‘Droomkamer’ by Steve Biko waar siek kinders net kind kan wees

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

ʼn Langverwagte droom om die pediatriese eenheid by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria ordentlik op te knap is uiteindelik verwesenlik.

Cell C en die Reach for a Dream-stigting het Woensdag ʼn nuwe “droomkamer” – wat ontwerp is om siek kinders se behandelingservaring te transformeer – by die Steve Biko- pediatriese kardiologie-en-pulmonologiekliniek bekendgestel.

“As jy die afgelope paar jaar by Steve Biko se pediatriese eenheid was, sal jy weet hoe broodnodig dringende opknappings was. Ek wil Cell C en die Reach for a Dream-stigting hartlik bedank vir dié droom wat hulle nou vir ons  ʼn werklikheid gemaak het,” het prof. Jayneel Joshi, ʼn pediatriese kardioloog by die Steve Biko-hospitaal, gesê. Joshi is volgens hospitaalpersoneel “die hart en brein agter die projek”.

Ongeveer 200 kinders word weekliks in die pediatriese kardiologie-en-pulmonologiekliniek by Steve Biko behandel en die jong pasiënte en hul ouers reis tot sewe dae lank om behandeling hier te ontvang.

“Van hierdie kinders voer hul grootste stryd nog. Hulle kom by ʼn vreemde hospitaal aan en moet dan nog klomp verskillende prosedures ondergaan; geen kind behoort dit deur te maak nie.

“Dit is ʼn ontnugterende feit dat hierdie kinders, in ʼn tyd wanneer hulle vrylik die vreugdes van kinderjare behoort te verken, ʼn stryd voer wat die meeste van ons ons nie eens kan indink nie.”

Die “droomkamer” is ontwerp om ʼn veilige ruimte vir kinders te skep waar hulle hulself in verbeelding en spel kan verdiep, sê Joshi. “Dit is ʼn integrale deel van hul fisieke, emosionele en geestelike welstand.

“Ons is so dankbaar dat daar nou ʼn plek is waar hulle aan die werklikheid kan ontsnap en net kind kan wees.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Lethiwe Hlatshwayo, uitvoerende hoof van korporatiewe sake en kommunikasie vir Cell C, sê hulle is verheug om deel te kan wees van die projek.

“Dit is altyd lekker om saam met die Reach for a Dream-stigting te werk. Ons moet doen wat ons kan om geluk te versprei.

“Die opknapping van die Steve Biko- pediatriese kardiologie-en-pulmonologiekliniek was merkwaardig. Om die glimlagte van die kinders en die personeel te sien maak die werk van Cell C Kindness werklik die moeite werd.”

Volgens Julia Sotirianakos, hoof- uitvoerende beampte vir die Reach for a Dream-stigting, werk hulle al die afgelope 35 jaar saam “met baie engele by die Steve Biko-hospitaal” en kom die idee vir ʼn droomkamer al vyf jaar lank.

“Ons het besef dat daar ʼn behoefte by hospitale is vir ʼn plek waar kinders net kinders kan wees.”

Die stigting het reeds 36 “droomkamers” in verskeie hospitale oor die hele land suksesvol geopen, met planne om ʼn bykomende 10 kamers teen 2024 te bou.

Sotirianakos sê hul hoofdoel is om kinders – wat teen lewensbedreigende siektes soos kanker, nierversaking, breingewasse en aangebore hartdefekte veg – se drome ʼn werklikheid te maak en sodoende aan hulle hoop te gee.

“Ons hou daarvan om na onsself as handelaars vir hoop te verwys,” skerts Sotirianakos.

Julia Sotirianakos, uitvoerende hoof van die Reach for a dream-stigting. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Dit is die wonderlikste gevoel wanneer ons hierdie kindertjies se drome kan waar maak; dit skep weer hoop wat gewilligheid teweegbring om hul siektes te beveg.”

Volgens dr. Lehlohonolo Majake, waarnemende uitvoerende hoof van die Steve Biko-hospitaal, wil hulle ʼn opbouende en stimulerende plek vir kinderpasiënte tydens hul verblyf in die hospitaal bied.

“Ons wil ʼn omgewing skep waar kinders kan droom en veilig voel. Te danke aan Cell C en die Reach for a Dream-stigting is ons droom vir ons pasiënte nou bewaarheid. Nou kan ons weer die lekker van kindwees vir hierdie kinders terugbring.”

Natalie Lazaris, sakehoof vir die Reach for a Dream-stigting, sê die Cell C-droomkamer is geskep sodat kinders aan die werklikheid kan ontsnap.

“Ons weet dat hospitaalbesoeke stresvol en oorweldigend vir kinders en gesinne kan wees, veral wanneer hulle ernstige gesondheidsuitdagings die hoof moet bied.

“Hierdie droomkamer is sorgvuldig ontwerp om ʼn toevlugsoord van genesing te wees waar kinders wat teen hart- en longsiektes veg, kan ontsnap uit die pyn en isolasie van hul behandeling en net weer kinders kan wees.

“Ons hoop dit sal ʼn positiewe uitwerking op hul algehele welstand en herstel hê.”

Die kleurvolle kamer is toegerus met ʼn reeks boeke, speletjies, speelgoed en elektroniese toestelle, waaronder moderne virtuelerealiteit-toestelle.

Van die speletjies en toerusting in wat as die ‘droomkamer’ bekend staan. (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Volgens Lazaris neem die virtuelerealiteit-stelle, wat deur Eden ontwikkel is, kinders op ʼn opwindende virtuele reis met verskillende avonture om van te kies.

“Dit bied aan hierdie kinders die geleentheid om dinge te ervaar wat hulle nie noodwendig sou kon nie,” sê Lazaris.

Volgens Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid in Gauteng, is die opknapping van die pediatriese eenheid meer as net ʼn fisieke transformasie.

“Dit verander lewens, dit verbeter pasiëntesorg, en dit is ʼn ware voorstelling van die drome wat ons almal vir hierdie dapper kinders koester.

“Hierdie dag is nie net ʼn viering van nuwe infrastruktuur nie. Dit is ʼn bewys van die krag van vennootskap en deernis, eienskappe wat vergestalt word deur samewerking.”

Sommige van die rolspelers wat ‘n aandeel gehad het in die verwesenliking van die droomkamer. (Foto: Cell C)

Julia Sotirianakos, uitvoerende hoof van die Reach for a dream-stigting, Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid in Gauteng, en Natalie Lazaris, sakehoof by die die Reach for a dream-stigting. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is uitstekend, hou so aan en bring die hospitaal terug na sy glorie jare toe dit nog ‘n skoon netjiese plek was waar alles gewerk het.

JvR ·

Die goeie ou dae toe die saalsuster die oggend vroegdie vensters oopgemaak het. (Hospitale het nie meer vensters nie). En die stoepdeure van die saal oopgemaak het sodat vars lug (nog n luukse wat moderne hospitale nie het nie), by die saal kan inkom.

Pretorianooi75 ·

Wonder hoe lank gaan al die wonderlike speelgoed veilig wees in ons Suid Afrika met al sy diewe. Eish hoop dit kan maar so bly.

Harley Davidson ·

In ‘n eerste wêreld land met bevoegde leiers het jy nie privaat hospitale nodig nie omrede die staatshospitale voldoen aan alle vereistes.

tierwyfie ·

Ek hoop dat die kamer skoon en netjies gehou gaan word. Stuur weer I ligting daaroor met foto’s so elke 3 maande dat ons kan sien of dit in stand gehou word.

Magda ·

So bly on iets goeds te sien. Baie dankie aan almal wat deel was van dit, hoop dit sal mooi opgepas word.

George ·

Reach for a Dream het uitgeruik en Cell C het opgestaan en gehelp, om die kinders te help. Die het niks te doen met aparate ens nie, die is sodat siek KINDERS gemakliker in die hospitaal kan wees. Wat van Dankie.

Anel ·

En as dit nie vir privaatorganisasies was nie, sou dit nie gebeur het nie. Maar die regering wil ‘n nasionale gedondheidsorg deur stoomroller…..!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.