Drie vliegtuie, 11 dae, 8 902 seemyl

Die tog het oor 11 dae, verskeie lande en duisende kilometer gestrek. (Foto: Sling Aircraft/Facebook)

Ná ʼn epiese tog van 8 902 seemyl het die vlieëniers wat vroeër vandeesmaand in Suid-Afrika met drie plaaslik geboude Sling High Wing-vliegtuie na Oshkosh vertrek het, vandeesweek in Wisconsin in die VSA aangekom.

Die drie vlieëniers en hul bemanningslede het op 17 Julie by Lanseria opgestyg en daarna in verskillende bene na eers Luanda in Angola, daarna na Accra in Ghana en toe na Praia in Kaap Verde gevlieg.

In Accra, Ghana. (Foto: Sling Aircraft/Facebook)

Van daar af het ʼn reuseskof van 14 uur oor die Atlantiese Oseaan na Barbados gevolg. Grootafstand-brandstoftenks het die been van sowat 2 100 seemyl (sm.) moontlik gemaak.

“Kaap Verde, die mense daar, die volmaak [met brandstof] by ʼn nabygeleë Shell-vulstasie, die vertrek voor sonop, die 2 100 sm.-vlug na Barbados en Barbados self was verstommend, maar dit was ook taai en ons was pootuit,” het James Pittman van Sling Aircraft in ʼn bloginskrywing gesê.

In die lugruim bo die Bahamas. (Foto: Sling Aircraft/Facebook)

Van Barbados is daar na Nassau in die Bahamas, Fort Lauderdale in die VSA, Kentucky en eindelik Oshkosh in Wisconsin gevlieg.

Bertus Janse van Rensburg, verkoopsbestuurder van Sling Aircraft, sê dit is die derde keer dat só ʼn tog met die Sling, ʼn ligte sportvliegtuig wat klaar aanmekaargesit of as monteerstel verkoop word, aangepak word. Daar is ook in 2009 met die tweesitplekweergawe van die Sling na Wisconsin gevlieg en in 2011 met die Sling 4.

Voorbereidingswerk voor die volgende vlug. (Foto: Sling Aircraft/Facebook)

Die ontwerp van die Sling High Wing (SHW) het gevolg en die avontuur na die VSA is weer aangepak om dié trots Suid-Afrikaanse vliegtuig ook aan die res van die wêreld te gaan bekend stel.

Pittman en vriend Matt Cohen, ʼn parapleeg, was in die eerste vliegtuig. Linda Sollars, ʼn Amerikaanse lugdienskaptein, was vlieënier in die tweede vliegtuig saam met Mike Blyth, stigterslid van Sling Aircraft, terwyl JP Schulze (ʼn Namibiese YouTuber bekend as “The Candourist”) saam met sy Australiese maat William Stiles in die derde vliegtuig aan stuur van sake was.

Dit was stertwinde omtrent al die pad en ná 11 dae het die span Woensdag onder luide toejuiging van ʼn skare Suid-Afrikaners, Amerikaanse entoesiaste en lede van die Sling-span in Noord-Amerika in Oshkosh aangekom.

“Dit was ʼn fantastiese ondervinding om hierdie ongelooflike masjien saam met so ʼn groep uitsonderlike, visioenêre, talentvolle en geesdriftige mense te bou en te vlieg,” het Sollars gesê kort nadat hulle neergestryk het.

“Ons het ʼn heldeverwelkoming gekry en dit voel vir my of die volle ondervinding nog nie ingesink het nie.”

‘n Heldeontvang het in die VSA op hulle gewag. (Foto: Sling Aircraft/Facebook)

Pittman sal ná afloop van die lugskou na Londen vertrek en sal onder meer via Kanada, Groenland en Ysland na Engeland vlieg. Hy vertrek daarna na Europa waar hy ʼn demonstrasie van die High Wing, die jongste model in Sling se portefeulje, aan voornemende kliënte en beleggers sal bekend stel.

Die span het die afgelope week in Oshkosh, in Wisconsin in die VSA, aangekom. (Foto: Sling Aircraft/Facebook)

Schulze sal ná die lugskou sy reis om (die res van) die wêreld voortsit in dié vliegtuig wat hy self gebou het.

Janse van Rensburg sê die vliegtuig word beskou as een van die mees ekonomiese vliegtuie op die mark en is ontwerp vir vlieëniers, deur vlieëniers. Dit gebruik 95 oktaan- loodvrye petrol en teen 300 km/h (sowat 155 knope) gebruik dit sowat 28 liter brandstof per uur. Die vliegtuig se instandhouding beloop ʼn fraksie van gewone instandhoudingskoste, wat dit ʼn gewilde opsie onder vliegentoesiaste maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.