ʼn Motoris wat die afgelope naweek betrap is dat hy glo onder die invloed van alkohol bestuur, het beamptes van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) probeer oortuig dat hy medisyne vir verkoue gedrink het en dat dit is waarom hy dronk voorkom.
Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die EMPD, het gesê die man is Vrydagaand op Ou Pretoria-weg vasgetrek. EMPD-beamptes het hulle egter nie laat flous deur sy bewering nie en nadat ʼn asemhalingstoets getoon het dat hy oor die wetlike bloedalkoholperk is, is hy in hegtenis geneem.
Volgens Mokheseng was die man se inhegtenisneming deel van ʼn uitgebreide operasie tussen onder meer die EMPD, die honde-eenheid, die eenheid vir openbare polisiëring en die SAPD wat in die Kempton Park-gebied gehou is.
Die wetstoepassers het tussen 18:00 Vrydag en 02:00 Saterdag in die gebied twee mense in hegtenis geneem, vyf verkeersboetes uitgereik, 159 voertuie afgetrek en deursoek, vier eiendomme deursoek, 264 mense deursoek en 396 voertuie nagegaan.
“Afgesien van die motoris is daar ook ʼn 39-jarige man in Voortrekkerweg in hegtenis geneem wat ʼn plastieksakkie vol kristalmetamfetamien in sy besit gehad het. Die verdagte het besluit om te swyg oor die dwelms in sy besit,” het Mokheseng gesê.
“Albei verdagtes is na die Kempton Park-polisiestasie geneem waar hulle onderskeidelik van dronkbestuur en dwelmbesit aangekla is. Hulle sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn.”
Wingerdgriep agv oorbediening van die edell vog
Die beste medikasie vir griep is kasterolie nie drank nie. Lol