Droogte teister vrugteboere in Wes-Kaap

Argieffoto (Foto: flockine, Pixabay)

Bladwisselende vrugteboere in die Wes-Kaap oorweeg gebeurlikheidsplanne vir die komende seisoen, terwyl die droogte in die Wes-Kaap en dele van die Oos-Kaap voortduur.

“Vrugtebome is ʼn langtermynbelegging met boorde wat oor ʼn paar seisoene vrugte voortbring,” het Jacques du Preez, woordvoerder van die bladwisselendevrugteboere-organisasie Hortgro, gesê.

Vrugteboere, wat staat maak op besproeiing vir hul boorde, het tevergeefs vir die reën gewag om hul damme weer vol te maak. Die watersituasie verskil tussen streke – sommige boere het genoeg water om minstens deur die somer te kom, terwyl ander berig het dat hulle slegs ʼn fraksie van die vereiste hoeveelheid water beskikbaar het vir die komende seisoen.

Hortgro het onlangs ʼn besproeiingseminaar gehou om die vervaardigers toe te rus met die nodige instrumente en strategieë om die impak van die droogte so veel as moontlik te verlig. Aangesien die toekomstige scenario van ʼn droër klimaat vereis dat alle nuwe aanplantings doeltreffend moet wees, het die seminaar ook basiese beginsels van besproeiingsontwerp en beplanning bespreek.

Tydperke gedurende die seisoen waar die bome minder of meer sensitief is vir droogtestres of waar die toestande gunstig is om water te bespaar, is geïdentifiseer. Verskeie praktyke en tegnologie om water mee te bespaar is ook bespreek.

ʼn Ceres-vrugteboer het ʼn omvattende droogtestrategie voorgelê. Die strategie behels dat water volgens winsgewendheid aangewend word in die boorde. Dit beteken optimale besproeiing vir winsgewende boorde, waterbeperking in boorde wat minder winsgewend is en dat onproduktiewe boorde verwyder moet word. Die strategie sal tydens die maandelikse waterbegrotingsvergadering assesseer word.

Argieffoto (Foto: sladkovskaivka)

Talle boere het hul planne voorgelê om ouer, minder produktiewe boorde oor die volgende paar jaar te verwyder, om die water wat hulle het, so ver as moontlik te rek. Ander het besluit om al die vrugte van die bome te verwyder omdat hulle nie ʼn oes sal hê nie, en die bome aan die gang wil hou.

Uiteindelik sal die verbruik van water ʼn ekonomiese besluit word waar die langtermynboorde wat die meeste produktief is, voordeel sal kry bó boorde met korttermynoeste, soos uie of aartappels.

“Vrugtevervaardigers is egter bestand en gebruik tegnologie baie meer doeltreffend om hul water, besproeiingstelsels en boorde te bestuur,” het Du Preez verduidelik. “Water is ʼn beperkte hulpbron. Die afgelope seisoene en hierdie komende seisoen sal boere se vaardighede nog verder slyp om seker te maak elke druppel tel.”

Baie kan nog egter gebeur en die situasie kan vinnig verander indien voldoende reën val, maar in hierdie stadium, teen die einde van die primêre reënseisoen in die Wes-Kaap, is ʼn afname in vervaardiging, uitvoere en buitelandse inkomste, indiensneming, en die gevolglike maatskaplike impak, iets wat waarskynlik sal gebeur, het Du Preez bygevoeg.

“Die omvang sal oor die volgende maand en ʼn half bepaal word. Die anderkant van die droogte, en ʼn silwer randjie vir vrugteboere, is dat die gehalte van vrugte binne waterskaarstoestande gewoonlik baie goed met hoë suikervlakke en ʼn lekker smaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Andre Traut ·

Van die boere in die koue bokkeveld het reeds begin boorde uithaal wat nie winsgewend is nie. Dit lyk naar hier bo. Ek is vandag hierbo en dit lyk nie goed nie. n groot hoeveelheid plant glad nie aartappels en uie nie. Dit beinvloed nie net die plase nie, maar van die besteebare inkomste van werkers oor alle vlakke heen tot die mense wat nie uit sterkspruit gewerf gaan word vir die seisoen nie. Nou besef almal dat geld nie kan water koop nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.