Drie boeties, sussie sterf in Boksburg-ontploffing

(Foto: Boksburg Community Group, Facebook)

Gebede en medelye stroom in vir die Eales-gesin van Boksburg aan die Oos-Rand wat vier kinders in Saterdag se gastenkwa-ontploffing aan die dood afgestaan het.

Jamel (16) en haar drie broers, Sebastian (13), Adrian (12) en Gerrie (10), het by hul oupa, Brian Eales, in Boksburg gewoon toe die ontploffing waarin hulle hul lewens verloor het, plaasgevind het.

Twee van die kinders is op die toneel dood terwyl die ander twee later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

ʼn Familielid het op Facebook geskryf dat die kinders vyf maande gelede hul pa ook aan die dood afgestaan het.

Afgesien van Brian, word die kinders ook deur hul ma, Rosetta Brits, oorleef. Omdat Brits werkloos is, was die kinders onder Brian, ʼn pensioenaris, se sorg.

Volgens Pixie Pink, ʼn aktivis vir vroue- en kinderslagoffers, het ʼn begrafnisonderneming te kenne gegee dat hulle die kinders se begrafniskoste gaan betaal.

Maroela Media het vroeër berig die dodetal ná Saterdag se noodlottige ontploffing staan nou op 15. Altesaam 24 pasiënte en 13 personeellede wat ten tyde van die ontploffing in die hospitaal se ongevalle-eenheid was, is in die ontploffing beseer.

Ander beseerde personeel het in die hospitaal se parkeerterrein of op die toneel gestaan toe ʼn gastenkwa onder ʼn brug in Hospitaal-rylaan vasgesit en later ontplof het.

Die hospitaal is sowat 100 m van die brug geleë.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.