Droogteramp in Noord-Kaap duur voort

Talle boere in die Noord-Kaap steier steeds onder die voortslepende droogte. (Foto: Marydale Droogtehulp/Facebook)

Die droogte in die Noord-Kaap is wel tot ramp verklaar, maar daar word in die stadium – terwyl daar grootliks geskarrel word om die verspreiding van Covid-19 te stuit – oënskynlik weinig gedoen om boere daar by te staan. Die droogte in die streek is vroeër tot ramp verklaar.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê die organisasie het ʼn omvattende opname van sy lede gedoen en tot 50% van hulle gaan steeds gebuk onder erge rampdroogtetoestande.

“In die groter prentjie word net aandag gegee aan die een nasionale rampverklaring wat gaan oor Covid-19, maar daar word vergeet dat die droogte ook ʼn nasionale rampverklaring gehad het,” het Jansen Donderdag gesê.

Hy sê van die R500 miljoen wat die minister van finansies, Tito Mboweni, vir droogtehulp bewillig het, het nog nie ʼn sent die Noord-Kaap bereik nie. Die minister van water, Lindiwe Sisulu, het vroeër ook gesê R300 miljoen word bewillig vir hulp met projekte in die provinsie, waarvan R85 miljoen geoormerk is vir hulp aan die landbou – maar slegs vir waterverwante projekte. Weens die algehele staat van inperking, staan al dié prosesse egter nou stil.

(Foto: Elaine Krige)

Jansen het gesê daar is gevolglik geen maatreëls, hulp of finansiële bystand vir boere wat steeds probeer om minstens ʼn kernkudde aan die gang te hou nie. Baie van dié kuddes is net op 50% van hul normale grootte en inkomstestroom – en dit word boonop teen ʼn verlies bedryf.

“Klein dorpies se landelike ekonomieë is heeltemal afhanklik van landbou. Ons is nou op ʼn punt waar ons begin grond verloor wat as sekuriteit aangebied is vir lenings om voer te koop,” het Jansen gesê.

Dit het ook ʼn uitwerking op almal in die omgewing – van plaaswerkers tot sakelui.

“Die sneeubaleffek van ʼn landbou-ekonomie op die platteland wat tot niet gaan, is enorm. As ons dink aan die uitwerking van Covid-19, moet ons ook gaan kyk hoe vinnig ons daarna die ekonomie weer aan die gang kan kry.

“Dit is verskriklik belangrik om te keer dat die landelike ekonomie in die Noord-Kaap nie heeltemal tot niet gaan nie, sodat wanneer dit reën en die Covid-19-pandemie verby is, hierdie ekonomieë weer kan begin optel en die land se ekonomiese groei kan help aanvul.”

(Foto: Gift of the Givers/Facebook)

Volgens Jansen oorleef talle boere in dié stadium op skenkings, maar dit is nie volhoubaar nie.

“Hierdie is ʼn tikkende tydbom wat nie aandag kry nie.”

Die rampverklaring is net vir drie maande geldig, waarna dit verval en daar weer om ʼn rampverklaring aansoek gedoen sal moet word.

Jansen het gesê die gebied wat in die stadium nog onder erge droogte gebuk gaan, is die streek wes van Carnarvon in die rigting van Williston, na Calvinia, Brandvlei, Van Wyksvlei, Kenhardt en Pofadder, asook Loeriesfontein, teen die kus langs in die Namakwaland tot in Springbok. “Die hele Boesmanland is so kaal soos ʼn teëlvloer. Daar was hier en daar reën, baie geïsoleerd en dit was eenmalig en verby en daar was geen opvolgreën nie.”

‘n Windpomp langs ‘n plaaspad in Vosburg. (Foto: Denis Farrell/AP)

Tania van der Westhuizen, verbonde aan Marydale Droogtehulp, het vandeesweek ʼn plasing op Facebook gedoen waarin sy vra vir droogtehulp vir boere by wie dit nog nie gereën het nie.

Van der Westhuizen het Donderdag gesê dit is veral boere wes van Marydale wat nog geen reën gehad het nie en dringend hulp benodig.

Volgens haar het dit vroeg vanjaar plek-plek ʼn bietjie in die omgewing gereën, maar nie naastenby genoeg nie. Opvolgreën is ook dringend nodig.

Talle boere moet steeds intensief voer om hul kuddes aan die lewe te probeer hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Die noordkaap sal ideaal wees vir n onafhanklike tuisland, bou n onsouting plant by Kleinzee vir water en hidro elektrisiteit, kry die europese unies en die vsa om te belê as teenvoeter vir die chinese wat afrika wil oorvat,nie nodig vir n weermag nie net n goed opgeleide polisie mag om die grense te bewaak,landbou en vervaardiging maatskappye. Ek glo nie dit sal 10 jaar vat om die SA ekonomie verby te steek nie en dan is on vry .

SomeOne ·

droogtehulp was gevra en dalk aangebied maar nou met virus in hul koppe gaan die drogtehulp sekerlik in iemand (kaders) se sakke beland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.