Dowe student se onderwysdroom bewaarheid

Imran Bodalaji (Foto: Stefan Els)

Die dowe student Imran Bodalaji (29) droom al van die ouderdom van 16 jaar om ʼn onderwyser te word en ondanks talle uitdagings het hy vanjaar sy BEd-graad aan die Universiteit van Stellenbosch (US) voltooi. Hy is die tweede dowe student om ooit hierdie graad aan die US te behaal.

Tien jaar nadat Bodalaji gematrikuleer het, ontvang hy sy onderwysgraad en kan eindelik sy droom bewaarheid om dowe leerders Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) aan te leer. Hy wil op só ʼn manier ander dowe studente die kans gee om die nodige onderrig sonder enige struikelblokke – soos wat hy moes verduur het – te ontvang.

“Dowe leerders moet eindelose geleenthede gegun word om te groei – op skool en ná skool – sodat hulle enigiets wat hulle wil, kan bereik,” sê Bodalaji.

Bodalaji het tydens ʼn gradeplegtigheid verlede week sy graad ontvang.

Van hoofstroomskool na skool vir dowes

Bodalaji is op Worcester gebore en was ses maande oud (in 1993) toe sy familie uitgevind het dat hy doof gebore is.

Hy was eers in ʼn hoofstroomskool, maar is in gr. 3 na die De La Bat-skool – ʼn skool op Worcester wat in die behoeftes van dowe leerders voorsien – oorgeskuif vir die res van sy laerskoolopleiding.

“Die skuif van ʼn hoofstroomskool na ʼn skool vir dowes het my baie gehelp, want ek het ingesluit gevoel en gevoel ek word verstaan. Ek kon ʼn band met die onderwysers en medeleerders vorm, aangesien gebaretaal my gehelp het om inligting reg te verstaan. Dit het my akademiese en holistiese prestasie verbeter,” vertel Bodalaji.

Bodalaji droom al van gr. 9 af daarvan om ʼn onderwyser te word, danksy die inspirasie van sy oorlede ouma, Ayesha Bibi Dawood, en onderwysers by sy skool se “onbeperkte liefde, ondersteuning en motivering”.

Nadat hy in 2012 matriek voltooi het, het hy ʼn kursus in vroeëkinderjare-ontwikkeling (vlak 4) by die Nasionale Instituut vir Dowes se kollege in Worcester voltooi. Hy het in 2014 by die Worcester-kampus van Boland-kollege ingeskryf om vlak 5 van die kursus te voltooi.

“Danksy liplees en die ondersteuning van my medestudente wat hulle klasaantekeninge vir my geleen het, het ek vlak 5 geslaag.”

Toegewydheid

Bodalaji moes egter toe uitvind hy benodig ʼn toepaslike onderwyskwalifikasie om as opvoeder te kwalifiseer, aangesien vlak 5 hom slegs toegerus het om ʼn crèche-opvoeder te wees.

Hy het sonder sukses by verskeie universiteite aansoek gedoen vir ʼn BEd-graadkursus, omdat hy nie aan die akademiese vereistes voldoen het nie.

Dit het Bodalaji egter nie gekeer om aan te hou om sy droom na te streef nie.

Hy het in 2015 besluit om twee van sy skoolvakke te herhaal sodat hy aan die akademiese vereistes kon voldoen om vir ʼn BEd-graad in te skryf. Hy het ook ʼn kortkursus in SAGT aan die US voltooi.

“Ek het gehoop om eendag aan die US te studeer. Ek het op die US se webwerf gelees van die ondersteuning wat hulle bied en het geweet dat dié universiteit die beste in my behoeftes sou voorsien.”

Hy het ook intussen, tot aan die einde van 2016, as klasassistent by De La Bat gewerk. Hy kon uiteindelik in 2017 by die Universiteit Stellenbosch inskryf.

Danksy die ondersteuning van die onderskeie universiteitstrukture, was hy op pad om sy droom ʼn werklikheid te maak.

“Die Eenheid vir Gestremdhede en die Taalsentrum aan die US het individuele ondersteuning gebied deur vir my toegang tot twee SAGT-tolke te gee wat elke lesing en vergadering saam met my bygewoon het. Hulle het voor in die klas gestaan om die lesing te tolk en die werk aan my te verduidelik. Hulle het ook seker gemaak dat ek toegang tot leermateriaal kry.

“Ek voel die universiteit het meer as genoeg langtermynbystand op ʼn individuele grondslag gebied om die holistiese welstand van ʼn dowe student te verseker.”

Teen die einde van 2021 het die nagevolge van die Covid-19-pandemie hom egter getref en het hy gesukkel om die laaste pylvak van sy graad te voltooi.

“Ek was heeltemal uitgebrand en dit het gevoel of my droom buite my bereik en die pad daarheen eenvoudig te lank was. My uithouvermoë en veerkragtigheid is tot die uiterste beproef, maar ek het besluit om nie tou op te gooi nie.”

ʼn Mentor, dr. Claudia Saunderson, is aan hom toegewys en sy het hom ondersteun om die graad suksesvol te voltooi.

“Sy het my as mentor gehelp om ʼn balans tussen my akademiese en persoonlike lewe te vind. Ek het nie verwag dat ek in my finale jaar so sou sukkel nie, maar het die uitdagings oorkom en ek glo dit het my sterker gemaak.”

Bodalaji wil nou in die opvoedkundesektor werk en spesifiek leerders deur die gebruik van SAGT onderrig.

“Ons as gekwalifiseerde dowe SAGT-onderwysers moet saamwerk om eienaarskap van SAGT in ons dowe gemeenskap te bevorder en met innoverende planne vorendag kom om mekaar te bemagtig, versterk en ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skappie ·

Baie geluk aan jou jongman. Dit wys dat dit gedoen kan word. Sterkte met jou pad vorentoe.

Marcello ·

Baie geluk, onthou ‘n mens kan enige iets bereik, deur in dit te glo wat jy wil bereik. Trots op jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.