Drie vas ná moord op Sandton-sakeman

(Argieffoto: pixabay)

Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn sakeman van Sandton Donderdag buite sy huis in Morningside, Johannesburg, geskiet is.

Die 43-jarige man het ure daarna in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Sy identiteit was teen Vrydagoggend steeds nie aan die media bekend nie.

Paramedici van die nooddiens Emer-G-Med is Donderdag omstreeks 09:00 na Coleraine-laan ontbied waar hulle die gewonde man agter die stuur van sy wit BMW aangetref het. Die man het verskeie skietwonde gehad.

Paramedici het gespook om die man op die toneel te stabiliseer voordat hy eindelik na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, het teen laatmiddag bevestig die man het aan sy wonde beswyk.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, woordvoerder van die polisie, sê vyf onbekende verdagtes in ʼn silwergrys Hyundai ix35 het buite die sakeman se huis in Coleraine-laan op hom losgebrand.

Teen Donderdagaand is drie verdagtes in hegtenis geneem.

Nevhuhulwi sê ʼn span speurders onder leiding van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade is ná die skietery geaktiveer om die voorval te ondersoek.

Die span het teen donker met behulp van private sekuriteitsmaatskappye inligting opgevolg wat hulle na drie verdagtes gelei het. Die verdagtes is voorgekeer in dieselfde voertuig wat tydens die skietery gebruik is.

Een van die verdagtes het ook ʼn vuurwapen in sy besit gehad waarop daar nou ballistiese toetse gedoen sal word.

Nevhuhulwi sê die drie verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Lekker in SA. As iemand op jou toon trap, skiet hom sommer dood. Gaan sit ‘n paar jaar en jy is weer vry!

Theo ·

Hulle moet nog eers suksesvol vervolg word! Dit blyk deesdae ‘n onmoontlike taak te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.