Drie Verkeerdevlei-boere verskyn in hof

Boere het Woensdagoggend buite die hof in Brandfort byeengekom (Foto: Skermskoot via Willem Petzer/Facebook)

Lede van die boeregemeenskap van die Verkeerdevlei-distrik en omliggende distrikte het Woensdag voor die landdroshof in Brandfort in die Vrystaat byeengekom om hul ongelukkigheid te kenne te gee oor die inhegtenisneming van drie boere van dié distrik.

Drie boere, onder wie twee susters van onderskeidelik 28 en 35 jaar oud, doen vanoggend om borgtog aansoek nadat hulle Maandag net voor 01:00 in hegtenis geneem is. Dit volg nadat die susters ’n beweerde veediefstal op hul plaas probeer voorkom het en die buurman (56) probeer help het.

Volgens die boere se prokureur, Jaco Dempsey van Jaco Dempsey-prokureurs in Winburg, het die Valke sonder ’n lasbrief by die twee susters se huis ingebars  en die vroue in hegtenis geneem. Daar was sowat 30 lede, met aanvalsgewere gewapen.

“Hulle het die susters gedreig, geskree en geterroriseer, sonder enige vorm van ’n lasbrief. Hulle het vir die susters gesê dat ‘boere maak wat hulle wil’ en hulle wil ‘’n voorbeeld van hulle maak’,” het Dempsey aan Maroela Media vertel.

‘n Groep mense het Woensdagoggend buite die hof plakkate van “Black Lives Matter” in die lug gehou (Foto: Willem Petzer/Facebook)

Die boere was tot Woensdagoggend nog in aanhouding in die polisieselle op Theunissen.

Volgens Dempsey het die susters Sondagaand kennisgewings op hul selfone ontvang dat daar moeilikheid by hul skaapkudde is. Die skape het halsbande aan wat alarm-oproepe na die susters se selfone maak sodra iemand probeer om vee te steel of rondloperhonde of ongediertes die vee aanval.

“Die susters is na die skaap om te kyk wat aangaan. Daar het hulle ’n verdagte Toyota Hilux-bakkie op die teerpad [R703-pad van Verkeerdevlei na Excelsior] – wat hul grond skei – gesien ry. Die susters het die verdagte aktiwiteite op die boeregroepe aangemeld en ook die polisie ontbied.”

Volgens Dempsey is die bakkie van die pad afgetrek en die boere het die insittendes langs die bakkie laat sit terwyl hulle vir die veiligheidshoof en polisie wag.

“Die bestuurder van die bakkie het opgespring en weggehardloop. Die boere het hom later by die polisiestasie in Verkeerdevlei gewaar toe hulle gaan uitvind het waarom die polisie nie op die voorval reageer nie.

“Daar is inligting ontvang dat die polisiebeamptes glo onder die indruk was dat die boere die polisiestasie wou beset en het gevolglik die Valke se hulp ingeroep, waarna hulle toe op die susters toegeslaan het.”

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, vertel die 49-jarige pa dat hy en sy twee seuns, onderskeidelik 13 en 18 jaar oud, op die R703-pad in die Toyota Hilux-bakkie gereis het toe twee vroue hulle van die pad af gedwing het.

Hulle is glo aangesê om op die grond te lê.

“Die kinders het gelê, maar die pa het geweier, waarna een van die vroue hom aan die klere gegryp het. ’n Struweling het gevolg en die man het daarin geslaag om te vlug,” sê Thakeng.

“Terwyl hy gehardloop het, het hy twee geweerskote gehoor wat in sy rigting klap. Hy is nie raakgeskiet nie.”

Die man het volgens die polisie na die polisiestasie gehardloop en die voorval aangemeld.

Thakeng sê met die polisie se aankoms op die toneel, was daar tien boere met voertuie en die kinders was met kabelbinders vasgebind.

“Die polisie het gevra waarom die kinders vasgebind is en niemand het geantwoord nie. Hulle het die toneel verlaat.

“Die kinders het die polisie vertel dat hulle aangerand is. Die 13-jarige seun se gesig was bebloed en het kneusplekke gehad. Die 18-jarige het oor pyn gekla. Hy beweer hy is geskop.”

Volgens Thakeng was die Hilux se sleutels in die besit van een van die vroue gevind.

Die polisie het ’n saak van poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling aanhangig gemaak.

Kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke, het bevestig die Valke was betrokke by die operasie om die boere in hegtenis te neem. Hy sê hulle neem kennis van die bewerings dat die lede van die Valke “onaanvaarbare gedrag” op die toneel getoon het.

“Ons waardeer en gee erkenning aan kritiek van die publiek aangesien hulle die mandaat het om ons as staatsamptenare aanspreeklik te hou. Ons doen dus ’n beroep op enigiemand wat die lede se gedrag aanskou het, om ’n formele klag te lê aangesien besonderhede van die genoemde voorval nog nie duidelik is nie. Dit sal ons in staat stel om die saak verder te ondersoek,” sê Singo.

“Dit is belangrik om te beklemtoon dat ons, as die Valke, daarna streef om die hoogste standaard van professionaliteit te handhaaf en die beskerming van ons reputasie as ’n prioriteit beskou. Enigeen, veral ons eie, wat die goeie naam van die Valke in oneer bring, sal dienooreenkomstig hanteer word. Diens aan die gemeenskap moet met die grootste sorg en deernis uitgevoer word.

“Alle klagtes kan gerig word aan ons integriteitskantoor wat in die ABSA-gebou in Charlotte Maxekestraat in Bloemfontein geleë is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Goldy ·

Die regering laat malema, hulle militere fleul, toe om volksmoord te promofeer maar keer ons om onsself te beskerm teen moordenaars. Ons kan nie meer met die lamd saamwerk nie en moet skei.

Onnie ·

Sjoe, dis nou n deurmekaar spul, miskien moes die susters eers seker gemaak het hulle het die regte verdagtes. Glo nie ‘n skuldige persoon sal polisiestasie toe hardloop vir hulp nie.

Ek wil ook net weet of die valke ook so heftig reageer op plaasaanvalle waar boere die slagoffers is?

Henri ·

Behalwe as van die polisielede betrokke is by die veediefstal, en die persoon sy trawante se hulp gaan soek het.

Brakanjan ·

Duidelik het jy nog nie met die tipe bedrieers te doen gekry nie. Sodra hulle uitgevang word is dit jammer jammer, was nie ek nie. So ek vermoed die skuldige sou wel polisie toe gehardloop het.

Oros Soros ·

Die staat sal (soos normaalweg) vra dat die saak vir ‘n week uitgestel word voordat die borgtogaansoek aangehoor word. Die verdediging sal dus die hooggeregshof moet nader indien hulle vroeër om borgtog aansoek te doen.

Misky ·

Waarom sal die pa weghardloop en sy twee kinders daar los? Geen onskuldige hardloop net weg as hy niks verkeerd gedoen het nie. Klink maar baie verdag vir my.

Jean ·

Ek kies geen kant hier nie, maar ek sal weg hardloop as ek onskuldig is om hulp te gaan soek.

Nettie ·

Jy sal jou 13-jarige seun 01:00 die nag los by mense wat bewapen is?

Dankie tog ek’s nie jou kind nie.

Mariana ·

Ek stem jy los nie jou kinders net so nie. Ek sou liewer net daar bly en na hulle omsien. Ek ruik alweer ‘n rot…….

domheks ·

30 lede met aanvalsgewere om twee dames in hegtenis te neem? Al wanneer hulle braaf is is met ‘n wapen in die hand! Ek dog daar is nie genoeg beamptes beskikbaar nie, maar vir snert kan 30 beamptes uit kom. Hoekom het die pa weggehardloop as hy onskuldig is?

Roek ·

Wat dink jy was die ouderdomme van die Grootvlei verminking en moord , duidelik weet jy nie dat kinders ongelukkig gebruik word vir vinnige en maklike toegang , indien hy betrap word is dit n onskuldige ou bloedjie wat verdwaal het !!!

Alexander ·

So die boere het kinders aangerand sonder enige bewyse dat hul iets verkeerd gedoen het?

Hennie ·

Die “brawe” polisie, ook net op die toneel om weerlose mense te teister.

Jean ·

Wel volgens die hartseer gesiggies wat nie saam stem nie was die bakkie seker op die boere se grond.

Truman Burbank ·

Volgens die artikel was die bakkie op die pad wat die grond skei

Koen ·

Ten minste lewe hulle nog. Nie soos die drie dogtertjie wat wreed verwurg en versmoor is nie en baie mense kry die moordenaar jammer.

ES ·

Ek weet boere is keelvol vir veediefstal maar doen die ding reg – as jy ‘n verdagte arresteer, wat jou reg is as ‘n burger, maak seker jy doen dit binne die beperkings van die wet.

Ongelukkig het die “valke” hulle mag misbruik – iets wat in hul saak kan help. Maar die hantering van minderjariges – afgesien daarvan of hulle skuldig is – gaan teen hulle tel.

John ·

Die polisie se rol, in sy huidige vorm, is bloot om jou lam te lê.
Jy mag nie self jou of jou goed beskerm nie – want dis hulle werk. Jy moet net rapporteer – maar dis waar dit dan bly.
Doen jy wel iets self, dan is jy die oortredene.

So in kort. Hulle is die skeidsregter wat seker maak die skelms word nie gevang nie.

lodewyk ·

Ek hoop net die saak gaan die Valke duur te staan kom,en die tipe nuus moet nou begin hoof opskrifte in die wereld maak,sterkte aan die 3 boere en ons sal laaste lag,hullle dag gaan kom…

Marius ·

Onglukkig verdraai misdadigers maklik die feite en maak van slagoffers die kriminele. Jy hoef deesdae net ‘n bewering te maak om ‘n ander persoon se lewe hel te maak.

August ·

Daar is nie reg vir die wit mens in die land nie, selfs die buite land gaan nie hier kom help nie. Dit is die hoeveelste geval van reg verdraai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.