Drie doodgeskiet ná sakeroof

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Drie verdagtes is doodgeskiet kort nadat ʼn onderneming in Pietermaritzburg beroof is.

Volgens konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes omstreeks 12:45 Woensdag inligting ontvang oor die rooftog en gereageer.

“Die beamptes het die verdagtes se motor gewaar en ʼn jaagtog het gevolg. Die verdagtes het op die beamptes losgebrand, die beamptes het teruggeskiet en drie verdagtes is noodlottig gewond.”

Nadat die verdagtes se motor tot stilstand gekom het, het twee verdagtes uitgespring en te voet gevlug. Die motor is deursoek en al die items wat tydens die rooftog gesteel is, is teruggevind.

Die eienaar van die onderneming het aan die polisie gesê dat die verdagtes sy winkel binnegekom en ʼn vuurwapen op hom gerig het voor hulle met ʼn onbekende bedrag kontant, sigarette, lugtydbewyse en selfone van die toneel gevlug het.

Die polisie ondersoek sake van poging tot moord, sakeroof, die besit van gesteelde eiendom en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Volgens Ngcobo is ʼn soektog van stapel gestuur na die ander twee verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.