Drie sterf ná spaghetti-en-maalvleis ete

Argieffoto (Foto: Ben Kerckx/Pixabay)

Die polisie in die Vrystaat ondersoek twee afsonderlike geregtelike doodsondersoeke.

In die een geval het die polisie op 11 April omstreeks 00:46 ʼn klag van die Dr JS Moroka-hospitaal ontvang.

“Beamptes is na die toneel ontplooi. Die verpleegsters het hulle in kennis gestel dat drie mense wat by die hospitaal opgedaag het vir behandeling, reeds gesterf het,” het lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Die pasiënte het vermoedelik vergiftigde kos geëet wat by hul huis voorberei is.

“Twee ander persone, wat oorleef het, het aan die verpleegsters gesê die familie het spaghetti en maalvleis vir aandete gehad. Hulle het kort daarna begin opbring.”

Drie lede van die familie, ʼn 55-jarige ma, 28-jarige dogter en driejarige kleinseun, is oorlede, vermoedelik weens die kos wat hulle geëet het.

Die twee ander lede van die familie het behandeling by ʼn hospitaal in Bloemfontein ontvang.

“Die kos, wat vermoedelik die gif bevat het, is versamel en is vir analise na die nasionale laboratorium vir forensiese wetenskappe gestuur.”

In ʼn afsonderlike voorval is die polisie in Kopanong op 22 April omstreeks 12:10 na die Chris Hani- informele nedersetting naby Bloemfontein ontbied.

“Beamptes het ʼn driejarige seuntjie aangetref wat bewegingloos op ʼn rusbank in die huis gelê het. Die polisie het gehoor die 25-jarige ma het Joker Strawberry Cream-koekies by ʼn plaaslike winkel gekoop. Die seuntjie het na bewering saam met sy vriende van die koekies geëet. Die maats is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”

Nooddienste het die seuntjie dood verklaar.

“Die polisie het die winkel besoek en soortgelyke produkte van die rakke verwyder en dit ook vir analise gestuur na die laboratorium.”

Die ondersoek in albei sake duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Lewe het so goedkoop en van min waarde geword in ons land…hoe bitter tragies is dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.