Drie vermiste kinders gou gevind

Sers. Mahlatjie Nicodemus Letsoalo saam met die kinders (Foto: SAPD Limpopo)

Drie kinders, tussen vyf en ses jaar oud, is gou opgespoor ná hulle Donderdag uit ʼn huis in Darkcity, buite Burgersfort in Limpopo, verdwyn het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê sers. Mahlatjie Nicodemus Letsoalo van die Tubatse-misdaadvoorkomingseenheid, het omstreeks 18:00 ʼn oproep van ʼn lid van die gemeenskap ontvang oor die verdwyning van die kinders. “Hy was nie aan diens nie, maar het nie gehuiwer om dadelik na die polisiestasie te gaan en die saak aan te meld nie.”

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur in die nabygeleë gebiede. “Sers. Letsoalo het die kinders omstreeks 19:45 by ʼn vullisterrein opgespoor, sowat 3 km van die huis waaruit hulle verdwyn het. Hulle is veilig aan hul voog oorgegee.”

Die vrou is die ma van een van die vyfjarige kinders en het die ander twee kinders opgepas.

“Ons loof die beampte vir sy onselfsugtige daad wat beteken dat die kinders, wat vreesbevange moes wees, vinnig opgespoor is. Ons maan ouers om waaksaam te wees wanneer hulle na kinders omsien en deurgaans te weet waar hulle is sodat ons hierdie tipe voorvalle kan vermy,” het lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, bygevoeg.

“Die polisiestasies word oorval deur gevalle van vermiste persone. Alhoewel sommige persone steeds vermis word en sommige beseer of dood aangetref word, is daar ʼn groter getal mense wat ongedeerd gevind word en dat hul verdwyning vrywillig was. Altesaam 130 gevalle is sedert Januarie 2022 aangemeld,” sê Hadebe.

“Baie hulpbronne en tyd word gemors waar die polisie persone moet opspoor wat nie regtig vermis word nie. Polisiebeamptes kon in dié tyd eerder werklike sake ondersoek het.”

Een van die mees ernstige sake wat vanjaar aangemeld is, was van twee vroue wat in Burgersfort en Tubatse spoorloos verdwyn het. Hulle is later dood gevind ná hulle vermoor is.

“Ek loof ook die werk deur die beamptes van die gesamentlike bedryfspanne. Elke geval word met prioriteit hanteer en daar is geen wagperiode nie. Ons besef dat ʼn vermiste persoon ingrypend is op die lewens van families en gemeenskappe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.