Drie vas ná Zeerust-plaasaanval

(Argieffoto: pixabay)

Drie verdagtes is Vrydag vasgetrek in verband met die aanval op ʼn egpaar, die vrou se pa en broer, asook werkers op ʼn plaas digby Zeerust in Noordwes.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes, onderskeidelik 18, 29 en 36 jaar oud, is vroegoggend in die Zeerust-omgewing aangekeer. Hulle sal na verwagting Maandag in die Zeerust-landdroshof verskyn.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die landelike veiligheidsgroep in Zeerust het met die polisie kragte saamgesnoer om dié drie vas te trek. Hy sê een van die drie verdagtes is ʼn buitelander.

“Die ondersoek is onverpoos aan die gang en inligting is sensitief in hierdie stadium. Verdere inligting sal gegee word sodra die operasie afgehandel is. Ons is baie dankbaar dat daar soveel moeite en tyd afgestaan word deur veiligheidsgroepe om misdaad op te volg en die polisie by te staan,” sê Pienaar.

Maroela Media het vroeër berig Zede en Hanri Smit, asook haar pa en broer, is Woensdag omstreeks 09:45 op hul plaas, Nooitgedacht, deur sewe mans oorval en aangerand. Een van die mans het ʼn jaggeweer in sy besit gehad terwyl van die ander met rewolwers gewapen was.

Pienaar het gesê inligting wat opgevolg is en die mans se spore dui op ʼn goedbeplande aantog na die plaas en plaashuis. Een van die werkers buite het genoem die verdagtes het vanuit verskillende hoeke die plaashuis benader. Die inwoners van die huis was van niks bewus wat buitekant gebeur het nie.

Die groep rowers het eers twee plaaswerkers en een van hulle se vrou – wat in die plaashuis werk – oorrompel en vasgebind. Hulle het die werkers met vuurwapens gedreig en toegang tot die huis geëis. Die rowers is toe die huis binne waar hulle die boer en sy vrou, asook die vrou se pa en broer, vasgebind en met vuurwapens aangehou het. Zede, sy skoonpa en swaer is aangerand.

Die mans het die kluis se sleutels geëis, maar kon die kluis egter nie oopkry om die vuurwapens daarin te buit nie. Hulle het die kluis uitgebreek en saam met elektroniese en elektriese toerusting op ʼn bakkie, wat aan Hanri se broer behoort, gelaai. Hulle het altesaam ses selfone en ʼn bietjie kontant ook gebuit.

Hulle is toe met die bakkie daar weg en is later deur lede van die plaaslike veiligheidsgroepe en plaaswagte naby Zeerust gekonfronteer. ʼn Skietgeveg het tussen die verdagtes en dié reaksiegroepe ontstaan.

Die verdagtes het uit die bakkie gespring en weggehardloop. Die bakkie, kluis, selfone en die meeste ander gesteelde goed is teruggevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kerneels ·

Jy sien! Die dinge gebeur. Ons bikers het n verskil gemaak in PTA!!!

Cherokee ·

Komplimente behoort toegedien te word aan diè wat dit verdien. Indien bikers help soek het, kan jy gerus meer vertel.

Werner ·

Baie goeie werk net jammer hulle is volgende Vrydag weer uit op borg reg vir die volgende aanval

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.