Drukgroep mag appelleer oor straf vir onnies wat slaan

(Argieffoto)

Section27 se aansoek om verlof tot appèl is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria toegestaan in sy saak teen die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Saro) rakende twee onderwysers wat leerders aangerand het.

Die organisasie, namens die Sentrum vir Kinderreg en die ouers van die twee leerders, gaan nou voort om hofstukke by die appèlhof in Bloemfontein in te dien.

Die drukgroep het hom in Junie opnuut tot die hof gewend omdat hy ontevrede was met die straf wat Saro die twee onderwyers opgelê het. Hy het die hof gevra om die raad te dwing om sy besluit oor die twee onderwysers se straf te heroorweeg, asook om sy beleid oor verpligte straf vir oortredings van sy etiekkode te hersien.

Saro het die twee onderwysers, Francinah Sathekge en Vangile Mirriam Mokoena, skuldig bevind aan die 2015-aanranding van twee leerders van destyds onderskeidelik sewe en tien jaar oud.

Mokoena het die sewejarige met ʼn plastiekpyp geslaan en ʼn kopbesering veroorsaak. Sy het glo ook ʼn ander leerder geslaan en die kind met ʼn bebloede neus gelaat. Sathekge is daarvan beskuldig dat sy ʼn kind met die hand op die kop geklap het, wat veroorsaak het dat die kind se ore gebloei het.

Saro het die onderwysers met R15 000 beboet en daar is nie van hulle verwag om enige rehabilitasie of opleiding te ondergaan nie. R10 000 van die boete wat opgelê is, is ook opgeskort.

Die onderwysers se vonnis het ook ingesluit dat hul name tien jaar lank van die rol van opvoeders geskrap word, ʼn vonnis wat ook opgeskort is tensy hulle aan ʼn ander oortreding skuldig bevind word, sê Julia Chaskalson, woordvoerder van Section27.

Regter Dawie Fourie het aanvanklik beslis dat die hersieningsaansoek nie onverwyld ingedien is nie, maar dat hersieningsaansoeke wel later ingedien kan word, mits dit in die belang van geregtigheid is.

Hy het verlof tot appèl toegestaan en sê die aansoekers het ʼn redelike kans op sukses dat ʼn ander hof tot ʼn ander gevolgtrekking gaan kom.

Faranaaz Veriava, hoof van onderwys by Section27, sê die saak in die appèlhof is ʼn belangrike stap om groter aanspreeklikheid van onderwysers wat lyfstraf toepas, te verseker.

“Ten spyte van lyfstraf wat sedert 1996 onwettig is, gaan Saro voort om onderwysers skotvry te laat wegkom wanneer hulle aan lyfstraf skuldig bevind word. Ons het ʼn sterker institusionele reaksie nodig om die verbod op lyfstraf af te dwing sodat klaskamers veilig is teen geweld,” sê Veriava.

Volgens haar het Saro in die verlede ligte en ondoeltreffende vonnisse opgelê aan onderwysers wat hulle aan lyfstraf skuldig maak en dat die onderwys se “gewelddadige gedrag” nie gepak is nie. Hulle is ook nie opgelei om alternatiewe maniere van dissipline toe te pas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Cherokee ·

Kan ek ‘n klag lê teen die onderwysers wat my so ‘ses van die bestes’ gegee het, somtyds in die hoof se kantoor? Dit was dekades voor 1996. Maar ek dink nie ek wil nie, dit was deel van my (goeie) opvoeding.

Jannie van Niekerk ·

Ek stem. Elkeen van daai menere en juffrouens wat my gefoeter het het my lewenswaarde geleer.

JohanR ·

Al daai 4’s en 6’se het jou ‘n beter persoon gemaak ne Cherokee? Het my beslis geen skade aangedoen, en die mag het nog bygedra om my te bou. ‘n Stukkie koerant tussen die broek en onderbroek het ook gehulp!

domheks ·

As jy nie wil hoor nie MOET jy maar voel! Ek is ten gunste van lyfstraf. Daar is deesdae GEEN dissipline in skole nie. Geen respek vir onderwysers nie. Elkeen sit net reg met die selfoon om iemand te verkla.

Anonymouse ·

So jy dink dis heeltemal in orde dat kinders teen hulle koppe geslaan word? Die een so erg dat sy ore gebloei het? Ek wonder of jy soveel vergifnis gehad het as dit met jou kinders gebeur het

Gert ·

Nee n goeie pak op die gat is reg teen die kop is mishandeling

Jannie van Niekerk ·

En dan lieg hulle ook nog want kriminele word geglo

Anton ·

Ek is nie geheel teen lyfstraf nie maar as ‘n onderwyser my kind klap dat sy ore bloei moet hy maar solank sy familie groet

Roek ·

Dit is verseker , sommige onnies het ook maar gedink hul kan doen net wat hul wil , in elke beroep lyk vir my is daar iemand wat sy/haar mag misbruik !!

Jannie van Niekerk ·

As jou kind geleer word om ‘n opvoeder te respekteer sal hy nie geklap word dat sy ore bloei nie, As ‘n onderwyser my kind slaan sal ek eers vir die kind vra wat het daartoe aanleiding gegee dat hy gefoeter word en as hy nie respek vir die onderwyser gehad het nie fioeter ek hom ook.

VaalDonkie ·

Dis beter om die onderwyser te vra waarom hy die kind geslaan het, en dan die kind te vra of dit waar is. As jy jou kind vra waarom die onderwyser hom geslaan het, skep jy die indruk dat jy alreeds besluit het hy is skuldig. Dit is hoe kinders dit interpreteer.

Oros Soros ·

Elke saak moet natuurlik op meriete hanteer word. Goedkoop politiek. Daar kan (moet) natuurlik ‘n kriminele saak geopen word wat ander strawwe sal hê as ‘n tugsaak deur die Raad van Opvoeders. Gebruik dit eerder.

Casper ·

Ja en kyk wat se misdadigers word kinders deesdae.Mag nie pak kry by die skool nie mag nie pak kry by die huis nie mag nie gras sny vir straf nie mag nie skottelgoed was vir straf nie,m a w ouers en onderwysers se hande is afgekap.Hoeveel onderwysers word aangerand en vermoor.Ek het geleer ‘n kind se ore sit op sy boude slaan hom daar dan gaan sy ore oop,dit het vir my gewerk en van my ‘n beter mens gemaak

Harley Davidson ·

Die dissipline moet terugkeer na Afrikaanse skole en deel daarvan is die rotang alternatief gaan daar ‘n verlore generasie wees wat agv die swak onderwys stelsel dom en ongedissiplineerd gaan wees .

SjN ·

Die onnie het verkeerd verstaan toe daar gese is sy ore moet oop gemaak word, shame

Marthinus Johannes ·

Hierdie was nie lyfstraf nie, dit was aanranding. Maak siviele sake oop reen hulle en as hul skuldig gevonnis word is hul hul poste kwyt en het dan sommer n kriminele rekord ook.

Gert ·

Hoe gouer dissipline terug kom in die skole en kinders geleer word om groot mense te respekteer, hoe beter vir die land. Tans leer kinders hulle kan maak wat hulle wil sonder gevolge. As die gatte begin brand gaan die ore oop en leer hulle om dit nie weer te doen nie. Die dissiplinêre stelsel tans mors almal se tyd. Waar leer hulle iets op ‘n Vrydag 2 ure na skool?

Christine ·

Hoe gaan die onderwysstelsel die onnies ook beskerm teen aanranding van skoolkinders? Hierdie saak het beide kante. Sommige kinders het reeds kriminele neigings en kom met wapens skooltoe.

VaalDonkie ·

Ek glo nie disipline behoort ‘n skool se werk te wees nie. Daai moet by die huis geleer word. WANT daai ongemanierde kinders is nie bang vir pakslae by die skool nie. Ek onthou hoe ons dit as ‘n grap gesien het om gewetter te word. Dit was seer en al, maar ons het gekyk wie die meeste rottang-hale in ‘n week kon versamel. Ek kon maar net 18 in een week bymekaarmaak, met ander woorde drie keer ses van die bestes. Dit het sommer gejeuk en gebloei, maar jy sit maar ‘n toiletpapiertjie in jou broek sodat dit nie vlek nie.

As jou ouers jou nie respek leer nie, gaan jy dit nie he vir ‘n vreemdeling wat jou seermaak nie. Respek kom van kinders ordentlik behandel en duidelike grense stel.

VaalDonkie ·

As dit nie duidelik genoeg deurgekom het nie: stout wees is aandag soek. Pakslae is aandag.

Prikkie ·

Man amongst boys en boy amongst men.

Sonder die lat in die hand het hulle voete van klei!

Leer die leerders wat respek is deur vir hulle respek te betoon dan sal die leerder vir die opvoeder respek betoon.

VaalDonkie ·

Die onderwysers vir wie ek die meeste respek gehad het, was die wat met my gepraat het soos ‘n mens, nie diegene wat my wou seermaak en verkleineer nie. Ek was eenkeer effe kriewelrig in ‘n klas en die onderwyser vra vir my “is jou gedrag ‘n refleksie op my?” en ek besef dadelik ek is besig om ongeskik te wees, en vra toe om verskoning. Hoekom? Want die ander honderde dae wat ek in sy klas was, het hy my met respek behandel en met my en ander gepraat asof hy respek vir ons as mense gehad het. En ek bedoel nie “respek” soos in “bang” vir jou of jou pa nie. Ek praat van hy het ons behandel soos wat hy wou he ons moes wees, nie soos ons was nie.

Kinders is eenvoudig: hulle gedra hulle soos jy hulle behandel. Dit beteken nie jy moet hulle laat wegkom met goed nie, maar jy moet van hulle verwag om beter te wees, en 99 uit 100 sal inval. Die ander 1 is daar geen salf aan te smeer nie en jy kan hom maar wegjaag want jy gaan hom nie reg slaan nie.

Prikkie ·

Kan ek nou nie MEER saam met jou stem nie!

Dit is juis daardie onderwysers wie nie gedurig ‘n lat loop en rondswaai het, vir wie jy die meeste respek gehad het.

VaalDonkie ·

Ne! Maatskappye betaal duisende Rande om bestuurders op te lei in “active listening” en “empathy”. Maar eintlik al wat dit is, is om mense (veral jou onderlinge) met respek te behandel. En ek bedoel nie “respek vir hule menseregte en goed” nie, ek bedoel jy praat met jou mense asof hulle ook volwassenes met gevoelens, en ‘n lewe buite die werkplek het. “goeie maniere” en “doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil he”.

My spannetjie werk mooi want dis hoe ek hulle behandel. Ek beskerm hulle teen uitbuiting deur die raadslede, en ek vra eers voor ek sommer bel en begin praat, want hulle mag dalk besig wees met iets krities belangrik. Dus is daar wedersydse respek. Die regte lewe is nie die Army waar hulle jou maar soos ‘n stuk gemors kan behandel om jou “tough” te maak nie.

Pietie ·

In my skooldae moes ek kies. Rottang op my hande of my boude. Ons is nooit teen die mop geklap of geskop nie. Ons moes 20 blaaie uitskryf as straf of dieselfde sin n 1000 keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.