Drakoniese raswet en -regulasies nie meer op 1 September in werking

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Solidariteit het die departement van arbeid en indiensneming se aankondiging dat die drakoniese nuwe wysigings van die Wet op Billike Indiensneming en nuwe rasregulasies nie meer op 1 September 2023 in werking gestel gaan word nie, verwelkom.

Volgens die departement moet die vorige Wet nog in ag geneem word wanneer rasplanne opgestel word. Solidariteit waarsku werkgewers egter dat as hulle nie die skikking tussen Solidariteit en die regering in ag neem nie, sal hulle hulle binnekort aan die verkeerde kant van die reg bevind.

Die wysigingswet het aan die minister van arbeid en indiensneming magte gegee om raskwotas vir sektore te bepaal. Regulasies wat vir kommentaar gepubliseer is, het bepaal dat daar van 500 000 werknemers uit minderheidsgroepe op ʼn manier ontslae geraak moes word. Dit het tot groot weerstand gelei.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die feit dat die wetswysigings en regulasies nie in werking gestel is nie, is ʼn groot oorwinning vir die gemeenskap wat in sulke groot getalle teruggedruk het. Altesaam 27 verskillende organisasies en politieke partye het tydens ʼn gesamentlike konferensie ʼn manifes onderteken waarin hulle onderneem het om weerstand teen die wysigingswet en regulasies te bied.

Solidariteit, Sakeliga, Neasa, die Demokratiese Alliansie, die Vryheidsfront Plus en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede het almal met regsaksies begin.

Meer as 30 organisasies en individue het in Junie 2023 in Pretoria byeengekom in protes teen die regering se Wysigingswet op Gelyke Indiensneming en gepaardgaande rasteikens (Foto: Reint Dykema)

“Intussen het Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering ʼn ooreenkoms oor die land se rassebeleid bereik. Die ooreenkoms het gevolg ná ʼn klag van Solidariteit by die Internasionale Arbeidsorganisasie. Volgens dié ooreenkoms mag ras nie meer die enigste faktor met die toepassing van rasbeleide wees nie, daar mag nie ʼn absolute plafon wees nie, niemand mag afgedank word nie en natuurlike personeelomset en die poel van vaardighede moet in ag geneem word.”

Solidariteit het ʼn beroep op werkgewers gedoen om die skikking tussen Solidariteit en die regering in ag te neem as hulle hul rasplanne opstel.

“Hierdie ooreenkoms het ʼn groot invloed op Suid-Afrika. Die ooreenkoms bepaal ook dat die skikking as regulasies in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Werkgewers het nie meer ʼn keuse om die skikking in ag te neem nie.”

Die skikkingsooreenkoms gaan op 31 Oktober vanjaar ʼn bevel van die hof gemaak word.

Ná 31 Oktober gaan die skikkingsooreenkoms ʼn hofbevel wees en die nuwe wetswysiging en regulasies gaan steeds nie gepubliseer wees nie. “Die gesig van rassewette in Suid-Afrika gaan nooit weer dieselfde wees nie,” voeg Hermann by.

“Hierdie is ʼn belangrike strategiese slagveld, maar die oorlog is nog nie verby nie. Dit het wel gewys dat weerstand uit die gemeenskap werk.”

Ntsoaki Mamashela, direkteur van gelyke indiensnemingsarbeidsbeleid en nywerheidsbetrekkinge by die departement, het in ʼn verklaring bevestig die wysigingswetsontwerp tree nog nie in werking nie.

“As gevolg van die hangende aanvangsdatum van die wysigingswet moet alle betrokke werkgewers, insluitend werkgewers met 1 – 49 werknemers, volgens artikel 4 van die Wet op Gelyke Indiensneming, hul 2023-verslae (EEA2 en EEA4-vorms) indien deur gebruik te maak van die huidige wetgewing,” sê Mamashela.

Die verslagdoeningsperiode vir gelyke indiensneming vir 2023 begin op 1 September 2023 vir aanlyn indiening en verslae wat per hand ingedien word. Die sluitingsdatum per hand is 2 Oktober 2023 en aanlyn indiening sluit op 15 Januarie 2024.

Jaarlikse herinneringsbriewe sal voor 1 September 2023 aan werkgewers gestuur word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Althes ·

Rasplanne in maatskappye moet ook geskrap word. Na 30 jaar het dit nie sukses behaal nie. Almal behoort ñ gelyke kans te hê in die werksopset
Wat my verder grief is dat wit kinders hoër punte moet behaal om byvoorbeeld in medies te studeer.
Rasklassifikasie is ñ euwel wat SA finaal moet uitroei.

Harley Davidson ·

Dit is n positiewe begin vir iets wat nooit moes gewees het nie.

Kokerboom ·

Welgedaan Groep van 30. Weerspieel ook die regering se onbevoegdheid om ekonomie te laat groei. Hulle weet nie hoe daar die drakoniese wetgewing .

Lourens ·

Werkgewers moet eenvoudig en masse ophou om enigsins die opgawes te voltooi. “Rasplanne” is ‘n vloekwoord en die goed moet nie eers opgestel word nie.

Koos 100 ·

Die ANC gaan hierdie saak op ys plaas totdat daar weer ‘n skandaal uitbreek oor een van hulle leiers, en dit dan weer uitbring. Hulle is meesters om weerlig afleiers op te stel om hulle lede te beskerm en die publiek se aandag af te lei.

Althes ·

Ons politieke leiers is baie vindingryk en uitgeslape en goeie stratege

OU SAAR ·

Dis nou bietjie goeie nuus.
Nou moet daar net druk geplaas word op die regering oor die Bella wet wat hulle op skole wil afdwing. Dis vir my net so belaglik en verregaande…

Bolandse Nooi ·

Ja, want aan die een kant word die voordele van moedertaal voorgepraat. Aan die anderkant ontken hulle Afrikaanssprekende kinders die voorreg om in hul moedertaal onderrig te ontvang. Nou wil die regering hê skole wat enkel-medium onderrig in Afrikaans aanbied en wat hul leerdertal se plafon bereik het, moet òf leerders wie se moedertaal Afrikaans is, uitskop óf van die enkel-medium onderrig afsien om voorsiening te maak vir leerders wat in Engels of húl moedertaal onderrig wil word.

Watsenaam ·

Genade, hulle is omtrent bang vir reg en geregtigheid. Dankie Afrikaners vir die standpunte wat julle ineeem

Chris ·

Solidariteit is ‘n werknemers organisasie – Hoekom het hul nie vir werkgewers organisasies soos NEASA betrek by hul planne om met die regering te skik op terme wat werkgewers beinvloed nie. Solidariteit verteenwoordig nie werkgewers nie – ek hoop dat dat iemand sal opstaan vir hierdie vergrype.

Bolandse Nooi ·

Solidariteit kan net optree in gevalle waar hulle die meerderheidsverteenwoordiging het by enige werkgewer.

Chris ·

Hul het hier die industrie gebind met ‘n ooreenkoms – die ander 26 van die 27 organisasies wat in die berig gemeld was, was nie partye in die onderhandeling wat Solidariteit met die regering gevoer het nie – die punte van ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering was konstitusioneel aanvegbaar – is dit aanvaarbaar?

Bolandse Nooi ·

Hoekom moet daar “ras planne” wees? Ek sou reken dat agtergrond, opleiding, ervaring, vaardighede en die vermoë om die werk te doen die enigste maatstawwe moet wees wanneer aanstellings gedoen word. O … maar, as dit gedoen word, sal daar bitter min van “our people” aangestel word … Dis ook nou weer die ander kant van die muntstuk, daardie!

Watsenaam ·

Slaan jy die spyker op die kop. Solidariteit is ‘n werknemers organisasie. NEASA is ‘n werkgewers organisasie. Uit watter bos kruip NEASA nou uit ?nie eers geweet hulle bestaan nie.

Johan ·

Sê maar dankie aan Rusland en BRICS ook, SA is n verleentheid vir hulle en anders as die VN het hulle ons nie in die gemors gekry nie. Vergeet van die weste, soek nuwe vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.