Dr. Danny Titus só onthou

Dr. Danny Titus (Foto: ATKV)

Verskeie organisasies en partye het Saterdag hulle medelye betuig ná die dood van dr. Danny Titus.

Dié regsman, taalman, historikus en meningsvormer is Vrydag in die ouderdom van 63 jaar oorlede.

Hy was sedert einde Julie in ’n koma weens komplikasies tydens ’n operasie om ’n katarak te verwyder.

“Ek het hom leer ken as ’n innemende en rasionele mens wat hom kon handhaaf in moeilike en emosionele situasies. Hy was iemand wat baie empatie en begrip kon toon vir omstandighede, maar steeds rasionele besluite in moeilike situasies kon neem, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op sy beurt gesê dr. Titus sal onder meer onthou word vir sy kommentaar oor sake van die dag, sy insette vir die bemagtiging van die bruin gemeenskap en sy bydrae tot die uitbou van Afrikaans.

“Terwyl hy as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedien het, het hy ’n omvattende ondersoek gelei na plaasaanvalle, wat deur AfriForum aangevra is. Ná afloop van ’n reeks landwye verhore het die SAMRK ’n omvattende verslag met aanbevelings in 2015 vrygestel en dit ook onder die aandag van die parlement en alle betrokke staatsdepartemente gebring.

Danny Titus en Bart de Graaff in gesprek tydens die bekendstelling van Barend Barends – Die vergete kaptein van Danielskuil (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Dr. Titus het met die vrystelling van die verslag ernstige kommer oor die veiligheid van plaasbewoners uitgespreek en verklaar dat die regering en politici baie sterker teen plaasaanvalle behoort op te tree. Hy was ook diep bekommerd oor korrupsie en die verval van die staat en het dikwels op openbare platforms en in die media teen vergrype in dié verband standpunt ingeneem,” lui ’n verklaring deur AfriForum.

“Danny Titus was iemand wat nie van kontroversie weggeskram het as dit by beginselsake kom nie. Hy was iemand met ’n groot hart vir sy gesin, godsdiens, taal en kultuur. Hy sal gemis word en ons bid sy geliefdes in dié tyd troos toe,” sê Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, in die verklaring.

Die DA het ook sy medelye betuig.

“Hy het sy passie vir sy taal uitgeleef in sy navorsing en ontwikkeling van die taal en voorheen benadeelde Afrikaanse gemeenskappe – iets wat hy beoog het om by sy organisasie, DAK Netwerk, voort te sit ná sy aftrede by die ATKV in Mei vanjaar.

“Dr. Titus laat ’n leemte as historikus, meningsvormer en mensch wie se handel met sy medemens deurspek was met respek en deernis,” sê dr. Ivan Meyer, federale voorsitter van die DA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Althes ·

Dis baie hartseer nuus. Ek het baie respek vir hom gehad. RIV Danny Titus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.