals ons nie moet gaan ondersteun nie. Dankie vir die berig mm.

Charles ·

Ek skiet nie jou stelling af of jou gevoelens oor die plek nie, maar ongelukkig is julle in die minderheid en die plekkie maak bosse vol geld.

Goldy ·

Dis reg, Spur en Doppio gaan nie meer vir die tradisionele mark nie, dis vir die jong staatsamptenare en hulle groot gesinne.

Nommer 7 ·

Die Spur waarheen ek gaan se personeel is almal wit Unisa studente, meesal afrikaanssprekend.

Charles ·

Melk koffie. En jy’s reg,hopeloos te duur. Maar ek maak dit baie lekker by die huis.

Wielspore ·

Ons was onlangs in Port Elizabeth en Jeffreysbaai omgewing op verlof en gebruik gemaak van nie agentskap eetplekke. Dit was opmerklik dat ons goeie diens, goeie kwaliteit kos en waarde vir geld ervaar het. Ondersteun gerus hierdie eetplekke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.